‘n Droë Tyd | World Challenge

‘n Droë Tyd

David WilkersonFebruary 1, 1979

Ek preek vir duisende, maar daar is tye waarin ek baie droog voel – so ver weg van die warm teenwoordigheid van God af. In hierdie oomblikke van droogheid, het ek geen begeerte om die Woord te lees nie – die lees van die Bybel word gedoen net uit ‘n gevoel van plig. Wanneer ek droog en leeg is, voel ek min dringendheid om te bid. Ek weet my geloof is ongeskonde en my liefde vir Jesus is sterk. Daar is geen begeerte in my om die dinge van die wereld te smaak nie. Dit is net dat ek skynbaar nie in voeling kan kom met God in daardie dae en weke van geestelike droogheid nie.

Het jy al ooit in die kerk gesit en kyk hoe diegene rondom jou almal geseën word, terwyl jy niks voel nie? Hulle huil; hulle bid; hulle aanbid met geweldige gevoel. Maar jy word nie aangeraak nie – glad nie. Jy begin wonder of daar iets verkeerd is met jou geestelik lewe. Christene oral om jou vertel hierdie wonderlike stories van hoe God hulle seën en al hulle gebede verhoor. Dit lyk of hulle op ‘n bergpiek van gelukkige belewenisse is, terwyl jy net voortploeter, Jesus liefhet, maar nie die wêreld aan die brand steek nie. Sommige van jou gebede is nog nie verhoor nie. Jy roep nie uit of gee ‘n emosionele vertoon nie. Jy het geen groot stories om te vertel oor een of ander wonderwerk wat jy beleef het nie. Dit is amper asof jy soos ‘n tweedeklas gelowige voel.

Ek glo dat alle ware gelowiges droë tye beleef op verskillende tye in hulle Christelike lewe. Selfs Jesus het die afsondering gevoel – toe Hy uitgeroep het, “Vader, waarom het U My verlaat?”

Nota’s uit my dagboek – tydens ‘n droë tyd

Ek hou notas van amper elke gedagte wat ek ontvang in my nagtelike oordenkings. Onlangs, tydens ‘n droë tyd, het ek my gevoelens opgeteken. Ek dink daar is baie Christene wat hulle kan vereenselwig met hierdie eerlike aantekeninge wat in my dagboek gemaak is.

‘n Nota van waarskuwing voor jy hierdie baie persoonlike belydenis lees: as ek praat van die sonde in my eie lewe – moenie dit interpreteer as een of ander gruwelike, openlike vertoonde swakheid is nie. Vir my is alles, wat nie uit geloof is nie, sonde. Ons het almal gesondig en dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God. Ek verval dikwels in die groot sonde van twyfel. So, asseblief, moenie iets onbedoeld in my belydenis van sonde lees nie. Dink aan jou eie sonde terwyl jy lees.

Ek wonder waarom God soms so ver voel. Is Hy kwaad vir my? Moet Hy Homself vir my verberg as gevolg van mislukkings in my lewe? Hou God my op een of ander manier terug, gebind deur ‘n kontrak in Sy Heilige Woord wat aandring dat Hy Sy oë in my rigting moet toemaak as gevolg van my hardkoppigheid?

Veroorsaak sonde ‘n skeiding? Is God regtig daar en wil Hy deurbreek na my met oorweldigende blydskap en vrede – maar kan nie as gevolg van ‘n hindernis wat ek opgerig het weens ‘n boesemsonde? Moet Hy Homself verberg – teen Sy eie wil – omdat Hy Sy Woord eer bo Sy Naam? Hy het weggebly van Israel af in tye van afvalligheid. Moet Hy van my af wegbly vir ‘n rukkie totdat ek die afgryse van my sonde sien en daarvan af wegvlug?

Raak Hy uiteindelik moeg van my gedurige mislukkings en moet Hy my vir ‘n rukkie uitsluit net omdat Hy my so liefhet? Dring Sy alwetende liefde daarop aan dat Hy my afskei van Sy teenwoordigheid totdat ek breek en oorgee soos ‘n kind wat hom onderwerp – moeg vir my leegheid en wanhoop?

