Intimiteit met God

Eens op 'n tyd was die naam Vince Lombardi bekend in elke Amerikaanse huishouding. Hy was ‘n kulturele ikoon in die Sestigs met sy sukses as ‘n NFL voetbal afrigter. Maar sy benadering tot afrigting was op baie van die lewe van toepassing en mense het dit aangegryp. Selfs tuisbly ma’s het Lombardi se sêgoed geken, omdat hulle laerskool kinders hom net so dikwels aangehaal het as wêreldberoemde besigheidsleiers.

Toe Lombardi die eerste keer ‘n afrigtingswerk gekry het, was sy spelers van die Green Bay Packers reeds ‘n vaardige span. Hulle het geweet hoe om ‘n blits te identifiseer en wat om te verwag van ‘n 4-3 verdediging. So, toe Lombardi aanvanklik die vergadersaal binnegekom en ‘n voetbal gedra het, het hulle gewonder watter wysheid hy vir hulle sou hê. Sou hy die klem plaas op aanvallende spel of verdediging? Sou hy ‘n heeltemal nuwe strategiese plan inbring?

“Menere,” het Lombardi gesê en bloot die bal opgehou, “dit is ‘n voetbal.” Dit het dom geklink. Maar wat Lombardi hiermee bedoel het, was, “Ons begin by die beginsels.  Omdat ons almal moet weet waarom ons hier is.”

Elke Christen wat hier lees, moet homself afvra: “Weet ek waarom ek hier is?” Dit is ‘n kritiese vraag vir enige volgeling van Jesus. Ons almal moet dit van tyd tot tyd vir onsself vra. As ‘n bedieningsleier, vra ek vir myself en vir my medewerkers: “Waarom is ons hier? Waarom doen ons wat ons doen? Wat is ons doel?”

Die kort antwoord hiervoor, op die oppervlak, is dat ons ‘n wêreldwye bediening lei om die liggaam van Christus op te bou, die verlorenes te bereik, en liefdevolle sorg aan die behoeftiges te verskaf. Deur hierdie dinge te doen, moet ons weet hoe om dit uit te voer – om planne, strategieë, en stelsels in plek te hê. En ons het. Maar die werklike antwoord tot my kernvraag – “Waarom is ons hier?” – is dieselfde vir beide die jongste dissipel van Christus en die mees ervare, wêreldswyse bedieningsleier. Die antwoord is: “Ons is hier om Jesus te bedien.”

Ek het ‘n verskriklike patroon in die kerk gesien die afgelope paar dekades. Dit het begin met die kerkgroei beweging, ‘n verskynsel wat die idee laat ontstaan het dat korporatiewe stategieë die koninkryk van God kon bevorder. As hierdie beweging die “Lombardie Vraag” moes beantwoord oor hulle doel hier, sou hulle moes erken, “Ons is hier om groter te word, om uit te brei, om meer in te bring.”

As jy dit as jou doel in die koninkryk van God sien, is jy reeds verlore. Moenie my verkeerd verstaan nie: Om ‘n kerk of uitreik te laat groei, is nie ‘n slegte ding nie. En dit sou verkeerd wees om te sê dat die kerkgroeibeweging net sleg was. Maar hierdie beweging het die kerk se bronne op ‘n tragiese manier gefokus. Dit het ons weggelei van ons bron van lewe, Jesus, en in plaas daarvan, onself laat wend tot selfgerigte doelwitte en planne.

Laat my my antwoord herhaal op die Lombardi Vraag, wat van toepassing is op elke gelowige, kerk en uitreik: Ons is hier om Jesus te bedien. En ons kan onmoontlik ons Saligmaker en Here bedien tensy ons by sy teenwoordigheid begin.

Geen Christen sal ooit verkeerd gelei, mislei, of van die punt af wees nie as hy of sy begin by Christus se teenwoordigheid en dit nooit verlaat nie.

