Ons Hande In Syne Plaas

Jim Cymbala

Ons het ons kleindogter help grootmaak en daarom was sy gereeld by ons, en een keer het ons deur Queens gestap. Sy was ongeveer vyf of ses en het ‘n entjie voor ons geloop. Toe het ‘n paar junior straatboewe voor ons om die hoek gekom, en hulle het probeer kwaai lyk, en hul broeke het agter afgehang. Hulle het gevloek, mekaar gestamp en geskree: “Jy het niks. Laat my sien wat jy het.”

Die oomblik toe my kleindogter hulle sien, het sy ‘n bietjie nader aan my gekom. Ons het al hoe nader aan hierdie groep “wannabe”-bendelede gestap, en hulle het almal probeer om so taai op te tree al is hulle feitlik self kinders, maar my kleindogter het dit nie geweet nie. Sy het al hoe nader aan my gekom. Een van hierdie kinders het ‘n ander een gestamp en hy het van die randsteen afgeval.

Skielik het sy haar handjie uitgesteek, myne gesoek, haar hele lyf styf en gespanne. Die oomblik toe ek haar hand neem – dit is ‘n oomblik wat so duidelik in my geheue vasgevang is – het haar hele liggaam ontspan.

Ek kan nie een van die kersgeskenke of dinge onthou wat sy vir my deur die jare gegee het nie, maar ek sal daardie oomblik nooit vergeet nie, want vertroue is kosbaar.

Dit is wat God van ons wil hê. Hy nooi ons uit om Hom te alle tye te vertrou, maar veral as iets ons bang maak. “Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Matthéüs 6:26, AFR53).

Hoe groei ons dan in geloof? Geloof kom deur die belofte en die waarheid te hoor. Die Woord van God het krag om geloof te skep. Wanneer die Skrif sê: “Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11: 1), moet ons oplet dat dit in die teenwoordige tyd is. Dis oomblik vir oomblik.

Geloof beteken om te vertrou; maar meer nog, dit beteken om te vertrou en op iets te steun. In die Ou Testament beskryf Dawid geloof as: “Ek sal na Hom toe hardloop en beskerming onder sy vleuels vind.” Ons is almal in ‘n geloofskool, en God wil geloof in jou en my ontwikkel. Dit is die rede waarom Hy probleme in ons lewens toelaat of dat die antwoord op gebede vertraag word, en so leer ons om Hom te vertrou. Ons vertroue en ... op Hom beteken meer as enigiets anders in hierdie wêreld.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.