Godgegewe Genade om Staande te Bly

Gary Wilkerson

Vir die eerste keer in die geskiedenis, identifiseer minder as 50 persent van Amerikaners hulleself as gelowiges van enige soort. Daardie getal is selfs laer – 30 persent – vir diegene onder dertig. Baie van hulle merk “GEEN” as hulle godsdienstige affiliasie. Dit word geraam dat hierdie geslag binne ‘n dekade heeltemal verlore sal wees as gevolg van sekularisme en goddeloosheid. En verdraagsaamheid vir Christene sal net afneem.

Wat moet ons met hierdie inligting doen? Die skrywer van Hebreërs antwoord, “Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ’n groot lydensworsteling deurstaan het” (Hebreërs 10:32).

God het die lyding van daardie eerste Christene verander in werktuie vir evangeliekrag: “Omdat julle deur smaad en verdrukkinge ’n skouspel geword het ... julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ’n beter en blywende besitting in die hemele het. Werp dan julle vrymoedigheid, wat ’n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ’n klein tydjie, en Hy wat kom ... Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (10:33-39).

Hoewel dit lyk of hierdie ‘n harde gedeelte is, is daar goeie nuus hier ingesluit. Dit spreek van ‘n tyd waarin dinge so moeilik word dat gelowiges versoek word om terug te deins van hulle boodskap af. Maar “by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (10:39).

Ons sal dalk nooit dieselfde beproewings as Nuwe Testamentiese gelowiges beleef nie, maar God gee steeds vir ons Nuwe Testamentiese krag. Ons sal sekerlik beproewings van ons eie beleef omdat ons nie immuun is teen wat in die wêreld gaan gebeur nie. Maar daardie swaarkry sal krag in ons produseer wat ons nog nooit beleef het nie.

Die ongelowiges waarna verwys word hierbo, verteenwoordig ‘n siel wat op pad is hel toe, iemand vir wie Jesus gesterf het. Daardie getalle alleen noop ons om bo middelmatige Christenskap uit te styg om die evangelie sonder vrees of verhindering te verkondig.

Christus se groot mag word deur genade alleen geskenk en dit is vry vir almal wat glo. Mag jy ‘n getuienis van sy genade en krag wees vir almal in jou invloedskring vandag.