Wou Jy Opgee Die Afgelope Tyd? | World Challenge

Wou Jy Opgee Die Afgelope Tyd?

David WilkersonOctober 1, 1978

‘n Toenemende aantal bedienaars het vir my geskryf in die afgelope maande en my vertel van hulle bekommernis oor hulle gemeentelede wat net wil opgee. Een bedienaar het geskryf, “Ek sien my kerklede probeer so hard om probleme in hulle huwelike en druk in hulle persoonlike lewens die hoof te bied. Net wanneer dit lyk of oorwinning binne bereik is, struikel hulle en val. Goeie, eerlike Christene word so dikwels oorweldig met skuldgevoelens en veroordeling dat dit wanhoop veroorsaak. En wanneer hulle nie aan hulle eie verwagtinge kan voldoen nie – wanneer hulle terugval in sonde en daardeur meegesleur word – besluit hulle op op te gee. Min mense weet hoe om uit ‘n sedelike stertspin te kom.”

Ek stem saam met die assessering van hierdie bedienaars. Toenemende getalle Christen is by breekpunt. Geen van die praatjies oor opgee het te doen met die Here nie. Min Christene sou ooit daaraan dink om op te gee op hulle liefde vir Jesus. Die meeste wanhopige Christene dink slegs daaraan om op te gee op hulleself. Jy hoor dit so dikwels, “Ek kan nie meer aangaan nie. Ek gaan dit nie maak nie, al probeer ek so hard. Dit is hopeloos! Waarom probeer?”

Ek hoor sommige bedienaars wat heeltyd net ‘n positiewe boodskap verkondig vandag. Soos húlle dit vertel, ontvang elke Christen wonderwerke – almal se gebede word onmiddellik verhoor – almal voel goed, lewe goed en die hele wêreld is blink en rooskleurig. Ek hou daarvan om daardie soort prediking te hoor, omdat ek regtig al daardie goeie en gesonde dinge vir God se kinders toewens. Maar dit is nie hoe dinge vir ‘n groot aantal baie eerlike, opregte Christene werk nie. Hoe jammer om sulke oppervlakkige teologie van die kansels af te hoor vandag. Dit is ‘n belediging vir ‘n nederige Jesus, wat arm geword het, wat ‘n mislukking in die oë van die wêreld was. Dit is die soort materialistiese prediking wat ‘n hele geslag so swak voorberei om enige tipe pyn te verduur – om tevrede te wees met dit wat hulle het – om arm te wees en nie altyd voorspoedig nie. Om God te dien het een of ander Olimpiese resies geword waarin almal na die goue medaljes moet strewe.

Geen wonder ons jongmense blaas op die ou end die aftog nie. Hulle kan nie die beeld wat deur godsdiens geskep is van ‘n gelukkige, ryk, suksesvolle, altyd positief denkende Christen naleef nie. Hulle wêreld is nie so idealisties nie. Hulle kyk in die spieël wat ‘n gesig weerkaats wat vol lelike puisies is. Hulle leef met gebroke harte, uur-vir-uur krisisse en verskriklike gesinsprobleme. Hulle vriende is verslaaf en baie van hulle sterf. Hulle kyk na die onseker toekoms, bang en bekommerd; eensaamheid, vrees en depressie spook daagliks by hulle.

Positiewe denke sal nie hulle probleme laat verdwyn nie. Om te bely dat hierdie probleme nie werklik bestaan nie, verander niks nie. Hierdie “apostels van die positiewe” durf nie die Getsémané belewenis van die lewe uitsluit nie. Die lydingsbeker, die uur van afsondering en die nag van verwarring was alles deel van die Meester se leefstyl. Ons groot prestasies, ons suksesse, behoort ‘n plek in te neem by Getsémané, nie Fort Knox nie!

Die saagsel voetslaanpad vir baie het die goue stof voetslaanpad geword. Die Bybel het ‘n katalogus geword, met onbeperkte blanko tjeks vir die lewe se lekker dinge – vir almal wat ‘n “silwer” heilige wil word. Enigiets wat te doen het met werkagtige pyn en lyding word beskou as negatief leef.

God is goed en hulle wat vrygewig gee, ontvang oorvloedige seëninge. ‘n Mens moet altyd dink aan goeie en eerlike berigte; maar pyn, armoede en lyding het sommige van die heiligste van God se kinders oorval – net soos die regverdige Job.

