Vervulling van Ons Kersfees Doel

Gary Wilkerson

Toe die Here na die aarde toe gekom het om tussen ons te wandel, het Hy ‘n baie spesifieke doel gehad, een wat voor die grondlegging van die aarde vasgestel is. Gebore in Bethlehem, het Jesus gekom met die sending om ons van die Vader te leer, om magtige wonderwerke te doen, om ons van sonde te red en om ons van alle slawerny te verlos.

Daardie soort Verlosser sal natuurlik die aandag van hierdie wêreld se heersende magte trek. Ten spyte van al die dodelike hindernisse wat deur die mense en Satan teen Hom gerig is, was Jesus in staat om sy doel te vervul. Ons sien hierdie donker teëstand aan die heel begin van sy storie:

“En toe Jesus te Bethlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys. En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom” (Matthéüs 2:1-3).

Israel se heerser, Koning Herodes het onmiddellik bedreig gevoel. Hy het verstaan dat iemand wat geïdentifiseer was as ‘n “koning van die Jode,” iemand was in wie die mense hulle hoop sou plaas. Dit het beteken hulle sou wegdraai van die bestaande politiese stelsel wat Herodes aan bewind gehou het.

Herodes was egter nie die enigste een wat ontsteld was nie: “...en die hele Jerusalem saam met hom” (Matthéüs 2:3). Die mense was ook bedreig. Duidelik was hulle tevrede met die dooie, oppervlakkige, godsdienstige stelsel wat deur die leiers uitgedink was. Hulle het verkies om liewer in duisternis te leef as om in die lig te wandel, mense wat “die gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Timótheüs 3:5). Dit blyk of die hele wêreld ontsteld was oor die idee van ‘n Verlosser wat die majesteit, heerlikheid en mag gehad het om mense deur sy goedheid te verander. Hulle was vasbeslote om elke oorblyfsel en residu van die lig van Christus se evangelie uit te wis.

Ons leef in ‘n wêreld baie soortgelyk aan die een waarin Jesus gekom het twee milleniums gelede.

Volgens amper elke nuusbron vandag, is amper almal in Amerika ontsteld oor die idee van ‘n Verlosser soos Jesus. In pas afgelope jare het skoolhoofde, die nasionale media en selfs die Wit Huis sterk – en negatief – gereageer oor die openbare melding van Christus se Naam. Dit moet ons nie verras nie, omdat Jesus voorspel het, dat soos die dag van sy wederkoms nader, sal “die liefde van die meeste verkoel” (Matthéüs 24:12).

Christene is jarelank reeds bewus van wat genoem word die oorlog teen Kersfees. Kriptonele is verwyder uit openbare plekke en skole hou nie meer Kersopvoerings nie, kulturele skuiwe wat absurde hoogtes bereik. By ‘n openbare skool in die noordooste het onderwysers onlangs hulle studente uitgeneem om kersliedere te sing, maar het frases gebruik waar alle verwysings na Jesus vervang is. Dit is soos om ‘n verjaarsdagpartytjie vir iemand te hou sonder om hulle teenwoordigheid te erken by die geleentheid. Dit gaan alles oor koeke en partytjiehoede, terwyl die persoon wat gevier word, geïgnoreer word!

Die groeiende vyandigheid teenoor Kersfees het persoonlik geword. Toe ek onlangs ‘n vreemdeling ‘n “Geseënde Kersfees” toegewens het, het ek ‘n dreigende kyk gekry. Dit bekommer my dat ek myself in die versoeking vind om liewer ‘n eenvoudige “Geseënde Vakansiedag” te gebruik.

Onlangs, toe ‘n nasionale Christelike kinderhospitaal ‘n advertensie aan ‘n TV sportnetwerk voorgelê het, het die netwerk geweier om dit uit te saai, tensy die naam van “Jesus” uit die advertensie verwyder word. Daar was ook ‘n geskil wat die patriarg van die polulêre Duck Dynasty TV program betrek het. Mense het sy bedanking begin eis, omdat hy gesê het die Bybel verskoon nie homoseksualiteit nie. Deur bloot die Skrif aan te haal, was hy ‘n dweper, homobies en haatdraend genoem.

