Vertrou Jy op God se Gees?

Gary Wilkerson

Die krag van die Heilige Gees kom na ons toe op verskillende maniere. Eerstens, soos Jesus sê, leer niemand Hom ken tensy hulle deur die Gees weergebore is nie. Daarom, in ‘n sekere sin, woon God se Gees in elke Christen.

Tweedens, is ons geroep om in die Gees te bly, om intiem met Hom in gebed te wees. Derdens, moet ons voortdurend gevul wees met die Gees, en voortdurend van sy fontein van lewende water drink. Niks hiervan beteken dat die Gees ons verlaat nie, maar liewer, dat óns ‘n aandeel in ons verhouding met Hom het.

Laastens, daar is ‘n uitstorting van die Gees wat ons met krag vul, iets wat bo ons vermoë is om op te wek. Jy mag dalk wonder, “As ek deur die Gees gebore is en die Gees in my bly, en ek drink voortdurend van die Gees, waarom moet die Gees op my uitgestort word?” Ons het Hom nodig omdat Hy ons help om ons behoefte vir God te verstaan. Ons sou nooit die werke van sy koninkryk kon doen met ons eie passie of ywer nie. Dit moet van Hom af kom.

Ons dink dalk God kies die vurige persoon, die een wat almal ywerig sal maak vir God. Maar die Here soek ‘n smagtende hart – een wat Hy met sy eie gedagtes, hart en Gees kan vul. Dit beteken dat selfs die mees sagmoedige onder ons kwalifiseer.

Jesus het toe Hy die uitstorting van die Gees beskryf het, gesê: “Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Lukas 2:49). Dit dui op ‘n uitwendige werking van die Gees in ons lewens, iets wat van buite onsself kom. Alle ander werke van die Gees binne-in ons is innerlik – wedergeboorte, inwoning, ons vol drink.

Daar kom ‘n tyd in elke gelowige se lewe wanneer die Gees in ons moet werk op ‘n manier buitekant ons. Ons het Hom nodig om die werk te doen wat nodig is: om te praat, aan te raak en te verlos. Dit is presies wat gebeur het toe die dissipels nie ‘n duiwel kon uitdryf nie. Jesus het vir hulle gesê, “Hierdie geslag kom slegs uit deur gebed en vas” (sien Markus 9:29). Met ander woorde, dit vereis algehele afhanklikheid van God. Ons moet sê, “Ek kan dit nie in my eie krag doen nie. Dit het God se krag nodig.”

Die dissipels moes bid en vas net om een duiwel uit te dryf. Ons staan teen ‘n hele kultuur wat slegs deur gebed en vas verander kan word!