Rondkuier en Suip | World Challenge

Rondkuier en Suip

David WilkersonSeptember 1, 1978

Alkohol is die hedendaagse Delila, wat daarop gemik is om die kerk se lokke te skeer en dit van sy krag te beroof.

Ek sien sekere dinge onder jongmense vandag wat werklik my hart breek. Gaan na amper enige rockkonsert en bestudeer die duisende jongmense wat wieg op die maat van harde musiek. Op die verhoog, is ‘n wilde en demoniese groep dwelmfratse, geklee in afskuwelike drag, wat spoeg en voete stamp te midde van oerwoudagtige klanke. Skreeuende tienermeisies strek hulle hande omhoog en smeek om aangeraak te word, of na gekyk te word, of op gespoeg te word, of een of ander vulgêre teken gegee te word. Dit is ‘n voortdurende bewegende massa besete liggame, hare en arms wat rondswaai, spring, val en struikel. Die meeste is bedelm. Hulle gooi op; hulle val flou; hulle val oor mekaar in ‘n jammerlike soort valse ekstase.

Kyk hoe hulle sespakke wegsluk in die parkeerarea voor die konsert. Hulle voertuie dien as mobiele kroeë en slaapkamers. Dit is ‘n resies na dronkenskap deur studente wat doelbewus “buite hulle verstand wil dronk word.” Sommige moet na die konsert gedra word deur half-nugter vriende. Ander word buite gelos, gedrapeer oor bosse en asblikke, flou geval op die randsteen in dronk bedwelming, en ander vou dubbel met maagkrampe terwyl hulle tussen geparkeerde motors stamel. Hulle lyk soos beseerdes van ‘n oorlog wat gewond en bloeiend agtergelaat is deur vlugtende magte.

Binne, is dit soos ‘n voorsmakie van die hel, ‘n sataniese advertensie, wat adverteer hoe die werklike ding is. Die seks en punkrock taal stroom uit die groot stapels klankversterkers. Dit is soos ‘n Niagara van onreinheid en opstand.

Pille en daggasigare word rondgestuur soos Lewensredders. Die pille word met bier afgesluk. Die daggasigare word gerook tussen groot slukke wyn, bier en doppe whiskey wat uit termosflesse geskink word. Die drank verhoog die ander hoogtepunte. Die musiek hoogtepunt, die geweld hoogtepunt, die seks hoogtepunt, die dwelms hoogtepunt, die rebellie hoogtepunt – dit bereik alles ‘n hoër hoogtepunt met alkohol.

Dit is ‘n verskriklike depressiewe gesig om te sit op ‘n balkonsitplek tussen hulle, terwyl jy uitkyk na ‘n see van rustelose, dronk jeug. Skielik besef jy – hierdie kinders aanbid eintlik by die duiwel se altaar. Hulle verafgod daardie demoonbesete spelers, self al weet hulle hulle is anti-Christus, anti-God en anti-land.

Dwelm en alkoholverdoofde verstande is soos klein stukkies klei wat gevorm word deur die hande van handeldrywende duiwels. Hulle lyk soos lammers wat ter slagting gelei word. Jy voel die yskoue duisternis van demoniese geeste wat los is. Jy kan amper sien hoe die duiwel ‘n spinnekopagtige web oor die gehoor spin en een na ‘n ander word verstrik. Hulle wriemel en kriewel soos gediertes wat probeer om hulleself te bevry.

As mens kyk hoe hulle uit daardie konsert kom, lyk dit soos ‘n begrafnisstoet. Die stank van geestelike dood is oral. Na al die bier, die dwelms, die wilde musiek, die geskree en gedans – is hulle steeds leeg en eensaam. Hulle dra ‘n las op hulle skouers wat baie swaarder is as die een waarin hulle gedra word. Hulle het ingekom met die hoop om vryheid te vind; hulle wou ‘n verlossing hê, iets om daardie leë pyn diep binne te stil.

