Vertrou op God se Krag om te Verlos

Carter Conlon

Toe Jesus aan die vader van die duiwelbesete seun gevra het hoe lank hy so was, het die man geantwoord: “Van sy kindsdae af” (Markus 9:21). Met ander woorde, dit was lank. Dit was hierdie lang, deurlopende probleem wat die vader se begeerte om God se hulp te soek, aangewakker het. God sal die moeilike tyd in ons lewens gebruik om ‘n begeerte te skep om Hom te soek en vertroue in sy verlossing te hê.

Neem byvoorbeeld Elia. Jakobus 5:17 sê: “Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie.” Elia het geweet dat sy gebed ongekende swaarkry vir die volk sou meebring. Maar dit was nodig omdat die koning van Israel die volk op ‘n sondige pad gelei het. In wese wou Elia hê dat die volk hulle tot God moes bekeer en hy was bereid om daarvoor te bid, selfs al sou dit beteken dat dit drie en ‘n half jaar sou neem om verhoor te word. Elia het basies gesê: “Wat dit ook al verg, Here, wat dit ook al verg!”

God kon onmiddellik ná Elia se gebed sê dat dit gedoen was – dit was verhoor. Maar daar was ‘n tydperk tussen die gebed en die verhoring. Jy kan bid vir familielede wat nie gelowig is nie en God kan sê: “Dit is gedoen! Ek het jou gebed verhoor en die antwoord is op pad ... maar dit gaan ‘n rukkie neem. Ek moet toelaat dat hulle deur probleme gaan, sodat hulle begeerte na die wêreld kan verander na My.”

As jy die hele aangeleentheid in 1 Konings 18 lees, weet jy dat Elia se gebed onmiddellik verhoor is toe hy dit gebid het, maar God het ‘n spesiale tydsberekening vir Elia gehad om te sien dat sy gebed heeltemal vervul word. Net so, as jy bid, neem dit ook tyd, moet dus nie opgee nie! Drie en ‘n half jaar van valse troos sou van Israel weggeneem moes word en hulle moes moeilike tye deurgaan om te besef dat hulle God nodig het.

Terug by die duiwelbesete seun, toe die dissipels na Jesus gekom en gevra het: “Waarom kon ons nie die duiwel uitdryf nie?” Jesus het vir hulle gesê dat hierdie soort duiwelbesetenheid slegs uitgedryf word met aanhoudende gebed en vas. Met ander woorde: “Moenie opgee as jy nie dadelik verhoor word nie.” Wat God belowe het, sal Hy doen!

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Kerk in 1994 en was aangestel as Senior Pastoor in 2001. In Mei 2020 het hy oorgegaan in ‘n voortgesette rol as Algemene Opsiener van Times Square Church, Inc.