God se Teer Barmhartigheid Teenoor die Wat Ly

David Wilkerson (1931-2011)

“Die geknakte riet sal Hy nie verbreek ... nie” (Jesaja 4:3).

‘n Riet is ‘n lang steel of plant met ‘n hol stam en word gewoonlik in moerasagtige gebiede of naby ‘n bron van water gevind. Dit is ‘n sagte plant en daarom buig dit maklik wanneer sterk winde of vinnige waters aankom. Die riet kan egter net so ver buig voor dit uiteindelik breek en deur die vloed meegesleur word.

Soos ‘n riet in kalm weer, het Amerika eens trots en fier gestaan, vol planne en belofte. Ons hele samelewing het God vereer en die Bybel was voorgehou as die maatstaf van ons wette en regstelsel.

In ons voorspoed, het ons egter soos antieke Israel geword: trots en ondankbaar. En ons het in ‘n kort tyd baie ver geval toe God uit ons hofstelsels en uit ons skole gedwing is en sy Naam bespot en belaglik gemaak is. Ons samelewing het sy morele kompas totaal en al verloor en die gevolg is dat die Amerika wat eens trots gestaan het, nou lamgelê is, net soos ‘n geknakte riet.

As ons kry wat ons verdien, sal Amerika in puin lê, verwoes deur anargie. Maar Jesaja sê dat ons liefdevolle Jesus nie ‘n geknakte riet sal breek nie. Ons Verlosser het in ‘n samelewing ingekom wat deur skynheiligheid en heersende sonde geteister was. Hy het oor Jerusalem geween en geprofeteer dat sy huis verlate sou word. Tog het Hy daardie nasie nog sewentig jaar van die verkondiging van die evangelie gegee. Daardie jare was vol Gees-gesalfde getuies wat wonderwerke gedoen, hoop en bekering verkondig en ‘n kragtige oproep tot die koninkryk uitgereik het. Jesus sou eenvoudig nie die geknakte riet, wat Israel geword het, verbreek nie.

Beskou die Here se teerheid teenoor sy eie volk. “Groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak” (Matthéüs 12:15). Die woord “geknak” het ‘n aantal definisies: seergemaak, verpletter deur onvervulde verwagtinge. Baie van God se kinders het vandag ‘n woord nodig oor ons Verlosser se teer barmhartigheid, omdat hulle self geknakte riete geword het.

Geliefde, hierdie Christenwandel is oorlog. Dit beteken oorloë, moegheid, wonde en ‘n wrede vyand wat daarop uit is om jou te vernietig. Dit maak nie saak hoe geknak jy is, of hoe laag jy omgebuig is deur jou vloedstroom van beproewing nie. God het aan jou ‘n belofte gemaak: “Jy sal nie breek nie. Ek sal nie toelaat dat jou vlam doodgaan nie. Jou geloof sal nie geblus word nie.”

Hier is jou boodskap van verlossing: Staan op en vertrou! Die tyd het vir jou aangebreek om te glo dat Jesus met jou in jou storm is en dat Hy jou die krag sal gee om dit te verdra.

Tags