Wanneer Jy Seerkry | World Challenge

Wanneer Jy Seerkry

David WilkersonDecember 1, 1978

Op een of ander manier, ly ons almal. Almal is in dieselfde bootjie. Selfs die laggende, ongeërgde skare ly. Hulle probeer hulle seerkry wegsteek deur te drink en grappe te maak – maar dit wil nie weggaan nie.

Wie ly? Die ouers van ‘n verlore seun of dogter. Miljoene ouers is diep seergemaak deur ‘n kind wat hulle raad verwerp het. Daardie liefhebbende ouers rou oor die misleiding en misdadigheid van ‘n kind wat eens liefdevol en goed was.

Die slagoffers van gebroke huise ly. Die verlate vrou wat verwerp is deur haar man vir ‘n ander vrou. Die man wat die liefde van ‘n vrou verloor het. Die kinders wat hulle sekuriteit verloor het.

Ander ly aan siekte. Kanker, hartprobleme en ‘n menigte ander menslike siektes. Om deur ‘n dokter vertel te word, “Jy het kanker – jy kan sterf!” moet skrikwekkend wees. Maar baie wat hierdie boodskap lees, beleef soveel pyn en foltering.

Minnaars breek op. ‘n Kêrel of meisie loop weg en trap op dit wat eens ‘n pragtige verhouding was. Al wat oorbly, is ‘n gebroke, gewonde hart.

En wat van werkloosheid? Die moedeloses wie se drome in duie gestort het? Die vasgekluisterdes? Die gevangenes? Die homoseksueel? Die alkoholis?

Dit is waar op een of ander manier – ons ly almal. Elke mens op aarde dra sy eie las van pyn en lyding.

Daar is geen fisiese kuur nie

Wanneer jy diep seergemaak is – kan geen mens op hierdie aarde die innerlike vrese en diepste pyn stil nie. Selfs die beste vriende kan nie werklik die stryd waardeur jy gaan of die wonde wat jou toegedien word verstaan nie.

Slegs God kan die golwe van depressie en gevoelens van eensaamheid en mislukking wat oor jou kom, stil. Geloof in God se liefde alleen kan die seergemaakte gemoed herstel. Die verbryselde en gebroke hart wat in stilte ly kan slegs genees word deur ‘n bonatuurlike werk van die Heilige Gees – en niks minder nie as goddelike ingryping werk regtig.

God moet ingryp en oorneem. Hy moet ons lewens onderskep by die breekpunt en Sy liefdevolle arms uitstrek en daardie seer liggaam en gemoed onder Sy beskerming en sorg bring. God moet na vore tree as ‘n sorgsame Vader en demonstreer dat Hy daar is en dinge ten goede laat meewerk. Hy moet met Sy eie krag die stormwolke wegneem – die wanhoop en somberheid wegjaag – al die trane afvee – en die smart vervang met vrede in die gemoed.

Waarom ek – Here?

Wat die seerste maak, is dat jy weet dat jou liefde vir God sterk is – maar jy kan skynbaar nie verstaan wat Hy in jou lewe probeer doen nie. Jy sou kon verstaan waarom gebede onverhoor bly indien jy koud teenoor Sy liefde was. As jy van God af weggeloop het, sou jy waarskynlik kon verstaan waarom die toetse en ernstige beproewings aanhou kom. As jy ‘n volslae sondaar was wat die dinge van God verag het, sou jy jouself sover kon bring om te glo jy verdien om sleg seergemaak te word. Maar jy hardloop nie weg nie – jy verwerp Hom nie op enige manier nie. Jy verlang om Sy volmaakte wil te doen. Jy smag daarna om Hom te dien met alles wat binne-in jou is. En dit is waarom jou seerkry so verlammend is. Dit laat jou voel of daar iets verskriklik verkeerd is met jou. Jy bevraagteken jou geestelike diepte; en soms, bevraagteken jy selfs jou gesonde verstand. Van iewers af diep binne-in jou, fluister ‘n stem, “Miskien is ek op een of ander manier foutief! Miskien word ek so diep seergemaak omdat God nie veel goed in my kan raaksien nie! Ek moet so buite Sy wil wees, dat Hy my moet tugtig om my gehoorsaam te maak.”

