Rus in God se Liefde

David Wilkerson (1931-2011)

God sê vir ons, “My seun, gee my jou hart” (Spreuke 23:26). Sy liefde eis dat ons reageer, dat ons ‘n liefde, wat geheel en al onverdeeld, ons hele hart, siel, verstand en krag vra, teruggee. Die Here sê egter vir ons in baie duidelike terme, “Jy kan nie My liefde verdien nie. Die liefde wat Ek gee, is onverdiend.” Johannes skryf, “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (4:19).

Niemand word eendag wakker en besluit om sonde te laat staan en Jesus te volg nie. Nee, die Heilige Gees van God reik af tot in die wildernis van ons lewens, wys vir ons ons verlore toestand en laat ons ellendig in ons sonde voel. Ons Vader het sy Woord vir ons gestuur om vir ons waarheid te wys en Hy het sy Gees gestuur om ons van sonde te oortuig en toe self agter ons aangekom. Hy het dit alles vir ons gedoen!

Dawid praat van rus in sy liefde vir God as hy skryf, “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie” (Psalm 73:25). Die hart wat die Here liefhet hou heeltemal op om elders te gaan soek vir vertroosting. Dit vind eerder volle tevredenheid in Hom. God se liefdevolle goedertierenheid is beter as die lewe self.

So ‘n hart juig ook in sy liefde vir God. Wanneer ‘n kind van God weet hoe lief sy Vader hom het, plaas dit ‘n behae in sy siel. Ons liefde vir die Vader moet deur sy Seun oorgedra word. Jesus sê, “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Dit is deur Christus alleen wat ons deur die Vader aanvaar word en toegang tot Hom het.

God het al sy goedheid, liefde, genade en heerlikheid in sy Seun geplaas en Hy het Jesus gestuur om daardie heerlikheid aan ons te manifesteer en te openbaar. Daarom kom Christus na ons toe as die ewebeeld van ons liefdevolle Vader. “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad” (Johannes 15:9).

Wanneer jy ware intimiteit met die Vader vind, sal jy in sy heerlikheid kan lewe – al die dae van jou lewe!

Tags