Christus Skyn Deur Ons Lyding

David Wilkerson (1931-2011)

Niemand op aarde kan jou in die bediening stel nie. Jy kan miskien ‘n diploma gegee word by ‘n kweekskool, aangestel wees deur ‘n biskop, of deur ‘n denominasie afgevaardig wees. Maar Paulus openbaar die enigste bron van enige ware roeping tot die bediening: “En ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het” (1 Timótheüs 1:12).

Wat bedoel Paulus hier as hy sê dat Jesus hom krag gegee het en hom getrou geag het? Drie dae na die apostel se bekering, het Christus Paulus in die bediening aangestel – spesifiek, die bediening van lyding: “Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Handelinge 9:16). Dit is presies die bediening waarna Paulus verwys wanneer hy sê, “Daarom, aangesien ons hierdie bediening het” (2 Korinthiërs 4:1). Hy gaan verder en sê, “Volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie.” Hy praat van die bediening van lyding en hy maak dit duidelik dat dit ‘n bediening is wat ons almal het.

Paulus sê vir ons dat Jesus hom belowe het om aan hom getrou te bly en hom krag te gee deur al sy beproewings heen. Die Griekse woord vir “krag gee” beteken ‘n voortdurende voorsiening van krag. Daarom sê Paulus, “Jesus het beloof om vir my meer as genoeg krag te gee vir die reis. Hy gee my krag om getrou te bly in hierdie bediening en as gevolg van Hom, sal ek nie moeg word of ingee nie!”

Paulus het self erken dat hy nie ‘n welsprekende spreker was nie. Hy het al sy wêreldse opleiding en sy eie menslike briljantheid opsy geskuif. Hy sê dat hy in swakheid, in vrees en bewing gepreek het. Selfs Petrus sê dat Paulus dinge verkondig het wat moeilik was om te verstaan (sien 2 Petrus 3:15-16). Sy bediening was om Christus uit te straal – wat in Hom gevorm is deur groot lyding. Hierdie belangrike apostel het ‘n ontsaglike impak op sy eeu gehad en het steeds ‘n impak op ons geslag deur die manier waarop hy sy beproewings hanteer het.

Paulus het dikwels van “Christus in my” gepraat waarmee hy bedoel het, “Jy sien ‘n mens voor jou staan. Maar God het my deur groot beproewings gelei en daardie lyding het die karakter van Christus in my gevorm. Dit is wat jy uit my lewe sien straal. Net die getroue Kraggewer kan dit in iemand se lewe na vore bring; slegs Hy kan sy dienaars ‘n lied en ‘n getuienis gee te midde van elke beproewing.” Halleluja!

Tags