Vriende probeer so hard om te help

‘n Verbryselde en gebroke hart veroorsaak die mees folterende pyn bekend aan die mensdom. Die meeste ander menslike lyding is slegs fisiek. Maar ‘n hart wat seergemaak is, moet ‘n pyn ly wat beide fisiek en geestelik is. Vriende en geliefdes kan help om die fisieke pyn van ‘n gebroke hart te help stil. Wanneer hulle daar is, lag, liefhê en sorg, lig die fisieke pyne en daar is tydelike verligting. Maar die nag kom en daarmee saam kom die angs van geestelike pyn. Pyn is altyd erger in die nag. Eensaamheid val soos ‘n wolk wanneer die son verdwyn. Die hartseer bars uit wanneer jy heeltemal alleen is en probeer verstaan hoe om die innerlike stemme en vrese te hanteer wat aanhou opduik.

Jou vriende wat regtig nie verstaan waardeur jy gaan nie, bied allerhande maklike oplossings. Hulle raak ongeduldig met jou. Hulle is oor die algemeen gelukkig en sorgvry op daardie tydstip en hulle kan nie verstaan waarom jy nie net daaruit sal “snap” nie. Hulle dink jy gee jouself oor aan selfbejammering. Hulle herinner jou dat die wêreld vol gebroke, hartseer mense is wat oorleef het. Meer dikwels wil hulle daardie “eenmalige, alles-genesende, alles-oplossende” gebed bid. Jy word aangesê om “jou geloof vry te stel, ‘n belofte op te eis, ‘n genesing te bely en weg te loop van jou wanhoop af.”

Dit is alles goed en wel, maar dit is prediking wat gewoonlik kom van Christene wat nog nooit baie lyding in hulle eie lewens geken het nie. Hulle is soos Job se “baba-oppassers,” wat al die antwoorde geken het – maar wat sy pyn nie kon verlig nie. Job het van hulle gesê, “Julle is almal geneeshere sonder waarde.” Dank God vir vriende wat goed bedoel, maar as hulle jou pyn vir slegs een uur kon beleef, sou hulle hul deuntjies verander het. Stel hulle net een keer in jou plek, om te voel wat jy voel, die innerlike pyn te ly wat jy ly en dan sou hulle vir jou sê, “Hoe op die aarde kan jy dit hanteer? Ek sou nie kon hanteer waardeur jy gaan nie.”

Tyd genees niks nie!

Dan is daar daardie ou cliché, “Tyd genees alles.” Jy word aangesê om uit te hou, ‘n glimlag op jou gesig te sit en te wag vir tyd om jou pyn te verdoof. Maar ek vermoed dat al die reëls en clichés oor eensaamheid uitgedink is deur gelukkige mense wat nie ly nie. Dit klink goed – maar dit is nie waar nie. Tyd genees niks nie – net God genees.

Wanneer jy ly, sal tyd slegs die pyn vererger. Dae en weke gaan verby en die lyding duur voort. Die seer wil nie weggaan nie, maak nie saak wat die kalender wys nie. Tyd mag die pyn dieper in die verstand indruk, maar een herinnerinkie kan dit na vore bring.

Eerlikwaar, dit help nie veel om te weet dat Christene voor jou – deur die eeue heen – gely het nie. Jy kan identifiseer met die lyding van die Bybelkarakters wat geweldige beproewings van pyn oorleef het. Maar wetend dat ander deur groot stryd gegaan het, veroorsaak nie dat die hartseer in jou eie hart stilgemaak word nie. As jy lees hoe hulle seëvierend uit hulle stryd gekom het – en jy het steeds nie – dra dit net by tot jou hartseer. Dit laat jou voel asof hulle baie naby aan God was om sulke verhoring op hulle gebede kry. Maar, dit laat jou onwaardig voor die Here voel, omdat jou probleem voortduur – ten spyte van al jou geestelike pogings.