Of is al hierdie droogheid ‘n gevolg van my eie blindheid? Is dit net ‘n gevolg van leef volgens gevoelens? Is Hy die heeltyd daar, ten spyte van my mislukkings en wag Hy vir my om Sy vergifnis te aanvaar? Voel ek afgeskei slegs omdat ek beskaamd en belas is met skuldgevoelens? Vermy ek Hom omdat ek weet ek Sy seëninge nie waardig is nie? Het die kennis van my swakhede my laat glo ek het geen reg om sy nabyheid en vertroosting te verwag nie?

Ek is nie morbied nie; ek het geen begeerte om te sterf nie. Dit is nie net nagtelike “blues” nie. En nie een keer betwyfel ek my ewige verlossing nie. Waarin ek wel twyfel, is my vermoë om God se werke te verstaan. Ek het nog altyd die krag gevoel van Sy groot liefde. Selfs in my droogste ure, is die gevoel van Sy liefde amper oorweldigend. Maar dit is nie genoeg om te weet die Vader het jou lief nie. Dit is nie genoeg om te glo in al Sy beloftes nie. Dit is nie genoeg om te weet jy wil die Here hê met alles wat in jou is nie. Daar moet meer wees.

Daar moet die nabyheid van die Here wees. Die kalm, sagte stem. Die blydskap van daardie stem hoor. Die wete dat Hy nie net in jou woon nie, maar dat Sy woord selfs in jou mond is. Die hart moet Sy warmte voel. Die gloed van God se teenwoordigheid moet die kamer vul. Al die trane wat opgebottel is aan die binnekant, moet ‘n uitlaatklep kry. Die blydskap van Jesus moet deur al die gangetjies van die gedagtes stroom. Die hart moet weet dat Hy kom om te lei, te vertroos, te help in die uur van nood. Daar mag geen twyfel wees nie – geen kwessie nie – dat God gekies het om te kom en met Sy dienaar gemeenskap te hou.

Sonder die nabyheid van God, kan daar geen vrede wees nie. Die droogheid kan slegs gestop word deur die versekering dat God verhoor. Die vuur van die Heilige Gees moet die gedagtes, liggaam en siel warm maak.

Ek wil God se totale teenwoordigheid hê. Ek wil in Sy rivier van liefde vloei. Ek wil volkome vergifnis van al my sonde hê. Maar meer as vergifnis – wil ek vryheid hê. Wat is vergifnis sonder vryheid? Ek weet die Here het belowe om my sewe maal sewe keer op een dag te vergewe. Ek weet Sy liefde en vergifnis is vir alle geslagte. Ek weet dat as ek my sondes bely, is Hy getrou en regverdig om te vergewe – en om my te reinig. Maar dit is nie genoeg om vergewe en gereinig te wees van gister se sondes nie. Ek het vryheid nodig van die mag van die sonde wat my so maklik verstrik. Vryheid van al die slawerny van alle passies. Vryheid van die kettings van alle ongeregtigheid

Ek weet God se Woord belowe vryheid. Ek ken al die vele Skrifte wat praat van “wandel in die Gees,” om nie die begeertes van die vlees te vervul nie. Ek ken al die waarskuwings om van alle begeertes af weg te vlug. Ander Skrifte oorstroom my gedagtes insake die wêreld “oorwin.” Maar daar is tye waarin ek skynbaar nie die sleutel kan kry nie. Hoe werk daardie verse op ‘n praktiese manier in my alledaagse lewe? Wat beteken dit werklik om “in die Gees te wandel”? Beteken dit jy sal nooit weer val nie? ‘n Kind hou aan val terwyl hy leer om te loop. Selfs volwassenes struikel en val. Kan jy val – selfs terwyl jy in die Gees wandel – opstaan en weer loop – en sterker word soos jy gaan?