In plaas daarvan, gaan hulle weg en ly nog meer. Dus gaan hulle in hulle vinnige stel wiele na die deurnag delikatesse van nog meer bier. As die konsert nie bevredig nie, sal ‘n nag van “rondkuier en suip” dit dalk doen. En nie eens die tonele van kop-aan-kop botsings kan hulle keer nie. Selfs as hulle sien hoe hul jong vriende weggery word in ambulanse – met loeiende sirenes. Hulle kan die begrafnis van ‘n dierbare vriend bywoon met berusting, asof hulle sê. “Wel, ten minste het hy uiteindelik vrede gevind. Geen gesoek meer nie, geen gesukkel meer nie – die dood het hom gered van leegheid.”

Wie is hierdie dronk studente?

Dit klink morbied en dit is. Dit klink oorbeklemtoon en oordrewe, maar dit is nie. Presies wie is hierdie duisende drinkende, dwelmgebruikende kinders wat na konserte stroom en wat tot in die vroeë oggendure rondkuier en drink? Straatboemelaars? Goedkoop hoeragtige meisies? Ghetto slagoffers? Arm kinders? Goddelose Christus-haters? Nee! Glad nie! Die meeste van hulle kan jou reguit in die oë kyk en bely, “Ek is ‘n Christen. Ek woon Eerste Kerk by. My ouers is goeie Christen mense.” En dit is waar. Jy kan hulle op enige Sondag kry waar hulle in die kerk sit by hulle gesinne. Sommige van hulle sing in die koor; ander is aktief by Christelike jeugwerk. Hulle eerbiedig God; hulle verwerp Jesus nie; hulle blaai soms deur ‘n Bybel.

Hierdie moderne, jeugdrinkers ry rond in duur motors, vervoerwaens en bakkies. In die meeste gevalle, het hulle ouers nie die vaagste benul van hoe ver hulle weggeval het nie. Hulle mislei hulle ouers met onskuldige uitdrukkings.

Wat my die hartseerste maak oor hierdie kuierende, drinkende, self-misleide Christen jeug, is dat ouers, bedienaars, jeugleiers en die kerk so min van hulle verwag. Die kerk maak oor die algemeen voorsiening vir hulle drinkende leefstyl. Die herder is bang om te praat teen wilde musiek, wilde klere, wilde konserte, ongeremde drinkery, permissiewe seks – bang om daarteen te praat uit vrees hulle sal hom ignoreer en die kerk verlaat. Jeugherders sit blêrkaste in die kerk se ontspanningsale sodat hulle kinders hulle hard-rock aptyte kan bevredig na ‘n vinnige gebedsbyeenkoms.

Meer as dikwels, kan die herder, die jeugherder, ouers en helfte van die diakens nie die kinders vra om weg te bly van drank af nie, bloot omdat hulleself drink. Die herder hou van sy wyn, die ouers drink skemerkelkies, die diakens drink bier. Hierdie drinkende heiliges in die heiligdom is die eintlike rede vir hierdie golf van drinkery wat tans oor die land beweeg en duisende van ons beste jeug verwoes.

Wys vir my ‘n man op die kansel wat drink, selfs matig, en ek sal jou ‘n lafaard wys wanneer dit daarby kom om die waarheid te verkondig. Ek weet persoonlik van ander bedienaars wat self nie raak aan ‘n druppel alkohol nie, maar wat bang is om te praat teen hulle drinkende gemeente – omdat hulle nie die toorn van al die groot geld, invloedryke lede op die hals wil haal nie. Hulle sou aan hulle ore uitgegooi word, sou hulle opstaan soos ‘n profeet van God en uitvaar teen al die wyn- en biersuipery.

Benodig – Predikers met durf

Waar is al die manne van God wat geroep is om herders, jeugleiers en jeugberaders te wees – waar is almal wat jongmense lief genoeg het om hulle direk uit te daag oor die gruwel van drank?