Wat sê jy vir daardie vrou wie se huis besig is om op te breek en sy magteloos lyk om dit te keer? Sy word geadviseer deur haar vriende, beraad deur haar herder en word oor en oor vermaan om te “Bly op jou knieë en glo God vir ‘n wonderwerk.”  Dus vas en sy bid. Sy doen meer as wat verwag word, tot by die punt waarop sy op haar knieë terugkruip na haar man. Sy beoefen geloof met elke intellektuele insig wat sy besit. Maar ten spyte van al haar eerlike pogings, word hy hard en bitter en dring aan op ‘n egskeiding. Nie alle huwelike word genees deur gebed of goeie bedoelings nie. Dit verg twee om ‘n huwelik te laat werk en hoewel gebed die krag van die Heilige Gees veroordeling kan neerbring op ‘n dwalende maat, kan daardie maat al God se pogings weerstaan en die oplossing aborteer.

Sommige van my vriende mag wonder waarom ek soveel tyd gebruik om te praat oor huwelike, egskeiding en die huis. Maar die rede is baie eenvoudig. In my veldtogte, praat ek met so baie kinders op die randjie van selfmoord en ‘n oorweldigende meerderheid sê vir my hulle depressie spruit uit probleme by die huis. Pa en Ma het probleme. Of, hulle het reeds ‘n egskeiding gekry.

Menigtes van mans en vroue verloor moed met hulle huwelike. ‘n Bedienaarsvriend van my, wie se egskeiding pas afgehandel is, het vir my gesê hy het een of ander held geword vir sommige van sy naaste vriende. Een vriend het hom gebel en gesê, “Waar het jy die moed vandaan gekry om te skei? Man, ons het ook probleme, maar ek is ‘n lafaard. Ek wens ek kon daardie stap neem.”

‘n Ander een het gebel en gesê, “Ons huwelik is ‘n klug. Ons kommunikeer glad nie meer nie. Ek het opgegee. Maar hoe neem jy daardie laaste stap tot by ‘n egskeiding? Ek is so gebonde aan sekuriteit en my werk – ek is bang ek verloor te veel.”

Nog ‘n ander een het ook gebel en gesê, “Ek bewonder jou moed. Jy het uit ‘n hopelose situasie gekom. Ek neem aan ek sal voortgaan om te bestaan en in ellende te leef. Ek wil nie hê my kinders moet teen my draai nie. Dit is die enigste ding wat my terughou. Ek het heeltemal moed verloor met ons huwelik.”

Daar is baie lesers van hierdie boodskap wat, op hierdie oomblik, op die punt is om op te gee. Jy kan nie verstaan wat met jou – met jou huwelik – met jou huis gebeur nie. Iets skort en so hard as wat jy probeer, kan jy eenvoudig nie die sleutel vind om dinge te laat reg uitwerk nie. Hoeveel ure het jy deurgebring, heeltemal alleen en probeer uitpluis waar dinge verkeerd geloop het? Die betowering is weg. Die romanse is weg. Die kommunikasie is weg. In die plek daarvan, is daar nou argumente, vrae, agterdog, skimpe en snedige aanmerkings.

‘n Gebroke vrou het geskryf, “Meneer, ek kan nie glo dit gebeur met my nie! Ek het so veilig gevoel en was so jammer vir al daardie ander wat gelyk het of hulle soveel probleme het. Maar nooit het ek gedink ons huwelik sou verkrummel nie. Ek was te intelligent – te veel besig met gee en deel. Nou, is ek ‘n slagoffer van hierdie vloek van egskeiding. Dit is ‘n verpletterende belewenis.”

‘n Suksesvolle huweliksberader het my onlangs vir ete geneem en voor die voorgereg bedien was, het hy bely dat sy eie huwelik in gedrang was. “Jy kan net nie meer ‘n goeie huwelik as vanselfsprekend aanvaar nie,” het hy gesê. “Ek kom agter ek moet harder werk as ooit om ‘n iets goeds te behou. Ek is oortuig Satan is vasbeslote om my huwelik op te breek – en elke ander goeie Christen huwelik. Dit is ‘n goed beplande aanval op die beste huwelike. As Satan die sterkste, mees bewonderingswaardige huwelik kan opbreek – dan sal swakkeres versoek word om op te hou probeer en moed opgee.”

Die geheime stryd in die Christen se persoonlike lewe is net so kritiek. Die innerlike stryd van die gemiddelde Christen vandag neem toe in intensiteit en in verhouding. Menigtes is betrokke by situasies wat te moeilik is om te verstaan. Net soos David, die Psalmdigter, bely hulle, “My sondes het my oorweldig – hulle is te hoog vir my om te verstaan.”

Paulus het gesê, “Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard” (2 Korinthiërs 5:4). Ek twyfel dat ons ooit die groot aantal Christene sou kon tel wat in die geheim kreun onder die laste wat hulle dra.

Paulus het gepraat van, “...verdrukkking wat oor ons gekom het...dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het” (2 Korinthiërs 1:8).