Dubbele probleme

Mense kry selde net een keer seer. Die meeste mense wat ly, kan vir jou ander wonde ook wys. ‘n Gebreekte hart is gewoonlik ‘n teer, kwesbare een. Dit word maklik gebreek omdat dit nie beskerm word deur ‘n harde dop nie. Teerheid word verwar met kwesbaarheid deur die harde-dop hart. Stilheid word misgis met swakheid. ‘n Algehele oorgawe van jouself aan iemand anders word verwar met “te sterk oorkom.” Die hart wat nie bang is om sy behoefte vir liefde te erken nie, word verkeerd verstaan as “te seksueel georiënteerd.”

Dit volg dan dat ‘n sagte hart wat uitreik na liefde en begrip, dikwels die maklikste is om te breek. Harte wat oop en vertrouend is, is gewoonlik die wat die seerste gemaak word. Hierdie wêreld is vol mans en vroue wat die liefde, wat aan hulle gegee was uit ‘n hart wat sag en liefdevol is, verwerp het. Daardie sterk harde-dop harte wat steeds niemand vertrou nie – harte wat so min gee – harte wat eis dat liefde heeltyd bewys word – harte wat altyd bereken – harte wat altyd manipuleer en selfdienend is – harte wat bang is om te waag – daardie harte word selde gebreek. Hulle word nie seergemaak nie omdat daar niks is om te seer te maak nie. Hulle is te trots en selfgesentreerd om toe te laat dat iemand hulle op enige manier laat ly. Hulle gaan rond en breek ander harte en trap op die kwesbare siele wat hulle lewens aanraak – bloot omdat hulle self te dik en dom in die hart is en dink almal behoort net soos hulle te wees. Die harde hart hou nie van trane nie. Hulle haat verbintenis. Hulle voel versmoor wanneer gevra word om hulle eie harte te deel.

Hartebrekers kom nie maklik daarmee weg nie!

Deel van die pyn wat ‘n gebroke hart moet ly, is die gedagte dat die oortreder, die hartebreker, gaan wegkom met dit alles. Die hart sê, “Ek is die een wat seergemaak en gewond is – maar ek is die een wat die prys betaal. Die oortreder kom skotvry los – waar hy moet betaal vir wat hy gedoen het.” Dit is die probleem met kruise – die verkeerde een word dikwels gekruisig. Maar God hou boek en op die Oordeelsdag, sal die boeke gebalanseer word. Maar selfs in hierdie lewe, betaal hartebrekers en die wat mense skade doen ‘n hoë prys. Dit maak nie saak hoe hulle probeer om hulle skadelike dade te probeer regverdig nie, hulle kan nie die roepstem van die een wat hulle seergemaak het, uitdoof nie. Soos die bloed van Abel wat uitgeroep het uit die grond – kan die roepstemme van ‘n gebroke hart die grens van tyd en ruimte deurdring en die hardste van harte terroriseer. Hartseer word gewoonlik veroorsaak deur volslae leuens. En elke leuenaar moet uiteindelik voor die regterstoel gebring word.

Is daar ‘n salf vir ‘n gebroke hart? Is daar genesing vir daardie diep, innerlike hartseer? Kan die stukke weer teruggesit word en die hart selfs sterker gemaak word? Kan die persoon wat so ‘n verskriklike pyn en lyding beleef het, uitstyg bo die as van depressie en ‘n nuwe en kragtiger manier van lewe vind? Ja! Absoluut ja! En indien nie, dan sou God se Woord ‘n leuen en God self ‘n leuenaar wees. Dit kan nie wees nie!

Laat my met jou ‘n paar eenvoudige gedagtes deel oor hoe om jou hartseer te hanteer.

1.Hou op om te probeer uitpluis hoe en waarom jy seergekry het!

Wat met jou gebeur het, is ‘n baie algemene kwelling onder die mensdom. Jou situasie is glad nie uniek nie. Dit is die weg van die menslike natuur. Of jy reg of verkeerd was, beteken op hierdie stadium absoluut niks nie. Al wat nou saak maak, is jou gewilligheid om aan te beweeg in God en Sy verborge werkinge in jou lewe te vertrou.