Maar God, U moet daar wees! As U nie daar is in my tye van droogheid nie, is daar geen hoop nie. U moet daar wees, na my roep – na my stem verlang – na my hunker soos ‘n vader sy kind jammer kry. Indien nie – het die lewe geen betekenis nie.

Hy kan nie moed verloor met my wanneer ek hartseer is nie. Ja, my vlees is swak. Ja, ek stel Hom teleur – weer en weer. Ja, ek het vir Hom gesê hoe jammer ek is – ‘n duisend keer hierdie jaar. Ja, ek het belowe om die wêreld en alles wat daarin is te laat staan. Tog, kan ek skynbaar soms nie my woord hou nie. Ja, daar is ‘n paar keer wat ek voel soos die slegste sondaar; ‘n bedrieër; ‘n niksnut; ‘n ontroue, nuttelose kind. Ja, ek voel nie ek is waardig om ooit van Hom te verwag om naby my te kom wanneer ek so goedkoop en ondankbaar voel nie.

Maar, ten spyte van dit alles, weet ek Hy is nie ver nie. Op een of ander manier, hoor ek ‘n duidelike, sagte stem roep, “Kom, my kind – Ek is bewus van alles wat jy beleef. Ek het jou steeds lief. Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie. Ons sal dit alles saam beleef. Ek is steeds jou Vader – en jy is My kind. Kom, nie op grond van jou verdienste of goedheid nie, maar kom op grond van die verdienste van jou Saligmaker – Jesus die Here!”

Op een of ander manier weet ek Hy sal my uit hierdie droë tyd haal. Ek het binne-in my ‘n vlam wat nie geblus kan word nie. Dit kom voor of ek weet die beloftes sal vervul word. Op Sy tyd, op Sy manier, sal Hy my droogheid verander in ‘n rivier van liefde. Sy Woord sal na my toe kom. ‘n Nuwe openbaring van Sy wil. ‘n Verkwikte gees en meer vrede. Alles net omdat Hy my voorheen nie een keer teleurgestel het nie.

O, God! Ek het voete van klei. My verstand is sterk in geloof. My hart smelt vir U. My trane is warm met begeerte vir die aanraking van die Here. Maar my voete hou aan om my te laat afdwaal. Ek wandel nie in die Gees soos wat ek graag sou wou nie. Waar is daardie dag-vir-dag oorwinning? Waar is die krag om myself heilig en rein te hou?

God, ek deursoek die Skrifte, met die hoop om ‘n formule te vind – ‘n manier uit die slawerny van sonde. As dit beteken om op my knieë te bly die hele nag, dan sal ek dit doen. Beteken dit om my Bybel deur te lees – totdat ek op ‘n duidelike boodskap van verlossing afkom? Dan sal ek lees en lees! Die meeste van die clichés en maklike oplossings voorgestel deur predikers werk nie – selfs al klink dit vroom.

Iewers moet daar oorwinning oor al die mag van die vyand wees. Êrens moet ek die las, die vrag, die teistering eenkant kan skuif. God belowe algehele vryheid, totale oorwinning oor die mag van die vyand. Eendag sal my voet nie langer in Satan se strik gevang word nie. Eendag sal ek in my hart kyk en slegs Jesus sien – slegs heiligheid – slegs die dinge wat God behaag.

Eendag moet God al Sy kinders lei na ‘n plek van vryheid van sonde se mag. Die Woord van God is so wyd. Ek weet so min van hoe om die antwoorde op my persoonlike behoeftes te vind. Die enigste hoop is dat die Heilige Gees my bonatuurlik sal lei na die waarheid wat my sal vrymaak. Ek kan dit self nie vind nie. Ek kan dit nie uit boeke van beraders kry nie. Ek kan nie iets daarvan verstaan sonder dat die Heilige Gees dit aan my openbaar nie. Ek wil weet wat God van my verwag; ek wil weet hoeveel my deel is en hoeveel Syne is!

