Satan Is Daarop Uit Om Jou Te Vernietig!

“Werp dan julle vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning het, nie weg nie" (Hebreërs 10:35). As jy 'n Christen is, is jy in 'n kwaai oorlog. Eintlik is jy in 'n stryd om lewe en dood om jou geloof. Satan is daarop uit om die geloof van al God se uitverkorenes te laat skipbreuk ly en te vernietig. En hoe sterker jou geloof is, hoe groter sal sy aanslag daarteen wees.

Onwrikbare geloof in die Here veroorsaak woede in die hel. Niks is 'n groter bedreiging vir Satan se koninkryk as 'n Christen wat onwrikbaar in sy geloof is nie. Hoekom? Dit is deur geloof en die krag wat dit vrystel, dat Satan se koninkryk onderwerp word. Deur geloof word geregtigheid gebore en demoniese vure word geblus. God se beloftes word verkry en die bekke van leeus word toegestop. Deur geloof ontvlug God se getroues die skerpte van die swaard. Uit swakheid word hulle sterk gemaak. Hulle word dapper in die oorlog en laat die duiwel se leërmagte op die vlug slaan. Hulle verduur bespottings, slae en stenigings. Wanneer hulle in die tronk gestop word, sing hulle. Om dit eenvoudig te stel, geloof onderhou diegene wat dit besit!

Paulus het Timótheüs gewaarsku dat sommige hulle geloof in tye van beproewing sal wegstoot: "Sommige het dit van hulle af weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely" (1 Timótheüs 1:19). Hy het bygevoeg dat Satan "keer die geloof van sommige om" (2 Timótheüs 2:18). Daarom het Paulus vir Timótheüs uigedaag om 'n berekende stryd te voer, "en aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou" (1 Timótheüs 1:19).

Die apostel Petrus het onder wrede aanvalle teen sy geloof deurgeloop. Sy vertroue in Jesus het die hel so woedend gemaak dat Satan toestemming gevra het om hom te sif om te kyk of hy staande sou bly."Simon, Simon, kyk die Satan het vurig probeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk" (Lukas 22:31,32).

Miskien gaan jy op die oomblik deur ‘n verskriklike storm in jou lewe. Jou probleme lyk of dit meer word: finansiële probleme, huweliksprobleme, probleme by die werk, vyande wat na jou toe aankom soos dreunende golwe om jou te laat sink. Sê my, het jou geloof opgedroog? Taan dit stadig weg met elke teleurstelling? Sê jy in jou hart, “Here, gee U nie om nie? Sal U my laat ondergaan in hierdie storm?”

Dit is vir ‘n tyd soos hierdie waarvoor Jesus hierdie wonderlike woorde gespreek het: “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:7,8). Ek vra vir jou: Sal Jesus getrouheid in jou uur van beproewing kry?

God het ons ‘n kragtige wapen gegee teen Satan se aanvalle teen ons geloof. Dit is die getuienis van die “groot wolk van getuienis” wat dit alreeds tot in heerlikheid gemaak het met hulle geloof in een stuk. “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons is” (Hebreërs 12:1).

Wat ‘n beeld. Hierdie vers toon 'n leër van seëvierende heiliges uit elke era. Hulle aanskou ons aandagtig soos 'n skare in die pawiljoen. Hulle dra krone van geregtigheid en waai palms terwyl hulle ons in ons resies aanpor: “Hardloop met geduld! Ons het tot die dood geveg en het nie gefaal nie. God het ons bewaar, ons geloof het oorwin. Die waarheid werk: Ons het gewen! Ons is oorwinnaars. So hou aan. Jy kan in jou moeilike tye oorwin.”

To hold onto faith in these present times, I believe we must be alert to three lies the enemy brings against us.

1. Satan gee ‘n wanvoorstelling van die Here se suiweringsproses. Al die profete het voorspel dat God se mense deur die vuur van die smelter sal gaan. “Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets” (Sagaria 13:9). Wanneer silwer of goud deur vuur gelouter word, kom al die skuim na die oppervlak. Dit sluit in alle onsuiwerhede, allooie, mindere metale, vuilgoed, spikkels en afvalkolle.

As ons onder God se Woord sit en Hy sy lig op ons harte laat skyn, dan bring dit alle onsuiwerhede na die oppervlak. Deur die hele proses, word ongeloof van ons af weggeneem deur die Here se louterende vuur. Tog is tydens sulke tye wanneer God ons suiwer, dat die Satan die ergste leuens na ons toe bring om ons aan te kla. Hy probeer ons sover te kry om ons fokus op ons onsuiwerhede te plaas, eerder as op die onvoorwaardelike liefde van die Here.

2. Satan probeer ons geloof te laat skipbreuk ly deur hierdie liefdevolle kastydings van God te verdraai. Die duiwel sal jou probeer oortuig dat jou huidige kastyding die gevolg is van God se ontevredenheid met jou. Maar die Nuwe Testament praat van kastyding as ‘n soort van “opvoedkundige regstelling.” Jesus het van kastyding gepraat toe hy aan die apostel Johannes verklaar het, “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek; Wees dan ywerig en bekeer jou” (Openbaring 3:19).

