Wat Moses Van Leiding Geweet Het

David Wilkerson (1931-2011)

Moses was daarvan oortuig dat sonder God se teenwoordigheid in sy lewe, dit vir hom nutteloos wou wees om enigiets aan te pak. Toe hy van aangesig tot aangesig met die Here gepraat het, het hy gesê, “As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie” (Exodus 33:15). Hy het in wese gesê, “Here, as u teenwoordigheid nie met my is nie, dan gaan ek nêrens nie. Ek sal nie ‘n enkele tree gee, tensy ek seker is dat U reg langs my is nie.”

Moses het geweet dat dit God se teenwoordigheid onder hulle was wat hulle onderskei het van al die ander nasies. En dieselfde is waar in die kerk van Jesus Christus vandag. Die enigste ding wat ons onderskei van ongelowiges, is God se teenwoordigheid – wat ons lei, rigting gee en sy wil in en deur ons werk.

Moses was nie begaan oor hoe ander nasies hulle leiding gekry het, hulle strategieë beplan, hulle regerings bestuur of hulle leërs gelei het nie. Sy filosofie was, “Ons werk op een beginsel alleen. Die enigste manier vir ons om gelei of geregeer te word, om oorlog te maak en te oorleef in hierdie wildernis, is om die teenwoordigheid van God met ons te hê!”

God het Moses se dapper stelling op hierdie manier beantwoord: Ek sal “self meegaan om jou die rusplek te verskaf” (33:14). Die Hebreeuse woord vir “rusplek” beteken hier “’n vertroostende, vredevolle vertroue.” God het in wese gesê, “Dit maak nie saak watter vyande of beproewings jy beleef nie, jy sal altyd ‘n kalm rustigheid en vertroue in My kan vind.”

‘n Kerkliggaam wat God se teenwoordigheid in sy midde het, sal leef, beweeg en aanbid met ‘n stille vertroue in die Here te alle tye. Dieselfde is waar vir elke individuele Christen. As jy die teenwoordigheid van Jesus in jou lewe het, sal jy God se goddelike orde beleef. Jy sal ‘n vrede en ‘n kalmte hê sonder bekommernis of angs, sonder om heen-en-weer te hardloop om na leiding te soek, geen gevoel dat die bodem besig is om uit te val nie. Wat ‘n wonderlike manier om te leef!