Die Gawe van Geregtigheid

Hoe God ons verander na wie Hy sien ons is

Wat hou ons rein? Dit is die vraag agter ‘n kernpunt van Christelike teologie genaamd heiligmaking. Ek het al allerhande boeke oor heiligmaking gelees. Maar nadat ek bladsy na bladsy gelees het, het ek slegs meer en meer verward geword. Dit klink of elke kerkleier sy eie idee het oor die onderwerp. Na baie gebed, glo ek God het vir my ‘n manier gegee om sy werk van ons reiniging en heiligmaking te verstaan. Hier is ‘n eenvoudige definisie, soos die Heilige Gees dit aan my verduidelik het.

Heiligmaking is die Gees van Christus in ons – wat ons in werklikheid maak wie God ons sien ons is deur regverdigmaking (of vryspraak). Eenvoudig gestel: God het ons reeds “regverdig” gemaak (of, reg) in sy oë, en dit is ‘n wonderlike heiligheid. Maar nou bring Hy hierdie heiligheid af tot by ons praktiese lewens. Dit is die werk van die Gees van Christus in ons – om ons te verander na wie God ons reeds sien ons is. “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus “ (1 Thessalonicense 5:23).

Paulus skryf: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery” (1 Thessalonicense 4:3-4). Die apostel sê in wese, “Dit is God se wil dat julle ‘n heilige lewe leef – dat geen sonde mag of heerskappy oor jou het nie.”

Ek weet nie wat jou versoeking is nie. Maar die Bybel stel dit baie duidelik, “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie maar onder die genade” (Romeine 6:14). Die Here bedoel dat elke gelowige ‘n beherende mag in sy lewe het, ware gesag om oor sonde te heers.

“Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus” (Romeine 5:17, my beklemtoning).

Die Griekse woord vir “heers” hier, beteken “om te heers vanaf ‘n magsbasis.” Wanneer Paulus praat van “in die lewe heers,” praat hy daarvan om te heers oor sonde – en nie net in die hemel nie, maar in hierdie lewe. Ons moet heers oor elke demoniese mag, elke begeerte, elke owerheid wat teen ons kom. Dit is ware heiligmaking.

Tog word daar nog ‘n kragtige waarheid bevat in hierdie vers: hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang” (dieselfde vers, my beklemtoning). Hier noem Paulus geregtigheid ‘n gawe. Dit is iets wat aan jou gegee word, in jou besit geplaas word – iets waaraan jy kan raak en voel!

Hierdie “gawe van geregtigheid” is die Gees van Jesus Christus.

Toe jy jou lewe aan Christus oorgegee het, was jy aangeneem as ‘n seun en ‘n mede-erfgenaam gemaak saam met God se eie Seun. Op daardie oomblik, het God dieselfde Gees van Christus gestuur om in jou te bly – in jou te woon, jou te bemagtig en eintlik jou lewe vir jou te leef. “Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie?” (2 Korinthiërs 13:5).

Jesus is die enigste oorwinnaar oor sonde, die vlees en die duiwel. Hy alleen is die Oorwinnaar, die Leeu van Juda. En God het die Gees van hierdie magtige Kryger uitgestuur om ons Heiligmaker te wees. Ons het geen mag in onsself nie. Alle mag oor sonde, die vlees en die duiwel is in die Gees van Jesus Christus, wat gestuur is om in ons te woon.

Dink jy God sou ons regverdig maak of vryspreek, maar ons dan totaal magteloos laat teen die owerhede en magte van die duisternis? Dink jy Hy sê vir ons, “Ek beskou jou regverdig deur jou geloof in die voltooide werk van my Seun. Gaan nou – weerstaan sonde en bestry die duiwel so goed as wat jy kan. Ek sal jou krediet gee vir ‘n goeie poging”? Nee, nooit!

Christus voer nie oorlog teen die duiwel, oorwin hom, keer terug na die Vader en gee dan moed op met ons nie. Hy het nie bloot gesê, “Ek het my deel gedoen. Doen nou joune,” nie. Nee, ons geseënde Saligmaker het opgevaar na die hemel met ‘n bloedbevlekte banier van algehele oorwinning oor al die mag van die vyand. En Hy is nou steeds daar, as God en as seëvierende mens, wat sit in heerlikheid aan die regterhand van die Vader. En Hy het aan ons sy Gees gestuur, wat in elke ware gelowige se hart woon: “Die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Johannes 14:17).

Ek en jy moet nooit die versoeker in ons eie krag konfronteer nie. Niks wat ons besit, is genoeg nie. En ons kan nie ons begeertes en gewoontes konfronteer as swak, onnosele, lafhartige soldate nie. Inteendeel, volgens God se heilige Woord, het ons ‘n Gees in ons wat groter is as enige demoon in hierdie wêreld: “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4). Sy Gees bemagtig ons in alle oorloë met die vlees en die duiwel: “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efésiërs 3:20).

Ons heers in die lewe slegs wanneer ons die Gees van Christus toelaat om sy lewe in ons en deur ons te lewe. “Want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Romeine 8:13). Alle mag oor sonde, die vlees en die duiwel lê in die inwonende Gees van Christus: “Dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens” (Efésiërs 3:16).