Op hierdie oomblik, is dit waardeur jy as kind van God gaan, geen ongeluk nie. Dit is nie een of ander geïsoleerde katastrofe of beproewing nie. Elke toets en vurige beproewing is onder jou Vader se toesig. En daar is ‘n doel in alles, “dit is tot ons voordeel, sodat ons deelgenote van Sy heiligheid kan word.”

3. Satan sal vir jou lieg as jou tugtiging lyding insluit wat aanhou, sonder dat daar ‘n antwoord blyk te wees. Jou aanhoudende beproewing mag fisiese lyding insluit, werkloosheid, kinders wat rebelleer, ongelowige vriende, geestelike nood, onrus of pyn. Terwyl jy dit dag vir dag verduur, sal Satan in jou oor fluister net soos hy met Job gedoen het, ”Die regverdige ly nie. As God se beloftes waar is — dan sou jy teen hierdie gered geword het. Waar is jou God? Is dit wat jou geloof jou bied?”

Geliefde, moenie jou geloof wegwerp nie! Satan is ‘n leuenaar. Jy ly omdat God jou liefhet, omdat Hy omgee. Hy ken jou lyding, en Hy sal jou nie daardeur laat vernietig word nie. In der waarheid, Hy weet net wanneer Hy ‘n uitkoms moet beskik. Hy sal nie reageer tot op daardie voorafbepaalde tyd nie, en “sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

Baie val vir die duiwel se leuens wanneer hulle gekasty word. Hulle laat toe dat ‘n wortel van bitterheid in hulle harte begin groei en gou koester hulle woede teen God: “Waarom laat die Here hierdie dinge toe? Ek het so hard probeer om Hom te behaag, het Hom soveel vertrou. Hoekom laat Hy my in die steek?” God het ons oor sulke kere gewaarsku: “Moenie dat dit gebeur nie. In plaas daarvan, wees ywerig, waaksaam, hou vas aan jou vrymoedigheid. Dit het ‘n groot beloning.”

Die Here begeer mense wat aan geloof sal vashou selfs al verloor hulle alles.

Beskou die kragtige woord van die outeur van Hebreërs: “Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het, gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ‘n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ‘n toestand verkeer het. Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van  van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ’n beter en blywende besitting in die hemele het.

“Werp dan jull vrymoedigheid, wat ‘n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat Kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (Hebreërs 10:32-39).

Hier is ‘n beskrywing van mense wat grootliks geteister is nadat hulle weergebore is. Hulle het al hulle goed en besittings verloor as gevolg van hulle getuienis. Tog het hulle geloof hulle in blydskap gehou. Soms wonder ek of die dae van ons Amerikaanse leefstyl getel is. As daardie dag kom, sal dit almal van ons affekteer, almal van ons sal die pyn voel. En so ‘n dag sal baie dinge van God se mense se karakter openbaar. Dit is maklik om van geloof te praat wanneer alles goed gaan. Dit is iets heeltemal anders wanneer ons langdurige pyn beleef. Dit is wanneer ons geroep word om die berowing van ons goed met blydskap te neem.

Paulus het sy geloof behou in goeie en slegte tye. In sy laaste dae kon Paulus met trots sê, “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voleindig, ek het die geloof behou” (2 Timótheüs 4:7). Dink aan Paulus se getuienis op daardie oomblik. Hy kon sê, “Satan het sy boodskappers gestuur om teen my te veg in Jerusalem, Damaskus, Asië, Éfese, Korinte. Maar ek het die geloof behou.

“Hy het my probeer sink in die storm geteisterde Mediterreense see. Drie keer het ek skipbreuk gely, rondgedryf op die diepsee vir ‘n nag en ‘n dag. Maar ek het die geloof behou. Vyf keer het die Jode my met nege-en-dertig houe geslaan. Ek was in die tronk gegooi, drie keer met stokke geslaan, gestenig en vir dood gelaat. Maar ek het die geloof behou.

“Ek het gevare in die veld en in die stad in die gesig gestaar, in die woestyn en in die see. Ek is besteel deur my eie volksgenote. Ek is in die gevaar gestel deur valse broeders. Maar ek het die geloof behou. Ek was baie kere uitgeput, vol pyne in my liggaam, slapelose nagte. Ek was honger en dors, koud en naak, swaar gelaai met alle soorte bekommernisse. Tog het ek die geloof behou.

“Ek was besorgd, verward aan elke kant, benoud en vervolg, maar nooit terneergedruk nie. Ek is nooit in my geloof geskud nie. Deur dit alles, was my geloof in die Here nooit vernietig nie.”

Ek laat jou nou met hierdie woorde wat gespreek is om ons in die toekoms deur te dra.

“Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis: genadig, barmhartig en regverdig. Want hy sal nooit wankel nie; die regverdige sal in ewige gedagtenis wees. Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die Here. Vas is sy hart, hy vrees nie, totdat hy op sy teëstanders neersien.

“Hy strooi uit, hy gee aan die behoeftiges; sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid; sy horing word verhoog in eer. Die goddelose sien dit en is vererg” (Psalm 112:4,6,10).

“Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die Here sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid” (Psalm 121:7,8).

“Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ‘n rots” (Psalm 27:5).

Die Here sê aan al sy kinders: “En roep my aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer” (Psalm 50:15). Mag jy getrou bly om Hom aan te roep tydens jou beproewing. Werp altyd al jou bekommernisse op Hom!