‘n Mate van God se Glorieryke Gees

David Wilkerson (1931-2011)

“En Hy het vir hulle gesê: Pasop wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het” (Markus 4:24-25).

Jesus het geweet dat hierdie woorde vreemd sou klink vir nie-geestelike ore. Daarom het Hy sy boodskap voorafgegaan deur te sê, “As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor” (Markus 4:23). In wese het Hy gesê, “As jou hart oop is vir God se Gees, sal jy verstaan wat Ek vir julle te sê het.” Jesus praat van die heerlikheid van God in ons lewens, Christus se geopenbaarde teenwoordigheid. Kortliks, die Here deel sy heerlike teenwoordigheid uit in verskeie hoeveelhede, of aan kerke of aan individue. Aan Jesus alleen was die Heilige Gees sonder mate gegee: “Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie” (Johannes 3:34). Die Here het reeds vir elkeen van ons ‘n mate van God se Gees toebedeel. Paulus skryf, “Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus” (Efésiërs 4:7) en “Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om meer besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het” (Romeine 12:3).

Wat is God se doel daarin om sy Gees, sy heerlikheid en teenwoordigheid in verskillende mate aan ons uit te deel? Hy doen dit met een doel, sodat “... ons almal kom tot die eenheid van die geloof...tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efésiërs 4:13).

Roep vandag uit tot Jesus, “Ek wil nie misloop wat U op die punt is om in u kerk te doen nie.” Soos jy jou Saligmaker ‘n groter mate van jouself gee, sal jy oral bewyse van sy teenwoordigheid, heerlikheid en liefde sien. Hy het belowe om sy Gees op sy kinders uit te stort in hierdie laaste dae en Hy sal getrou wees om na jou te kom en jou meer van Homself te gee.