Die Gedagtes van Christus Hê

Gary Wilkerson

Alhoewel ons vry van veroordeling kan wees, sal ons nooit heeltemal vry wees van die geestelike stryd nie. Soos Paulus opgemerk het, is dit net die aard van die geestelike wêreld waarin ons leef. “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12).

Namate ons ons in God se Woord verdiep, word sy beloftes uiteindelik sterker in ons gedagtes as enige boodskap wat die vyand stuur. Sy gesaghebbende Woord breek die kettings van vrees, twyfel en ongeloof wat ons pla. “Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus” (1 Korintiërs 2:16).

Hier is nog ‘n ander aspek van God se teenwoordigheid in ons: om die gedagtes van Christus te hê. Dit maak nie saak watter geestelike stryd ons beleef nie, ons posisie is altyd een van oorwinning, want ons leef en beweeg in die teenwoordigheid van God. Selfs op ons slegste dae word ons intakt gehou, ondersteun en gerusgestel deur die lewe en gedagtes van Christus in ons binneste. Die breek van kettings is egter slegs die begin van Jesus se werk in ons. Hoe meer tyd ons saam met Hom deurbring, hoe meer berei Hy ons voor om sy werke te doen: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek” (1 Johannes 3:8).

Om die werke van Jesus te doen, moet ons die lewe van Jesus leef. Dit mag vir jou soos kettery klink, maar soos Johannes opdrag gee: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:6). As ons nie Christus se teenwoordigheid in ons daaglikse lewe het nie, het ons eenvoudig nie die reg om sy werke te doen nie. Hoekom? Omdat die werke in sy teenwoordigheid gebore word. Jesus het selfs van Homself gesê: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie” (Johannes 5:19).

Intimiteit met Hom is die begin van ons bemagtiging om sy werke op aarde te doen. Ons kan eenvoudig nie daardie werke daarsonder doen nie. Ek moedig jou aan om jou Redder in gebed te ontmoet. Herinner jouself aan sy wonderlike beloftes deur sy Woord en weet dat Hy getrou is om jou te lei deur die teenwoordigheid van sy Gees. Maak dit jou eerste stap om die werke van Jesus te doen: om Hom intiem te ken. Dit is ‘n werk waarmee jy vandag kan begin!