As jy die fasade van elke groot prediker en elke bewonderde persoonlikheid wegvat, sal jy oomblikke van ernstige depressie vind. Jy sal dieselfde ongesteldhede vind as in enige normale Christen. Ons het almal seisoene van wanhoop, saam met gevoelens van mislukking. Daar was tye wat ons almal gedink het aan opgee. Ons het almal gedagtes van opgee.

Waarom voel ons soms om op te gee? Meestal omdat ons optree asof God die aarde verlaat het. Ons twyfel nie in Sy bestaan of in Sy werklikheid nie. Maar ons gebede gaan onverhoor. Ons roep uit om Sy hulp met sulke desperaatheid en dit lyk asof Hy nie hoor nie. Ons sukkel voort, maak een fout op ‘n ander. Ons maak beloftes om beter te doen; ons lees die Bybel; ons roep en bid en bly besig om ander te help en goed te doen. Maar ons word so dikwels gelaat met ‘n leë, onvervulde gevoel. Die beloftes van God spook by ons. Ons eis daardie beloftes op – met wat ons glo ‘n eerlike, kinderlike geloof is – maar keer op keer misluk ons om te ontvang waarvoor ons vra. In die uur van versoeking – val ons!

Twyfel sluip in en Satan fluister, “Niks werk nie. Geloof in God veroorsaak nie resultate nie. Ten spyte van jou trane, gebed en vertroue in God se Woord – verander niks werklik nie. Dae, weke en selfs jare gaan verby en jou gebede, hoop en drome is steeds onverhoor en onvervuld. Hou op! Gee op!”

Elke Christen op hierdie planeet bereik een of ander tyd daardie krisispunt in die lewe. En op daardie oomblik, wanneer die mure lyk of dit omval en die dak lyk of dit inval, wanneer dit lyk of alles uitmekaarval en sonde die oorhand eis – roep ‘n stem diep van binne af uit. “Loop weg van die alles af. Maak dat jy wegkom! Vlug! Waarom dit alles verdra? Stap weg. Jy hoef dit nie te verdra nie. Doen iets drasties.”

Dawid, oorweldig deur die boosheid in sy hart, het uitgeroep, “Ontwaak! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Verstoot nie vir ewig nie!...Waarom verberg U u aangesig, vergeet U van ons ellende en ons verdrukking” (Psalm 44:24,25).

Christen – verstom dit jou dat prominente mense van die outyd dieselfde stryd beleef het as wat ek en jy beleef? Die Bybel sê, “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12,13).

Job was ‘n volmaakte mens in God se oë. Maar hy het ook ‘n tyd beleef toe hy wou opgee. Job se pyn het gespruit uit ‘n verskriklike dilemma. Hy was ook oortuig in sy hart dat God geweet het waar hy was en waardeur hy gegaan het. Hy kon self egter nie die teenwoordigheid van God binnegaan nie. “Kyk, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie. As Hy in die noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie” (Job 23:8,9).

Job het in wese vir homself gesê, “Ek weet God is daar iewers en kyk neer op my in al my swaarkry. Hy ken die pad wat ek loop – maar ten spyte van alles wat ek doen om Hom te vind, bly Hy vir my wegkruip. Ek glo God is werklik, Hy is daar, maar ek kan Hom net nie sien nie.” Met volkome wanhoop, het Job gesnik, “Daarom...vrees ek vir Hom...die Almagtige het my verskrik” (Job 23:15,16).

En al daardie bang en bekommerde gedagtes oor God was die gevolg van wat Job gedink het ‘n goddelike niksdoen was. Job het gestry, “Want ek vergaan nie vanweë die duisternis of vanweë my eie aangesig wat deur donkerheid oordek is nie” (Job 23:17).

Die kern vir Job was bloot die volgende: laat my vergaan of maak dinge reg – moet net nie meer stil wees teenoor my nie! Selfs al laat U my vergaan, ten minste sal ek weet U is daar.

Hoe kan ons leer om vas te byt en een dag op ‘n slag te leef? Jy kan begin om al die kortpaaie en towerkure te vergeet. Die Christen het nie ‘n sogenaamde demoon van neerslagtigheid om uit te dryf nie, asof sy weggaan die lewe makliker sal maak. God sal ook nie afkom en ons lewe vir ons leef nie. Die verleier sal nie vernietig word nie tot daardie dag waarop God hom in die gevangenis gooi. Satan sal altyd hier wees en mislei, beskuldig en probeer om elke gelowige van sy geloof te beroof.

Hoe langer ek vir Christus lewe, hoe moeiliker is dit vir my om ‘n maklike, maak-alles-reg oplossings te kry. Maar, in my eie stryd, het ek groot vertroosting en hulp gevind in twee wonderlike absolutes.

Die eerste absolute is – GOD HET MY WERKLIK LIEF. God is nie daar om Sy kinders te veroordeel nie – mislukkings of nie. Hy smag na ons soos ‘n liefdevolle vader en wil ons slegs uit ons swakheid tel.

