Grense van Vooroordeel

David Wilkerson (1931-2011)

“Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke” (Psalm 145:8-9).

As jy gevra word of jy ‘n barmhartige persoon is, sou jy waarskynlik antwoord: “Ek dink ek is barmhartig. Sover ek kan, het ek medelye met diegene wat ly. Ek probeer ander help en as mense my seermaak, vergewe ek hulle en dra nie ‘n wrok nie.”

Alle ware Christene het beslis ‘n goeie maat van genade vir die wat verlore en hartseer is, en dit is iets om voor dankbaar te wees. Maar die hartseer waarheid is dat daar vooroordele in ons harte is wat soos diep riviere loop, en deur die jare heen het hulle grense van vooroordeel uitgekerf.

Uit wat die Skrif sê, weet ons dat ons Verlosser nooit die desperate uitroep van ‘n prostituut, ‘n homoseksueel, ‘n dwelmverslaafde of 'n alkoholis wat raadop is, sal wegwys nie. Christus se barmhartighede is onbeperk: daar is geen einde aan nie. Daarom kan ons, as sy kerk, die verteenwoordigende liggaam van Christus op aarde, niemand wegwys wat om genade en verlossing roep nie.

Dwarsdeur die wêreld, ervaar God se kinders lyding, verdrukking en marteling meer as ooit in hul leeftyd. En daar is ‘n goddelike, ewige doel met die intensiteit van hierdie geestelike en fisiese stryd wat nou in die ware liggaam van Christus gely word. Sy barmhartighede is oor al sy werke.”

Jesus het nooit wraakgierige, haatdraende leërs opgerig nie; Hy het geen vleeslike wapens gebruik nie. In plaas daarvan, het Hy vestings afgebreek deur sy magtige goedhartigheid. Ons Heer het net een strydplan: tere, barmhartige liefde. Die liefde dryf inderdaad al sy werke op aarde. Hy is die volle uitdrukking van God se liefde: “GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting” (2 Korintiërs 1:3).

Hoe donkerder die dae word, hoe meer sal die wêreld vertroosting, hoop en liefde nodig hê. Mense sal moet sien dat ander in die stryd van hul lewens was en deurgedra is. Ons moet kan sê: “Ek het bewys dat die Christus wat ek dien, genadig en goedhartig is. Hy het my deur alles liefgehad, en sy liefde en genade kan ook aan jou behoort.”

Al lyk dinge hoe hopeloos, Hy het liefdevolle genade vir jou om jou deur te dra.