Weg met hierdie ruggraatlose, lafhartige benadering tot onsedelikheid en dronkenskap! Weg met al hierdie dwase praatjies om tieners, wat saam met hulle skoolvriende rondkuier en drink, nie te wil afsit of aanstoot gee nie. Weg met hierdie onskriftuurlike dubbelsinnige gepraat oor ‘n nuwe sedelikheid met meer vryheid om matig te drink. Weg met al die leuens dat Jesus en Paulus wyn gedrink het en dat Christene wat nie onder die wet is nie, dieselfde kan doen.

God, gee ons bedienaars en ouers met genoeg sedelike moed om hierdie vloed van permissiwiteit wat drank en hoerery vir jongmense goedkeur stop te sit. Hoeveel van ons kinders moet nog alkoholiste en uitgebrande doppe van die mensdom word voor ons kan sê, “Genoeg?” Hoeveel duisende van ons tieners moet nog geoffer word op brouersaltare voor ons kwaad genoeg word om daarteen uit te vaar? Wat sal dit verg om suipende heiliges te oortuig dat hulle die grootste struikelblok is wat hierdie geslag teëgekom het? Wanneer sal drinkende Christene ooit wakker word vir die feit dat hulle die slegte voorbeelde is wat duisende jeug op die pad na dronkenskap stuur? Wanneer sal die bedienaars besef dat hulle stilswye oor hierdie probleem aanvaar word as goedkeuring vir drankgebruik?

Geen bier met Bybels meer nie! Geen Christene met skemerkelkies meer nie! Geen gesuip meer deur gelowiges nie! Hierdie geslag het genoeg gehad van vae sedelike standaarde wat ‘n “alles is aanvaarbaar” leefstyl toelaat. Hulle is siek en sat vir predikers van die evangelie wat hulle sondes verskoon. Hulle het alle respek verloor vir kerke en bedienaars wat nie langer eis dat hulle “uit die wêreld kom en rein en heilig” word nie.

Drinkers moet uitgedaag word

Hierdie geslag het ‘n boodskap nodig wat meer heiligheid, meer selfverloëning, meer liefde vir Jesus, meer afsondering van ‘n ontaarde wêreld eis. Hulle wil nie een of ander bierdrinkende heilige hê om hulle op die rug te klop en vir hulle te sê, “Behou net jou geloof – wees matig met alles – dink goeie gedagtes – jy is OUKEI – ‘n bietjie drank is goed, solank jy in die kerk bly en goed doen.”

Iemand moet vir hierdie drinkende, rinkinkende geslag sê, “Jy is heeltemal verkeerd.” Hier en nou, daag ek elke jongmens uit wat hierdie boodskap lees. Ek sê vir jou dat om enige soort alkohol – bier, wyn, whiskey – te drink, is verkeerd in God se oë. Ek gee nie om hoeveel bedienaars jy ken wat drink nie. Ek gee nie om hoeveel kerkgangers drink nie. Ek gee nie om hoeveel jou ouers drink nie. Ek gee nie om of elke politikus wat homself ‘n Christen noem, drink nie. Ek gee nie om of al jou vriende drink nie. Dit verander niks so ver dit God aangaan. Dit is steeds heeltemal verkeerd!

Ek weet ek kan jou nie uit jou begeerte om te drink praat nie, en ek kan of sal jou nie probeer daarmee bang maak nie. Sommige sal my net stop en kwaad word. Maar jy word uitgedaag, nie net deur my as bedienaar nie – maar deur die Heilige Gees van God. Die Gees beweeg dwarsdeur die aarde vandag, roep eerlike Christene tot ‘n lewe van algehele oorgawe, volkome afsondering van sensualiteit en wellus, sowel as, algehele onthouding van alkohol en hoerery.

