God se Teenwoordigheid in ‘n Donker Uur

David Wilkerson (1931-2011)

“En Hy [God] antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf? Toe sê hy [Moses] vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie” (Exodus 33:14-15).

Moses het geweet dat dit God se teenwoordigheid onder hulle was wat hulle onderskei het van alle ander nasies. Dieselfde is waar vir God se kinders vandag. Die enigste ding wat ons onderskei van ongelowiges, is God se teenwoordigheid “met ons,” wat ons lei, rigting gee en sy wil in en deur ons werk. Sy teenwoordigheid dryf alle vrees en verwarring uit.

Moses se gesindheid was in wese, “Ons pas slegs een beginsel toe. Die enigste manier vir ons om gelei te word en te oorleef in hierdie tye, is om God se teenwoordigheid met ons te hê. As sy teenwoordigheid met ons is, kan niemand ons verwoes nie. Maar sonder Hom, is ons hulpeloos en gereduseer tot niks. Laat al die nasies van die wêreld maar vertrou op hulle magtige leërs, ysterwaens en vaardige soldate. Ons sal op die geopenbaarde teenwoordigheid van die Here vertrou.”

Beskou Koning Asa, die man wat God se volk in ‘n wonderbaarlike oorwinning oor die Kusiete (Etiopië) se miljoen-manskap leër gelei het. Hy het getuig dat dit God se teenwoordigheid was wat die vyand laat spaander het: “HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, HERE onse God, want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom .... En die HERE het die Kusiete voor Asa en Juda verslaan” (2 Kronieke 14:11-12).

Toe Asa sy triomfantlike leër teruggelei het na Jerusalem, het die profeet Asárja hom by die stad se hek ontmoet en vir hom hierdie boodskap gegee: “Luister na my, Asa... Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat ... Maar as hulle in die nood hul tot die HERE, die God van Israel, bekeer het en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind” (2 Kronieke 15:2-4). Die Here het Asa baie duidelik herinner: “Asa, dit was my teenwoordigheid wat jou die oorwinning laat behaal het en moet dit nooit vergeet nie.”

Ek kan my nie indink hoe ongelowiges enigsins enige vrede kan hê in gevaarlike tye sonder die teenwoordigheid en gerusstelling van Jesus nie. Vrees en angs hang nou oor die mensdom soos ‘n swart wolk. Dank God vir die nabyheid van Jesus in hierdie verskriklike uur. Hy juig oor jou en wil saam met jou deur alles gaan.