O God, reinig my begeertes. Laat my daardie dinge begeer wat U weet die beste vir my is. As U vir my alles gee wat ek begeer, sou dit ‘n malhuis van verwarring wees, met geen orde of harmonie oor nie. Al my menslike begeertes is blind! Dit pas gewoonlik nie by my ware behoeftes nie en is dikwels teen God se sedelike wette.

Dit is so maklik om te begeer wat die grootste skade aan my sou doen en sou lei tot die ergste ellende en die tragieste soort verwarring bring. Ek dink aan my begeertes as goed uitgedink, intelligent en nodig vir my welstand.

Sonde veroorsaak dat my begeertes losgemaak word van God se sedelike wet. Op die ou end is dit die skuim van die innerlike aptyte. Sielshonger, aspirasies, begeertes en passies sal stink na allerhande soorte wanorde. Hulle is skimme sonder begrip.

Wat is die oorsprong van baie van my begeertes? Nie van ‘n fontein van rede en gesonde verstand nie; maar in plaas daarvan word hulle word aangesteek deur begeertes van die ou natuur. Hulle stroom uit my gedagtes uit soos onbesonne troepe – verward, blind en in algehele wanorde. Hulle swerm soos bye – vinnig en wild.

Soos die tyd verbygaan, ontdek ek heel dikwels hoe nutteloos en dwaas my begeertes was. Ek begeer om ‘n nuwe projek te onderneem en dit val plat voor ek kan begin. Later, kom ek agter my teleurstelling was ‘n bedekte seën. As God nie ingemeng het en daardie begeertes van my weerhou het nie, sou ek myself vernietig het.

My begeertes kan dikwels sedelik baie sleg wees. Hulle kan besmet wees met wellus. Daar is ‘n hele geslag van begeertes wat onder die oppervlak loer, en wat heeltyd op ons afgedwing word deur ons Adam-natuur – wat altyd inbreuk maak op ons gedagtes, meng met ons diepste en heiligste gedagtes, en probeer dat die verstand dit aanvaar as God se gedagtes.

Heel dikwels, is my persoonlike begeertes so dominant, so diep gesetel, dat dit my gedagtes in die binnekamer onderbreek. Hulle word so sterk en knaend, dat ek hulle toelaat om my te mislei om hulle te aanvaar as die kalm, sagte stem van God in die innerlike mens. Mag God my bewaar van misleiding van my eie onsedelike begeertes.

Wat sal ek doen om my geestelike droogheid te oorwin?

1. Ek moet ‘n lewe van gebed handhaaf!

Waarom is dit dat nie een van ons meer bid soos ons behoort te bid nie? Ons weet dat God ons wil troos en help. Ons weet dat al ons laste gelig kan word wanneer ons afsonder met Hom. Daar is iets diep binne-in ons wat ons aanhou roep tot gebed. Dit is die Heilige Gees wat sê, “Kom.” Kom na die water wat daardie sieledors les. Kom na die Vader wat medelye het met Sy kinders. Kom na die Here van die lewe wat belowe om elke sonde wat gepleeg is te vergewe. Kom na die Een wat weier om jou te veroordeel, of jou te verlaat, of Homself van jou te verberg.

God verberg Homself nie vir ons wanneer ons sondig nie. Nooit nie! Dit is slegs ons vrees wat ons harte veroordeel. God het Homself nie verberg in die tuin toe Adam en Eva gesondig het nie. Hy het steeds na hulle gekom en gehunker na hulle gemeenskap en liefde. Ons kruip self weg – weens ons skuld en veroordeling. Ons kan nie glo God het ons steeds lief as ons so ongehoorsaam en ondankbaar is nie.

Kom met vrymoedigheid na die die troon van genade – selfs wanneer jy gesondig en teleurgestel het. Hy vergewe – almal wat berou het met goddelike droefheid – onmiddellik. Jy hoef nie ure en dae deur te bring met berou en skuld nie. Jy hoef nie jou pad terug in Sy goeie boekies te verdien nie. Jy hoef nie voor te gee met ‘n oppervlakkige soort droefheid of geveinsde trane nie. Gaan na die Vader – buig jou knieë en maak jou hart oop – en huil jou smart en pyn uit. Vertel vir Hom van al jou mislukkings – van al jou gesukkel. Vertel vir Hom van jou eensaamheid, van jou gevoelens van isolasie, van jou vrese, van jou teleurstellings.

