Leer om te Vlieg deur Eers te Loop

Tim Dilena

“Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jesaja 40:31).

Dit is een van die wonderlikste verse in die Bybel, maar ons lees dit heeltemal verkeerd. Ons konsentreer op “hulle vaar op met vleuels soos die arende” en slaan die wandel en hardloop gedeeltes oor. Maar om soos ‘n arend te vlieg is nie ons doel nie. Trouens, die meeste dae voel ons nie lus om te vlieg nie – maar ons kan een tree op ‘n slag saam met ons Verlosser gee.

Paulus sê: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Galasiërs 5:16). Let op dat hy sê, “wandel” in die Gees, nie vlieg in die Gees nie. Ons begin nie met ‘n naelloop of in die lug soos die arend nie.

Die Christendom is ‘n lewenswandel van geloof, nie ‘n naelloop van geloof nie. Dit klink miskien vervelig, maar dit is effektief. “Want ons wandel deur geloof” (2 Korinthiërs 5:7). Wandel beteken om basiese, eenvoudige dinge te doen om God te eer – dinge soos om te besluit om te bid, kerk toe te gaan, vir jou geliefdes te sê dat jy hulle liefhet, ontbyt vir jou gesin te maak, jou Bybel op te tel om te lees. Elke daad van gehoorsaamheid is ‘n tree en elke tree sal in jou Geeswandel verander.

As jy een klein stappie van gehoorsaamheid neem, seën God dit. Jy voel dalk nie lus om jou hande op te steek in aanbidding tot die hemelse Vader nie, maar jy doen ‘n bietjie moeite omdat jy Hom liefhet – en God doen die res. Jy voel miskien nie lus om uit te reik na iemand nie, maar jy doen dit omdat jy deernis het en Jesus wil behaag.

Paulus beveel ons om net een tree op ‘n slag te neem. Sit een voet voor die ander en hierdie treë word ons wandel. Die wat loop, is die wat uithou. Diegene wat probeer hardloop en vlieg, word gewoonlik moeg en word nooit weer gesien nie. Dietrich Bonhoeffer, Duitse predikant en teoloog, het dit goed gestel: “Een daad van gehoorsaamheid is beter as eenhonderd preke.”

Besluit vandag dat God jou stap vir stap sal lei terwyl jy jou wandel met Hom nastrewe. Wandel deur geloof (2 Korinthiërs 5:7); hardloop die wedloop met uithouvermoë (Hebreërs 12: 1); en sweef dan soos ‘n arend (Jesaja 40:31).

Nadat hy ‘n middestad gemeente in Detroit vir dertig jaar lank bedien het, het Pastoor Tim vir vyf jaar by Brooklyn Tabernacle in New York Stad en vir vyf jaar in Lafayette, Louisiana bedien. Hy het Senior Pastoor van Times Square Kerk geword in Mei 2020.

Tags