Alkohol se geheimsinnige mag

Alkohol het ‘n geheimsinnige mag. Mense kan dit klaarblyklik nie weerstaan wanneer dinge verkeerdloop nie. Dit is so maklik, so beskikbaar, so sosiaal aanvaarbaar – maar dit kan die liggaam vernietig net soos kanker. Dit bied ‘n plaasvervanger vir vrede – ‘n tydelike verligting van lyding – genesing vir pyn en hartseer van hart en siel. Dit is wat hulle vir Jesus aangebied het toe Hy aan die kruis gehang het – “iets om die pyn te verlig.” Hy het daardie drankie geweier. Hy het dit gehaat. ‘n Bonatuurlike lewe het in Hom gevloei en Hy sou dit nie besoedel met ‘n drankie wat deur die duiwel aangebied was nie. Jy kan God nie met alkohol bedwelm nie. En jy kan ook nie een van Sy ware kinders bedwelm nie. Soos Christus, wil hulle niks te doen hê met die sakramente van Satan nie.

Die helfte van die beskaafde wêreld word bedwelm met alkohol. Die leiers van Rusland heers met vodka. Die Franse heers onder die invloed van wyn. Hierdie land word gelei deur ‘n kongres waarin die grootste deel van sy kongresgangers en senatore wetgewing maak onder die invloed van martini’s en skemerkelkies. Wette word gemaak onder die invloed van drank.

Die krag van alkohol is in sy vermoë om die lewe van die siel aan die slaap te sus. Dit brandmerk die gewete deur dit te verdoof totdat die prikkels nie langer gevoel word nie. Dit lei die siel na ‘n ewige soeke na plesier. Sy geheimsinnige krag lê in die feit dat dit op homself voed. Dit skep ‘n verterende honger wat nooit bevredig kan word nie. Dit sleur slagoffers mee met beloftes van lewe en geluk, terwyl dit hulle in die tussentyd laat wegsink in ‘n donker wêreld van demone, wanhoop en die dood. Dit belowe hemel, terwyl dit hulle terugstamp in die hel in.

Alkohol is gevaarlik omdat dit denke verdrink. Dit verander oortuiging in lafhartigheid. Dit veroorsaak dat mens gaan slaap ten opsigte van God en dit keer koppe en harte van geestelike dinge af weg. Alkohol groei op mense se binnekante. Wat dit aan die siel doen, is baie meer verwoestend as wat dit aan die liggaam doen. Dit verander die geestelike verstand in ‘n sif wat nie die beloftes van God kan behou nie. Die waarheid word verdraai en heeltemal uit die gedagtes gevee. Die passie vir God word vervang met ‘n passie vir gif. Alkohol word dan die duiwel se opium om die wêreld so volkome te bedwelm dat God vergeet word.

Alkohol is ‘n apparaat wat slim mense gebruik om die pyn van verveling en die leegheid van die lewe te verdoof. Dit is ‘n beskaafde metode om ‘n barbaar te word. Die mensdom is nou doodbang om hartseer en ongelukkig te wees – daarom is ‘n “kultus van vrolikheid” deur die duiwel uitgedink. Die lede van hierdie kultus is mense met beswaarde gemoedere. Alkohol is hulle godsdiens en dit bied ‘n “verpakte vrede.” In werklikheid, is dit ‘n travestie teen die waarheid!

Alkohol is gevaarlik omdat mense altyd soek na iets om die lewe mee op te kikker. Hulle sien hulleself as mense wat die ware blydskap van die lewe misloop – daarom oortuig hulle hulleself dat ‘n bietjie alkohol ‘n nuwe vlam van lig en geluk sal aansteek. Maar dan breek die prentjie op en die lig word duisternis. Hulle ontdek dat toneelspel selfmisleidend is. Sonder God as die middelpunt, raak alles suur. Die geluksuur word ‘n neerdrukkende ervaring.