Die Bybel sê,

“Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13).

God het nie belowe om jou ‘n pynlose manier van lewe te gee nie. Hy het jou ‘n “uitkoms” belowe. Hy het belowe om jou te help om jou pyn te dra. Krag om jou terug op jou voete te tel, wanneer swakheid jou laat wankel.

Heel waarskynlik, het jy gedoen wat jy moes. Jy het in die wil van God beweeg – eerlik jou hart gevolg. Jy het met ‘n oop hart daarin gegaan, gewillig om van jouself te gee. Liefde was jou motivering. Jy het nie die wil van God geaborteer nie – iemand anders het. As dit nie waar was nie, sou jy nie die een wees wat so hartseer is nie. Jy is hartseer omdat jy probeer het om eerlik te wees.

Jy kan nie verstaan waarom dinge in jou gesig opgeblaas het as dit gelyk het of God jou die hele tyd gelei het nie. Jou hart vra, “Waarom het God toegelaat dat ek in die eerste plek in hierdie posisie beland het, as Hy geweet het dit sou nooit reg uitgewerk het nie?” Maar die antwoord is duidelik. Judas was geroep deur die Here. Hy was bestem om ‘n man van God te wees. Hy was self uitgesoek deur die Saligmaker. Hy kon magtig gebruik geword het deur God. Maar Judas het God se plan geaborteer. Hy het die hart van Jesus gebreek. Wat begin het as ‘n pragtige, perfekte plan van God, het in rampspoed geëindig, omdat Judas gekies het om sy eie pad te loop. Trots en hardkoppigheid het die plan van God wat in werking was, verydel.

So, laat vaar alle skuldgevoelens. Hou op om jouself te veroordeel. Hou op om te probeer uitpluis wat jy verkeerd gedoen het. Wat jy nou dink, is wat werklik by God tel. Jy het nie ‘n fout gemaak nie – dit is meer waarskynlik dat jy te veel gegee het. Soos Paulus, moet jy sê, “Al word ek, terwyl ek julle oorvloediger liefhet, minder bemin” (2 Korinthiërs 12:15).

2.Herinner jouself daaraan dat God presies weet hoeveel jy kan hanteer – en Hy sal nie toelaat dat jy ‘n breekpunt bereik nie!

Ons liefdevolle Vader het gesê, “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

Die ergste soort laster is om te dink dat God al jou hartseer en lyding veroorsaak het. Dat dit die Hemelse Vader is wat jou tugtig. Dat God dink jy het nog een of twee gebroke harte nodig voor jy gereed is om Sy seëninge te ontvang. Dit is nie so nie!

Dit is waar dat die Here die wat Hy liefhet tugtig. Maar tugtiging is net vir ‘n tydperk en is nie bedoel om ons te laat skade ly nie. God is nie die outeur van die verwarring in jou lewe nie. Jy ook nie. Dit is menslike gebrek. Dit is die vyand wat onkruid saai in jou veld van onderneming. Dit is die misleiding in iemand anders naby jou wat geloof in God verloor het. Die vyand probeer ons seermaak deur ander mense, net soos hy probeer het om Job seer te maak deur ‘n ongelowige vrou.

Jou hemelse Vader waak oor jou met ‘n onwrikbare oog. Elke beweging word gemonitor. Elke traan word opgevang. Hy identifiseer met al jou pyn. Hy voel alle hartseer. En Hy weet wanneer jy aan genoeg teistering deur die vyand blootgestel was. Hy tree in en sê, “Genoeg!” wanneer die hartseer en pyn jou nie langer nader aan die Here trek nie – wanneer dit, in plaas daarvan, begin om jou geestelike lewe af te breek – beweeg God in. Hy sal nie toelaat dat ‘n vertrouende kind van Hom ondergaan omdat Hy te veel pyn en angs in sy siel het nie. Wanneer die hartseer begin werk tot jou nadeel – wanneer dit begin om jou groei te verhinder – moet God optree en jou vir ‘n rukkie uit die stryd lig. Hy sal nooit toelaat dat jy verdrink in jou trane nie. Hy sal nie toelaat dat jou hartseer jou verstand laat agteruitgaan nie. Hy belowe om betyds te kom, om jou trane af te vee en vir jou blydskap in plaas van hartseer te gee. God se Woord sê, “Saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig” (Psalm 30:6).

