‘n Getuienis soos Henog S’n

David Wilkerson (1931-2011)

“Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het” (Hebreërs 11:5). Henog het intieme gemeenskap met sy hemelse Vader gehad en sy lewe is nog ‘n getuienis van wat dit beteken om waarlik in geloof te wandel. Sy gemeenskap met God was so intiem dat die Here hom opgeneem het in die hemel lank voor sy lewe op aarde tot ‘n einde gekom het.

Waarom het die Here gekies om Henog op te neem? Die openingswoorde van hierdie vers sê vir ons baie duidelik dat dit as gevolg van sy geloof was. Verder sê die laaste vers vir ons dat Henog se geloof God behaag het. Dit is iets waarna elke Christen gelowige moet strewe om te wees. Die Griekse woord vir “behaag” wat hier gebruik word, beteken ten volle verenig, volkome gewillig om saam te stem, in totale eenheid. Kortliks, Henog het die innigste gemeenskap met die Here gehad wat enige mens kan geniet. En hierdie intieme gemeenskap met God het die Vader behaag.

Die Bybel sê vir ons dat Henog met die Here begin wandel het nadat sy seun Metúsalag, wat 969 jaar oud geword het, gebore is. Jy onthou dalk Metúsalag as die oudste mens wat in die Bybel opgeteken is (Génesis 5:27). Henog was vyf-en-sestig met sy seun se geboorte en het toe die volgende 300 jaar in gemeenskap met God deurgebring. Hebreërs maak dit duidelik dat Henog so in voeling met die Vader was, so naby Hom met uurlikse kommunikasie, dat God gekies het om hom huistoe, na Hom toe, te neem. In wese het die Here vir Henog gesê, “Ek kan jou nie verder in die vlees neem nie. Om my intimiteit met jou te verhoog, moet Ek jou huistoe, tot aan my sy bring.” Daarom het Hy Henog opgeneem, weg na die hemel toe!

Na ons wete, het Henog nooit ‘n wonderwerk gedoen nie, nooit ‘n diepgaande teologie ontwikkel nie, nooit enige groot werke wat waardig is om in die Skrif te noem, gedoen nie. Ons lees egter hierdie eenvoudige beskrywing van hierdie getroue man se lewe: “Henog het met God gewandel.”

Kan jy jouself indink dat dit oor jou gesê word? Smag jou hart vir ‘n inniger wandel met die Here? Is daar ‘n groeiende ontevredenheid in jou met die dinge van die wêreld?

Ware geloof word daarin gevind om op jou Saligmaker te wag, Hom te bedien totdat jy sy hart ken en hoor.

Tags