Elke sonde wat jou verslaaf – elke demoniese mag – vereis ‘n wonderwerk van God. Slegs Hy weet hoe om sy kinders te verlos uit die mag van die duisternis. Dit moet bonatuurlik gedoen word: “Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?” (Galásiërs 3:5). God werk wonderwerke, nie vir diegene wat arbei met hulle eie krag nie, maar vir diegene wat Hom vertrou om dit kompleet te doen.

Die grootste moontlike vrystelling van krag en geloof is om heeltemal oortuig te wees dat God jou liefhet.

Paulus sê dit is liefde wat geloof in ons vrystel om te leef soos Jesus geleef het. “Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk” (Galásiërs 5:6). “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Romeine 8:37). In hierdie twee verse verbind Paulus ons oorwinning met God se liefde vir ons. Immers, hierdie hele konsep van heiligmaking gaan alles oor liefde.

Paulus sê die lewe van Christus was in Hom vrygestel deur ‘n geloof wat deur die liefde gewerk het: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galásiërs 2:20). Paulus was oortuig die Here het hom lief. Sy stand as ‘n seun van God het geloof in hom geproduseer – en daardie geloof het die lewe van Christus in hom vrygestel. “Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God” (2 Korinthiërs 3:5).

Paulus sê verder, “God het jou liefgehad selfs toe jy nog dood was in jou sonde. En nou dat jy op sy liefde vertrou, gee Hy vir jou opstandingskrag.” “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus” (Efésiërs 2:4-5).

Laat my vir jou ‘n kragtige voorbeeld van God se groot opstandingsliefde uit my eie lewe gee. In 1958, het ek in die Fort Greene ontwikkelings in Brooklyn ingegaan, die turf van die berugte Mau Mau bende. Toe ek opgestaan het om te preek, het bendelede katgeluide gemaak, getoet en geskree. Toe ek klaar was, het ek nader geloop om met die leiers te praat. Een van hulle was Nicky Cruz, wat probeer het om sy eie broer dood te maak. Ek het gesê, “Nicky, Jesus het jou lief.” Hy het in my gesig gespoeg en gelag. Toe het hy my gevloek.

Maar Nicky kon nie daardie woorde afskud nie: “Nicky, Jesus het jou lief.” Daardie woorde het hulle weg in die bendeleier se hart gevind en hy kon die krag daarvan nie weerstaan nie. Hy het gedink, “Wie kan my ooit liefhê? Ek haat mense. Niemand het my nog ooit liefgehad nie!”

Tog het die Here Nicky se hart binnegekom – en Nicky het uiteindelik geweet wie hy was: ‘n geliefde seun van God. Die waarheid van God se liefde het Nicky Cruz se lewe verander.

Jare later, nadat hy self ‘n evangelis geword het, het Nicky ons bediening in Texas besoek. Ek het vir hom gevra wat hom getrou aan Jesus gehou het al die jare. Hy het gesê, “Broer Dawid, jy het eenkeer vir my gesê dat Jesus my liefhet. Ek het daarvan oortuig geword. So, ek het bloot begin om Hom terug lief te hê. Dit is wat my gehou het.”

Nicky het nie enige teologie van heiligmaking gehad nie. Maar hy was gereinig – omdat hy sy Vader liefgehad het, en sy Vader se liefde ontvang het.

Jy mag dalk wonder, “Ek glo God het my lief, maar wat is my aandeel daarin?”

Hier is jou antwoord: “Die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word” (2 Petrus 2:9). Die Here weet alles van jou stryd af. Hy het medelye met jou gevoel van swakheid. Vir jou lyk dit hopeloos – maar God weet presies wanneer en hoe Hy jou sal verlos. Dank God, Hy het dit nie aan ons oorgelaat nie! Ons deel is bloot om te erken dat ons eie pogings nutteloos is. Ons moet ons onderwerp aan die Gees van Christus in ons – deur Hom aan te roep met vertroue en uit te roep, “Here, ek kan dit nie doen nie, maar U kan. Ek gee dit alles oor aan U.” Ek wil vir jou een van die belangrikste gedeeltes in die hele Bybel gee. Dit gaan oor hierdie noodsaaklikheid om op God se liefde te vertrou as ‘n middel om verlos te word:

“Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Johannes 3:1-3).

Jesus het die mag om ons te reinig. En daardie mag is tot ons beskikking slegs as ons rus in die wete dat ons kinders van God is – en dat Hy ons liefhet. Jy mag dalk weke, maande en jare spandeer om oorlog te voer teen jou sonde. Jy mag jou tande kners en God en jouself belowe, “Ek sal hierdie ding oorwin. Ek sal seëvier.” Nee! Praat met jou Vader vandag. Kyk na daardie gewoonte wat die lewe uit jou uit suig en jou gevange hou en laat geloof uit jou hart stroom: “O, Here, my magtige Verlosser, ek weet U het my lief. En U het al die krag wat ek nodig het. Ek is swak en hulpeloos. Maar ek vertrou op u krag om hierdie bose dinge uit te werp. Here, ek het ‘n wonderwerk van verlossing nodig. U gaan my vrymaak!”

Luister dan vir Hom om te praat. Wanneer Hy met jou praat, is die onvermydelike gevolg altyd vrede. Eis jou wonderwerk op – deur die hoor van geloof, nie deur die krag van die vlees nie. Jou Vader het jou lief. Nou, wees lief vir Hom soos ‘n seun of dogter. Amen!