Ons Staan op Beter Beloftes

David Wilkerson (1931-2011)

Was jy al ooit so oorweldig deur omstandighede dat jy tot God uitgeroep het, “Here, help my! Ek weet nie hoe om nou te bid nie, so hoor die roepstem van my hart. Red my uit hierdie situasie!”

Soms kan ons slegs stil staan en weet dat die Here ons Verlosser is. Ek glo dit is presies waardeur Dawid gegaan het toe hy deur die Filistyne gevang was. Die psalmdigter het geskryf: “Maak die HERE saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef” (Psalm 34:2).

Dawid sê hier in wese, “Ek het iets om vir al God se nederige kinders op aarde te vertel, nou en in die eeue wat kom. So lank as wat hierdie wêreld bestaan, sal die Here almal verlos wat Hom aanroep en Hom vertrou. In sy ontsaglike genade en liefde, het Hy my verlos, hoewel ek ‘n baie dom ding gedoen het.”

God sal ‘n engel stuur as Hy wil, of self ‘n hele leërskare van hulle om jou te omring en jou van gevaar te bewaar. Selfs as jy dwaas opgetree het of jou geloof klaaglik misluk het, moet jy slegs weer jou Verlosser aanroep. Hy is getrou om jou roepstem te hoor en op te tree.

Ons sien baie verhale van wonderwerke in die Bybel. God het Noag, Lot, Dawid, Hiskia, Daniël, die drie Hebreeuse jongmanne, Moses, Joshua, Israel, Josef en menigtes meer bonatuurlik verlos. Vir ons as God se kinders vandag, het Christus se bloed ons van sonde, verwoesting en baie meer verlos: “Wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Galásiërs 1:4).

Sedert die kruis, het God se kinders selfs beter beloftes gehad as enige van diegene hierbo genoem. Vandag staan gelowiges nie net op ‘n belofte nie, maar ook op die gestorte bloed van Jesus Christus. En in daardie bloed, het ons oorwinning oor elke sonde, versoeking en stryd wat ons ooit sal beleef.

Glo jy dat God die voorkennis gehad het om te weet van al jou beproewings? Al jou dwase optredes? Al jou twyfel en vrees? Indien wel, het jy die voorbeeld van Dawid voor jou wat gebid het, “Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos” (Psalm 34:7).

Moenie huiwer om enige tyd uit te roep tot jou liefdevolle hemelse Vader nie. Hy smag daarna om van jou te hoor en jou behoeftes aan te spreek.