Volskaalse Oorlog Teen God se Kinders

David Wilkerson (1931-2011)

“Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12).

As volgelinge van Jesus Christus, moet ons heeltyd daarvan bewus wees dat die duiwel daarop uit is om ons te vernietig. Daarom sê Paulus dat ons soveel as moontlik oor die vyand se taktiek en planne moet weet: “Sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Korinthiërs 2:11)

Hierdie vers in Openbaring sê vir ons dat Satan ‘n volskaalse oorlog teen God se heiliges verklaar het – en hy het ‘n spertyd om sy werk af te handel. Terwyl talle Christene op hierdie middernag-uur sluimer, net soos Jesus voorspel het, werk die duiwel verwoed voort en berei hy voor vir oorlog. Hy is deeglik bewus van die kort tyd wat hy oor het om sy bose doelwitte te bereik en daarom is hy alewig besig om te konkel en maniere uit te dink om die kerk van Jesus Christus te teister en te vernietig.

Satan mag vir jou lieg en jou geen rus gee van sy beskuldigings nie. Jesus sit nou veilig by die hemelse Vader, ver buite bereik van Satan, maar die duiwel voer steeds oorlog teen Christus deur dit te rig teen gelowiges – Christus se nakomelinge.

In teenstelling met die mening van sommige Christene, besit Satan nie almagtige krag nie; hy was deur Jesus verslaan en gestroop van alle gesag. Hy is ook nie alwetend nie (wat beteken dat hy nie gedagtes kan lees nie). En hy is ook nie alomteenwoordig nie. Maar hy het owerhede en magte reg rondom die aarde gestasioneer en sy leër van demone verskaf vir hom inligting op sy versoek.

Petrus gee vir ons hierdie waarskuwing: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8).

Satan ken jou swakhede, jou stryd met die vlees, begeertes of probleme in jou gedagtes en hy sal hard aan jou werk op daardie gebiede. Hy sal jou probeer oortuig dat jy nooit van sonde vry sal wees nie, maar die oomblik wat jy in Jesus se rigting beweeg, word die duiwel hulpeloos gelaat. Jakobus sê vir ons, “Weerstaan die duiwel en hy sal van jou af wegvlug” (Jakobus 4:7).

So, hoe weerstaan jy die vyand? Jy doen dit deur geloof alleen! Kom eenvoudig na Jesus toe en vertrou dat Hy jou uit Satan se kloue red.