Ons probeer enigiets behalwe gebed. Ons lees boeke en soek na formules en riglyne. Ons gaan na vriende, na bedienaars, na raadgewers – en soek oral vir ‘n boodskap van troos of advies. Ons soek middelaars en vergeet die een Middelaar wat die antwoord tot alles is.

Ons bid nie, omdat dit so moeilik is om te doen – die meeste van die tyd. Dit is nie moeilik wanneer probleme onverwags opduik nie. Kanker slaan toe – of ‘n geliefde sterf skielik aan ‘n hartaanval. Dit is goed so. Maar ons behoort op Jesus te leun in die goeie én die slegte tye. Ons behoort ons krag en hulp te kry lank voor die krisis ons oorweldig. Ons behoort ons harte voor Hom uit te stort elke dag van ons lewens.

Dit is geen wonder ons is so leeg en droog nie. Ons het bloot die binnekamer van gebed verwaarloos. Dit is nie werklik droogheid nie – dit is louwarmheid. Dit is ‘n toenemende koudheid veroorsaak deur wegdryf van die allerheiligste af.

Niks verdryf droogheid en leegheid vinniger as ‘n uur of twee afgesonder met God nie. Om daardie afspraak met God in Sy binnekamer uit te stel, veroorsaak skuldgevoelens. Ons weet dat ons liefde vir Hom ons in Sy teenwoordigheid sou inlei, maar ons maak onsself so besig met so baie ander dinge – tyd gaan verby, en God word uitgelaat. Ons werp ‘n hele reeks “gedagte gebede” in Sy rigting. Maar niks kan die plek van daardie binnekamer – met die deur gesluit – inneem nie, biddend tot die Vader in daardie afsondering! Dit is die oplossing vir elke droë tyd.

2. Ek moenie langer bang wees vir ‘n bietjie lyding nie.

Christus se opstanding was voorafgegaan deur ‘n kort periode van lyding. Ons sterf! Ons ly! Daar is pyn en droefheid!

Ons wil nie ly nie! Of weerstaan nie! Of skade ly nie! Ons wil ‘n pynlose verlossing hê! Ons wil bonatuurlike ingryping hê. “Doen dit, God” bid ons, “omdat ek swak is en altyd sal wees. Doen dit alles, terwyl ek my gang gaan, wagtend vir ‘n bonatuurlike verlossing!”

Of, ons blameer ons probleme op demone! Ons soek na ‘n man van God en hoop hy kan hom uitdryf – sodat ons ons gang kan gaan met geen pyn of lyding nie – alles gedoen! Sweef reguit na ‘n vredevolle lewe van oorwinning! Ons wil hê iemand moet hande op ons lê en al die droogheid verdryf. Maar oorwinning is nie altyd sonder pyn en lyding nie. Kyk na jou sonde! Kyk dit in die oë! Ly daardeur soos Jesus gely het. Maak Sy lyding vol! Betree dit! Saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig.

God stel jou voor ‘n keuse. Sy liefde vereis ‘n keuse. As God ons bonatuurlik uit elke stryd gehaal het sonder pyn of lyding, sou dit alle beproewings, alle versoekeings stop – daar sou geen vrye keuse wees nie, geen loutering soos deur vuur heen nie. Dit sou wees asof God Sy wil op ons afgedwing het. Hy kies om ons in ons droogheid tegemoet te kom en vir ons te wys hoe dit die weg na ‘n nuwe lewe van geloof word.

  • Dit is dikwels volgens die wil van God om droogheid te ly – en selfs pyn.

“So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade” (1 Petrus 4:1).

  • Maar dank God – lyding is altyd daardie kort periode voor uiteindelike oorwinning!

“En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ’n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” (1 Petrus 5:10).

Download PDF