Geen Bybelse figuur het ooit meer strategiese planne nodig gehad as Koning Dawid nie. Hy moes vyandige leërs trotseer wat vinnige, doelgerigte planne te midde van die lewe-of-dood situasies geverg het. En hy moes ‘n verdeelde koninkryk tussen Israel en Juda regeer. So, hoe het Dawid sy doel bereik om eer aan God te bring en op die ou end Israel se beroemdste koning geword?

Dit was nie weens strategiese planne nie. Dawid het in oorwinning beweeg omdat sy hart in elke situasie daarop gerig was om die Here te bedien. Die Bybel maak dit duidelik met sy optredes en met al die aanbiddende, smagtende psalms wat hy geskryf het. Om die Here te bedien, was altyd die belangrikste, terwyl Dawid die werke van God wat voor hom gestel was, nagejaag het.

Samuel was bekend as ‘n groot profeet in Israel – maar nie weens sy strategiese verhoudings met konings en leiers nie. Die Skrif maak dit duidelik dat Samuel ‘n hart gehad het om die Here te bedien van ‘n baie jong ouderdom af. Selfs as ‘n seun, was Samuel voortdurend in die Tempel om God se teenwoordigheid te soek – en bo alles het daardie verhouding vir Samuel invloed by die mense van die laagste sport van die lewe tot die hoogste ampte in die land gegee.

Dawid en Samuel wys vir ons dat om die werke van God te volbring, moet ons sy teenwoordigheid ken. En dieselfde is waar vir elke gelowige vandag: Om die Here te volg, beteken om Jesus-gefokus, Jesus-gesentreerd, en Jesus-bemagtig te wees. Die Bybel noem Christus die Alfa en die Omega – die begin en die einde van alle dinge – en dit is van toepassing op ons lewens. Hy moet alles vir ons wees.

Dit word gesê daar is geen afdelings van werk in God se koninkryk nie. Ons is almal geroep as bedienaars van die evangelie, maak nie saak wat ons werk of roeping is nie. Ek het ‘n paar van die armste, mees hawelose mense in die wêreld ontmoet en sommige van hulle is kragtige evangeliste vir die Here. Hulle het almal een ding in gemeen met die oorlede, verstommende Billy Graham: Wanneer jy hulle ontmoet, weet jy hulle het tyd in God se teenwoordigheid deurgebring. Dit maak die groot verskil, maak nie saak wat ons stand in die lewe is nie.

Dit is maklik vir die mees toegewyde Christen om weg te dwaal van sy doel van Jesus te bedien.

Baie bedienaars vandag is gemakliker om planne te implementeer as om in Jesus se teenwoordigheid te sit. Die “nuwe normaal” vir kerkleiers, is om net soveel ‘n strateeg te wees as ‘n bedienaar. Ek dink sommige herders vrees selfs intimiteit met God. Dit is immers baie makliker om op jou eie planne te maak as om Christus die middelpunt te behou en jou tot Hom te wend vir alles.

Om dit duidelik te maak, wanneer ek praat van om in God se teenwoordigheid te wees of leiding van Hom te kry, praat ek nie van ‘n geheimsinnige, openbarende belewenis nie. Baie van ons het ‘n verkeerde idee van wat dit is om “in God se teenwoordigheid” te wees. Ons is geneig om daaraan te dink as ‘n gevoel of ‘n emosie of ‘n bonatuurlike oomblik. All hierdie dinge kan God se teenwoordigheid vergesel, maar dit definieer dit nie. God se teenwoordigheid is bloot Homself, sy wese. Ons het nie een of ander ervaring nodig vir sy bonatuurlike teenwoordigheid om 'n werklikheid in ons lewe te wees nie.

Met die Heilige Gees wat in ons bly, besit ons altyd God se teenwoordigheid – en dit is ‘n ontsaglike ding, soos Paulus sê, “Aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid” (Kolossense 1:27).

In Ou Testament tye, het die Here sy teenwoordigheid bekend gemaak deur die hemele te skeur of Homself deur ‘n kolom van vuur of ‘n wolk van rook te openbaar. Toe Jesus gekom het, het dit verander hoe ons God se teenwoordigheid beleef. Deur Christus, kon ons eintlik die teenwoordigheid van God sien. Jesus se lewe het presies geopenbaar hoe God is – hoe uiters vol liefde, genade, barmhartigheid, waarheid en geregtigheid Hy is. Die Seun van God het na die aarde toe gekom as ‘n presiese voorstelling van die hemelse Vader se natuur.