Ek besef hierdie vervolgings is gering in vergelyking met dit wat Christene ly in lande waar Christendom onwettig is. In my besoek aan oor die sestig lande, het ek die daaglikse swaarkry wat gelowiges oorsee verduur, gesien. Tog verseker ek jou dat dinge binnekort erger sal word vir die kerk in Amerika. Pastore in Houston het reeds die risiko geloop om kriminele aanklagte teen hulle te kry, omdat hulle geweier het om hulle preke by die burgemeester se kantoor in te dien. Sy wou vasstel of evangeliese bedienaars gepreek het teen die pro gay wetgewing wat sy wou implimenteer.

Hierdie kwessie gaan al die pad tot by die Wit Huis. ‘n Bekende evangelis was gevra om die gebed by die 2012 Inhuldiging te doen, maar die uitnodiging was teruggetrek nadat dit bekend geword het dat hy verkondig het dat homoseksualiteit ‘n sonde is. Dit is asof ons regering sê, “Julle is nie welkom in ons verdraagsame samelewing nie. Ons sal alles verdra, behalwe as julle jul geloof openlik verklaar.”

Ek probeer nie doelbewus jou Kersfees bederf deur oor al hierdie negatiewe dinge te skryf nie.

Op die huidige oomblik, te midde van die vakansie dolheid, beleef jy moontlik reeds baie spanning. Daarom mag jy wonder, “Waarom nou al hierdie dinge na vore bring? Waarom kan ons nie net daarop fokus om saam met familie te wees en geskenke uit te ruil en ons kinders gelukkig te sien nie?”

Ek skryf oor hierdie onderwerp spesifiek omdat ek oortuig is dat ons kinders dit behoort te hoor. Die kwessies wat ek genoem het, het reeds inbreuk genmaak op primêre skole. Jesus maak dit duidelik dat moeilike tye aan die kom is en die volgende geslag wat Hy oprig, bestaan uit jongmense. Ek wil hê hulle moet almal weet, “As julle hierdie dinge sien kom, moenie vrees nie. Die enigste dinge wat jy hoef te vrees, is om in vrees te leef – om ineenkrimp en terugtrek te leef van die heerlike evangelie waamee Jesus jou toegerus het om met ander te deel.”

Vervolging sal in werklikheid altyd erger word, omdat die evangelie aanhou om diegene wat in duisternis wandel te frustreer. God hou aan om hulle antichristelike pogings omver te gooi en dit maak hulle net kwater. Daarom skryf Johannes, “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word” (Openbaring 22:11). Johannes skryf vir ons voor wat ons reaksie moet wees teenoor die wêreld terwyl dit onreiner en kwater teenoor ons word. Sy woorde eggo Jesus s’n: “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die Koninkryk van die Hemele” (Matthéüs 5:10).

Ek beklemtoon dit omdat die kerk se reaksie vandag skynbaar die teenoorgestelde is. Baie min van ons blyk om gewillig te wees om te aanvaar om vervolg te word sonder om terug te veg. Talle gelowiges wil polities terugveg en sê, “As jy kwaad word omdat ons sê homoseksualiteit is ‘n sonde, dan sal ons net harder praat. Ons getalle sal aandui dat ons reg is.” Daardie gesindheid veroorsaak net meer tweespalt. En wanneer dit lyk of die kerk grond verloor, sluip vrees in eerder as geloof.

Ek sê vir jou, laat Herodes briesend wees – laat die hele wêreld briesend wees – maar laat jou eie hart beheer word deur die liefde van Jesus Christus. Al ons krag lê in sy liefde. Die krag van ons getuienis lê in die verkondiging van sy Woord met barmhartigheid en om heilig te bly te midde van ‘n verdorwe geslag. Hierdie getuienis sal diegene wat in duisternis is, aanmoedig om na die lig te kom en te sê, “Ek wil die vrede en blydskap hê wat daardie mense in hierdie moeilike tye blyk te hê. Ek wil hulle God ken.”

Een van Satan se kragtigste versoekings is om Christene verstrengel te laat raak in ‘n hoofsaaklike politiese ingesteldheid.

Die duiwel maak nie net die wêreld kwater vir ons nie. Hy probeer ons net so kwaad maak soos die wêreld. Hy wil ons laat glo dat ons aanvalle van vervolging kan weerstaan, eerder as om dit te verduur ter wille van die evangelie. In die proses, soek Hy om ons diepe vrede te vervang met stryd.