3.Wanneer jou hartseer die ergste is, gaan na jou binnekamer en huil al jou bitterheid uit

Jesus het geween. Petrus het geween – bitterlik! Petrus het saam met hom die hartseer van die Seun van God gedra. Hy het alleen op die berge rondgedwaal – bedroef geween. Daardie bitter trane het binne-in hom ‘n heerlike wonderwerk veroorsaak. Hy het teruggekom om die koninkryk van Satan te skud.

‘n Vrou wat ‘n mastektomie deurgegaan het, het ‘n boek geskryf, genaamd, “Eers Huil Jy.” Onlangs het ek met ‘n vriend gepraat wat ingelig is dat hy terminale kanker het, “Die eerste ding wat jy doen,” het hy gesê, “is om te huil totdat daar geen trane meer oor is nie. Dan begin jy nader aan Jesus te beweeg, totdat jy weet Sy arms hou jou styf vas.”

Jesus kyk nooit weg van ‘n huilende hart nie. Hy het gesê, “’n Gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie” (Psalm 51:19). Nie een keer sal die Here sê, “Ruk jouself reg! Staan op en neem jou medisyne! Byt op jou tande en droog jou trane af!” nie. Nee! Jesus vang elke traan op in Sy ewige kruik.

Is jy hartseer? Erg? Gaan dan voort en huil! En hou aan huil, totdat die trane ophou vloei. Maar laat daardie trane slegs uit die hartseer spruit – en nie uit ongeloof of selfbejammering nie.

4.Oortuig jouself dat jy sal oorleef – jy sal daaruit kom – dat, lewend of dood, jy behoort aan die Here!

Die lewe gaan aan. Jy sal verras wees met hoeveel jy kan verdra as God jou help. Geluk is nie om sonder pyn of hartseer te leef nie. Glad nie. Ware geluk is om te leer hoe om een dag op ‘n slag te leef, ten spyte van al die hartseer en pyn. Dit is om te leer hoe om in die Here te juig, maak nie saak wat in die verlede gebeur het nie.

Jy mag verwerp voel. Jy mag verlate voel. Jou geloof mag swak wees. Jy mag dink jy lê om uitgetel te word. Hartseer, trane, pyn en leegheid mag jou soms insluk – maar God is steeds op Sy troon. Hy is steeds God!

Jy kan jouself nie help nie! Jy kan die pyn en hartseer nie keer nie. Maar ons geseënde Here sal na jou toe kom – en Hy sal Sy liefdevolle hand onder jou plaas en jou uitlig om weer in die hemelse plekke te sit. Hy sal jou verlos uit die vrees vir die dood. Hy sal Sy eindelose liefde aan jou openbaar.

Kyk op! Bemoedig jouself in die Here. Wanneer die mis jou omring en jy nie jou weg uit jou dilemma kan sien nie – leun terug in die arms van Jesus en vertrou Hom bloot. Hy moet dit alles doen! Hy wil jou geloof hê – jou vrymoedigeid. Hy wil hê jy moet hardop huil – “Jesus het my lief! Hy is met my! Hy sal my nie teleurstel nie! Hy werk dit nou alles uit! Ek sal nie terneergedruk wees nie! Ek sal nie verslaan wees nie! Ek sal nie ‘n slagoffer van Satan wees nie! Ek sal nie my verstand of my rigting verloor nie! God is aan my kant! Ek het Hom lief – en Hy het my lief!”

Die kern van die saak is geloof. En geloof berus op een absoluutheid – “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie” (Jesaja 54:17).

Download PDF