Bewaar Deur Jesus se Belofte

David Wilkerson (1931-2011)

Satan kan die geloof van nie een kind van God toets of laat bewe sonder die Here se toestemming nie. Eenvoudig gestel, God het ‘n doel en plan agter elke beproewing wat Satan in ons lewens veroorsaak. Jesus het die apostel Petrus gewaarsku: “Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif” (Lukas 22:31).

Die Woord maak dit duidelik dat dit Satan se hoofdoel is om die geloof van diegene wat Jesus dien te vernietig. Maar baie gelowiges vind dit verbasend dat die Here Satan toestemming gegee het om Petrus te toets.

Die meeste Christene onthou hoe Petrus geroem het oor sy eie geloof: “Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan” (22:33). Wat Petrus hier sê, kom miskien voor as geestelike dapperheid, maar dit is in werklikheid ‘n vleeslike vermetelheid waarteen die Skrifte waarsku: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korintiërs 10:12).

Toe Petrus oor sy geloof ondervra is, het hy, eerder as om dapper sy trou aan Jesus te verklaar, ontken dat hy Hom geken het. En toe hardloop hy paniekerig van die verloëningstoneel af weg. Hierdie eens vreeslose dissipel, nou gebroke en benoud oor sy mislukking, was egter nooit vir ‘n oomblik alleen nie. Jesus het vroeër gesê: “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk” (Lukas 22:32). Dit is een van die mees bemoedigende verse in die hele Skrif. Jesus het hier vir Petrus gesê dat ongeag wat hy beleef, ongeag wat hy sou deurgaan – insluitend sy verloëning van Christus – sy geloof nie sou ophou nie!

Net soos hy deur die geskiedenis heen gedoen het, vra Satan God se toestemming om ons vandag te sif. Hy wil ons huise, ons huwelike, ons kinders, ons gesondheid, ons werk en loopbane, ons geloof in die Here, aanval. Maar wees verseker, God het jou nie verlaat nie – en Hy sal nooit. Trouens, op die oomblik sê Hy vir jou: “Ek sal jou nooit verlaat nie. Kyk, Ek is met jou, tot aan die voleinding van die wêreld.”