Die gevaarlikste ding van alkohol is dat jy nie ‘n drang daarvoor van jou kant af kan keer nie. Slegs bonatuurlike ingryping kan sy duiwelse greep tem en vermorsel. Dit is wat dit sondig maak. Dit is daardie geheimsinnige mag wat inherent is in sy elemente en poog om almal wat hulleself daaraan oorgee te verslaaf, aan te vuur en hulpeloos te laat. Alkohol is baie meer as net ‘n drankie – dit is ‘n demoniese konkoksie wat in die duiwel se eie gedagtes geformuleer is en aan die wêreld bedien word as ‘n teenmiddel teen die kruis van Jesus.

My innerlike getuienis

Daar is iets baie verkeerd diep binne-in my wat uitroep teen selfs die gedagte dat Christus Jesus ooit drank of alkoholiese dranke sou maak. As ek geen Skrif of wetenskaplike bewyse gehad het om my te ondersteun nie, dan moet dit wat ek met my eie oë gesien het – en wat ek in my hart voel – genoeg wees.

Ek loop in ‘n Brooklyn hospitaalsaal in om ‘n vyftienjarige seun te besoek wat sterf weens alkoholvergiftiging. Ek sien ‘n outjie op pad na ‘n donker ewigheid, siek, gebroke en sonder verstand. Sy oë is diep in hulle kaste gesonke – sy wange is benerig en hol – sy ingewande verrot, sy lewer besmet – sy gelaat is bleek en sy hare kroeserig. Victor het goedkoop wyn begin drink to hy jonger as tien jaar oud was. Teen die tyd dat hy veertien was, het hy in die strate van die Bowery geloop soos al die ander uitgebrande alkoholiste. Hy het op die strate geslaap en homself toegemaak met koerante vir ‘n kombers.

Victor het gesterf in daardie oorbevolkte hospitaal sonder ‘n vriend op sy naam. Hy was net een van baie sulke naamlose jongmans en -vroue wat aan alkoholisme sterf in ons groot stedelike hospitaalsale. Maar as ek na hulle sterwende gesigte kyk en met afsku die verwoesting wat alkohol veroorsaak het, aanskou, terwyl ek bid oor hulle uitgeteerde liggame – roep iets binne-in my uit, “O God – U Seun kon nooit ‘n drankie geskep het wat dit aan kinders doen nie. Jesus kon nooit ‘n drank bedien het aan Sy vriende wat mense kan vernietig soos hierdie nie.”

Probeer dit een keer! Gaan na enige lykshuis in die stad en kyk na die oorskot van tieners wat gesterf het in ‘n motorongeluk – ‘n gevolg van dronkbestuur. Sien daardie tienerliggame uitgelê op tafelblaaie, terwyl huilende ouers hulle oorskot uitken. Jy sal ook kwaad word soos ek. Jy sal ook wonder hoe enige God-liefhebbende Christen wat lewe respekteer ooit ‘n druppel alkohol kan aanraak. Hoe durf ons Jesus en Paulus identifiseer met soveel verwoesting en afgryse! Hoe durf Christene dieselfde drank drink wat dood en vrees versprei oral in die land!

Probeer laat in die aand in die voorportaal van ‘n motel sit en kyk hoe die parade van gereelde drinkers kom en gaan, na en van die klubs en kroeë. Vir my, is dit so neerdrukkend. In daardie beknopte, rookgevulde kamer drom ‘n rustelose groep saam en probeer geluk vind in ‘n bottel. Vir ure sit hulle en drink. Die geskeides is daarbinne en probeer hulle pad drink deur hulle gevoel van mislukking. Die reisende verkoopsman word smoordronk met die hoop om sy eensaamheid en middelmatigheid te verlig. Jong getroudes en enkellopendes dans en swaai in dronk bedwelming en forseer om dit, wat hulle weet sal eindig as ‘n nag van leegheid en depressie, te geniet. Met elke drankie, word hulle luider en dapperder. Hulle vind ‘n paar uur van moed om ‘n lewe van vrees in die oë te kyk. Jy kyk met verbasing hoe hulle so baie praat van hoe hulle hul geluksuur geniet en dan opstaan en na die badkamers hardloop – om op te gooi.