Ek het onlangs ‘n glimp gekry van daardie liefde toe ek in die woude rondom ons plaas geloop het. Nie een keer het ek gestop om te kyk hoe die voëls vry en gesond rondvlieg nie. Maar skielik, daar op die grond het ‘n kreupel klein voëltjie rondgefladder. Die baba-voëltjie het hard probeer om te vlieg, maar kon net hulpeloos in die stof wip. Dit was toe dat ‘n bekende Skrif in my gedagtes binnegeflits het. “Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie” (Matthéüs 10:29).

Ek het eens gedink daardie vers lees, “Nie ‘n mossie val op die grond sonder dat die Vader daarvan weet nie.” Maar Matthéüs se weergawe sê – “Een sal nie val sonder die Vader nie.”

God is met ons, wanneer ons val. Ons val nie sonder die Vader nie. Hy val nie in ons sonde nie, maar Hy kom af na ons gevalle toestand. Hy verlaat ons nie op ons pad af nie. Hy verlaat nooit ‘n kreupel kind nie. Want, jy sien, ons is daardie mossie.

Dawid het gesê, “Ek is slapeloos en het geword soos ’n eensame voël op die dak” (Psalm 102:8). Dawid het Batséba in die bad gesien van daardie dak af – en hy geval, ‘n gebroke, kreupel mossie. Maar God het nie moed verloor met hom nie. Ons Here het nooit moed verloor met enige van ons nie!

Het jy ook geval? Voel jy soos daardie kreupel mossie wat hulpeloos in die stof fladder? Is jy gewond, hartseer en voel jy verlore en eensaam? Dink jy ooit, “Hoe kan God iemand soos ek verdra? Hoe kan Hy my steeds liefhê wanneer ek Hom so sleg teleurgestel het?

O, maar Hy het jou lief, my vriend. Dikwels, kan ons Sy groot liefde slegs herken wanneer ons die bodem tref en besef dat ons dit nodig het. Jy sal ‘n groot oorwinning behaal as jy oortuig kan word dat God jou liefhet selfs in jou gewonde, kreupel toestand. Dit was ‘n wond wat my laat kniel en medelye betoon het aan ‘n hulpelose voël. En dit is ons wonde, ons hartseer, ons hulpeloosheid wat veroorsaak dat Sy liefde en deernis ons oorskadu en omhul. Ons krag word vernuwe deur Sy ewige liefde. Rus net in daardie wonderlike liefde. Moenie paniekerig word nie. Verlossing sal kom. God verhoor ons deur Sy liefde te wys. En wanneer ons geleer het hoe swak ons is en geleer het om Sy liefde en vergifnis te vertrou – sal Hy neerbuig en ons saggies terugsit in die nes.

Die tweede absolute is – DIT IS MY GELOOF WAT HOM DIE MEESTE BEHAAG! “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6). Die Bybel sê, “Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken” (Romeine 4:3).

God wil so graag vertrou word. Daardie vertroue ag Hy as geregtigheid. Ek ken sommige heilige, geheiligde mense (ten minste uiterlik) wat die smal en reguit pad loop. Hulle sou nooit één keer erken dat hulle gevoelens van mislukking en wanhoop het nie. Hulle dink hulle is heiliges. Maar hulle groot sonde is twyfel. Soms dink ek sekere sondaars het meer geloof as baie eiegeregtige Christene.

Wat doen ek wanneer versoeking oor my spoel  soos ‘n vloed? Wanneer my gebreke my oorweldig en ek die weerkaarsings van my swakhede sien? Gee op? Verloor moed? Nooit! Ek bring vir God al wat ek oor het – my geloof in Hom! Ek verstaan dalk nie waarom dit lyk of Hy so lank neem om in te gryp nie, maar ek weet Hy sal. Hy sal Sy woord aan my nakom.

Ek is oortuig Satan wil my beroof van slegs een ding – my geloof. Hy wil regtig nie my sedelikheid of my goeie dade of my drome hê nie. Hy wil my geloof vernietig en my laat glo dat God hierdie aarde versaak het.

‘n Val is nooit noodlottig vir diegene wat hulle geloof intakt hou nie. Ten spyte van voortdurende stryd en gevoelens van hulpeloosheid soms, glo ek steeds my Here. Ten spyte van wanhoop en druk wat die verstand laat vasval en die krag tap, glo ek God. Ek glo Hy sal “my vir struikeling bewaar en my sonder gebrek voor sy heerlikheid stel met gejuig.”

Hy het my lief en Hy wil hê ek moet Hom aanhou vertrou. Dus sal ek daardie liefde aanvaar en my geloof sterk hou.

“U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U” (Jesaja 26:3).

Download PDF