Selfs meer ontsaglik is, dat ons deel het in hierdie goddelike natuur, deur die Heilige Gees wat in ons lewe. ‘n Verandering vind plaas wanneer ons Jesus aanvaar: “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes gesken het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is” (2 Petrus 1:3-4, my beklemtoning).

So, wat beteken dit presies om God se natuur in ons te hê? Dit beteken ons hoef nie te probeer om heilig te wees nie; ons is heilig, op grond van sy teenwoordigheid in ons. Ons hoef nie te probeer om vir Hom aanvaarbaar te wees nie; ons word deur Hom aanvaarbaar gemaak. Ons hoef nie te probeer om goed te wees nie; ons is reeds goed deur sy goddelike natuur, wat in ons woon deur sy Gees.

Het jy al ooit gewonder hoe dit sou wees om elke dag te lewe sonder skaamte? Om heeltemal  skuldvry te wees, sonder vrees vir enige iemand se beskuldiging? Wat sal daardie soort vryheid doen aan jou lewe? Ek kan vir jou sê: Jy sal ‘n lewe sonder vrees hê. Jy sou kon lewe met oorgawe. Jy sou enigiets kon doen, hoe die Here jou ook al lei, sonder hindernis of veroordeling.

Vriend, dit is presies die lewe wat Jesus vir jou gekoop het. En tog, jy is waarskynlik nog nie daar is, is jy? Die meeste van ons is nie – maar ons het hierdie potensiaal. Dit is waarom Paulus ons vermaan volgens sy eie voorbeeld: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar” (Filippense 3:14-15).

Hoewel ons vry kan wees van veroordeling, sal ons nooit heeltemal vry wees van stryd in ons gedagtes nie.

Soos Paulus dit uitgewys het, dit is slegs die natuur van die geestelike wêreld waarin ons lewe: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efésiërs 6:12).

Soos ons onsself in God se Woord verdiep, word sy beloftes uiteindelik sterker in ons gedagtes as enige boodskap wat die vyand stuur. Sy gesaghebbende Woord breek die kettings van vrees, twyfel en ongeloof wat ons vehinder. “Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus” (1 Korinthiërs 2:16).

Hier is nog ‘n aspek van God se teenwoordigheid in ons: die sin van Christus te besit. Dit maak nie saak watter stryd in ons gedagtes woed nie, ons stand is altyd een van oorwinning, omdat ons lewe en beweeg in God se teenwoordigheid. Selfs op ons slegste dae, word ons sterk gehou, regop gehou en vrede gegee deur die lewe en sin van Christus binne-in ons. Deur die kettings te breek is egter net die begin van Jesus se werk binne-in ons. Hoe meer tyd ons met Hom deurbring, hoe meer berei Hy ons voor om sy werke te doen: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek” (1 Johannes 3:8).

Om die werke van Jesus te doen, moet ons leef in die lewe van Jesus. Dit mag vir jou na kettery klink. Maar soos Johannes ons leer, “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:6). As ons nie Christus se teenwoordigheid in ons daaglikse lewe dra nie, het ons eenvoudig nie die reg om sy werke te doen nie. Waarom nie? Omdat daardie werke gebore word in sy teenwoordigheid. Jesus het selfs van Homself gesê, “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie” (Johannes 5:19).

 Intimiteit met Hom is die begin van ons bemagtiging om sy werke op aarde te doen. Ons kan eenvoudig nie vorentoe beweeg in daardie werke daarsonder nie. Ek dring by jou aan: Ontmoet jou Saligmaker in gebed. Herinner jouself aan sy ontsaglike beloftes deur sy Woord. Hy is getrou om jou te lei deur sy Gees se teenwoordigheid in jou. Maak dit jou eerste stap om die werke van Jesus te doen: om Hom intiem te ken. Dit is ‘n werk waarmee jy vandag kan begin. Amen!