Ek kyk na daardie boepens manne wat winde opbreek op pad na die mans se badkamer – en ek wil huil. Hulle oë is so hartseer; hulle blydskap is vals; en dit lyk of hulle om hulp roep. Hulle maak sulke gekke van hulleself. Hulle kom stamerend uit hierdie badkamers uit, vee hulle monde af en marsjeer dan reguit terug na die kroeg om weer oor te begin.

Sluitingstyd is die verskriklikste skouspel van almal, soos die gereeldes deur die portaal waggel na hulle motors in die parkeerterrein. Hulle tree op soos bang diertjies wat gedwing word om die veiligheid van die voerplek te verlaat. Die gedagte aan daardie dronk bestuurders wat op die hoofweë ry, is skrikwekkend. Hulle kan skaars loop, laat staan nog ‘n motor bestuur op ons besige paaie.

Ek het hierdie verskriklike optogte al baie keer gesien. En hoe meer ek hulle sien, hoe meer sê my hart vir my dat die sondelose Seun van God nooit ‘n deel van so ‘n wêreld kan wees nie. Jesus sou nie ‘n drankie in iemand se hand sit as dit sou lei tot dronkenskap nie. Veronderstel Christus het gefermenteerde wyn by die bruilof van Kanaän gemaak. Maar as een feesganger te veel ingehad het en daardie bruilofsmaaltyd verlaat en ‘n ongeluk veroorsaak het op sy reis huistoe – wat sou hy vir die magistraat sê? Sou hy sê, “Jesus het dit gedoen! Hy het hierdie baie goeie wyn gemaak; ek het ‘n bietjie te veel gehad – ek het smoordronk geword. Dit het alles gebeur by die huis van ‘n vriend van Sy moeder, Maria.”

Gaan na die Mardi Gras in New Orleans. Kyk na die hordes dronk feesgangers wat deur die strate waggel. Kyk na al die homoseksuele queens wat rondpronk in die teenoorgestelde geslag se klere – en bierkanne in hulle hande hou. Sien die duisende jong studente wat oor mekaar val in dronk bedwelming. Luister na die optogleier ‘n heildronk instel op “die god van alkohol.” Duisende, van oral oor die wêreld, vergader om te drink en fees te vier. Die strate is wild met musiek, gedans, gefuif en dronkenskap. Soms, lyk dit of die hel oor sy grense geloop het en almal aanbid wyn, whiskey en vroue.

As jy ‘n oorwinnende Christen is, maak dit jou siek om dit vlak voor jou oë te sien gebeur. Die toneel van menigtes wat openlik hulle dronkenskap vertoon, is te veel vir ‘n teer hart om te verstaan. Maar een ding is seker – jy weet God word bedroef deur dit alles – omdat jy ‘n bietjie van Sy droefheid in jou eie hart voel. Dan weet jy sonder twyfel, dat Jesus en alkohol nie meng nie. Hy is gebelg oor wat dit is – oor wat dit aan mense doen – en oor enige identifisering daarmee.

Die Bybel waarsku teen drank. Die historiese feite bewys dit is dodelik skadelik. En my hart sê vir my dit is sondig! My innerlike getuienis sê vir my Jesus het gekom om ons van sulke goddeloosheid te verlos en Hy sou dit nie maak om die gebruik daarvan aan te moedig nie.

Het Jesus gefermenteerde wyn gemaak? Het Paulus dit gebruik en aangemoedig? Nie in ‘n miljoen jaar nie! Die Heilige Gees binne-in my bevestig die oortuiging van my hart. Nou, het ek die getuienis van God se heilige Woord, die bewys van die wetenskap en die oortuiging van my innerlike mens. Ek het geen ander bewyse nodig nie.

Download PDF