Ek erken ek het ‘n slagoffer van hierdie versoeking geword. Toe ek gehoor het van wat die sportnetwerk gedoen het, het ek ‘n kwaai brief vir hulle geskryf. Terwyl ek egter geskryf het, het ek die vrede van God se Gees uit my voel weggaan. Ek het besef dat ek dit moes aanpas. Waarom? Dit was nie omdat ek bang was vir die netwerk nie; ek is nie. Wat ek vrees, is om die hart van Jesus te verloor. Dit kan met enigeen gebeur wat toegee aan die versoeking om die wêreld met wêreldse wapens te bestry.

Ek sien dit in sommige Christelike nuusbriewe waarvoor ek ingeskryf is. Terwyl hulle ernsitg kritiek gelewer het teen sekere kulturele magte, het ek dieselfde verlies aan vrede ervaar as toe ek my eie brief geskryf het. Soms lyk dit asof die kerk betrokke raak in ‘n skaakwedstryd met die sekulêre wêreld en skaakstukke strategies rondskuif met een doel in gedagte: om die kultuuroorlog te wen. As ons nie versigtig is nie, sal ons diepe betrokkenheid by hierdie oorlog ons dreineer van al die sout en lig wat Christus vir ons gegee het om sy Kersfees doel te bereik.

As enigeen die reg gehad het om woedend te wees, was dit Jesus. Dink aan die afgryslike volksmoord wat plaasgevind het in Israel toe Hy gebore is. “’n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm” (Matthéüs 2:18). Jesus het grootgeword in ‘n kultuur waar daar geen seuns van sy ouderdom was nie, omdat hulle almal vermoor is. Toe Christus ‘n mens geword het, kon Hy gesê het, “Herodes sal betaal vir wat hy gedoen het. Hy het al my Joodse broers doodgemaak en daarom sal Ek hom nou verslaan.”

Ons Here het dit nie gedoen nie. In plaas daarvan, het Hy as ‘n jongman van dertig, begin om goeie nuus te verkondig – die siekes gesond gemaak, wonderwerke verrig en selfs die dooies opgewek. Kortliks, Hy het Hom besig gehou met sy Vader se werk. Selfs toe Herodes Antipas Hom wou doodmaak, het Jesus sy fokus behou. Sommige Fariseërs het hom gewaarsku, “Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring!” (Lukas 13:31). Luister na Christus se diepgaande antwoord: “Gaan vertel daardie jakkals: Kyk Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre...” (Lukas 13:32).

Jesus gebruik “jakkals” hier in ‘n kulturele verband. Jakkalse was nie gesien as “slu” nie, maar as ‘n dodelike bedreiging vir skape, hoenders en vee en het gekom om te vermoor, te steel en te verslind. Jesus het Herodes geïdentifiseer as daardie soort bedreiging. Selfs toe het Hy egter nie in ‘n stryd betrokke geraak met die koning nie. In plaas daarvan het Hy vasbeslote bygevoeg, “Maar Ek moet vandag en môre en die volgende dag verder gaan” (Lukas 13:33).

Hy het met ander woorde gesê: “Ek sal aanhou doen presies waarmee Ek besig is. Ek sal die siekes gesond maak, duiwels uitdryf en brood en visse vermeerder om die hongeriges kos te gee. En ek sal nie gesteur word deur vervolging nie, maak nie saak hoe erg dit word nie. So, gaan voort en dreig My en die kerk wat ná My kom. Ek sal aanhou genees, red en verlos – en my Woord sal oor alles triomfeer. Ek sal kom om my doel te vervul om alle gevangenes vry te laat.”

Mag Jesus se Kersfees doel ons harte ten volle vul hierdie seisoen. Laat die wêreld kantel op sy donker pad. Dit sal nie ons magtige Verlosser keer om sy sending te voltooi nie. Ek het nog nooit gehoor van iemand wat na Christus gekom het deur ‘n openbare kriptoneel nie, maar ek ken talle wat gewen is deur sy liefde. Mag ons by sy doel bly, wat ons hoopvolle roeping is: “Daar is vryheid in Jesus Christus. Halleluja! Hy het gekom om jou vry te maak!”