‘n Groot Ontwaking?

David Wilkerson (1931-2011)

As ek praat van ‘n groot ontwaking, bedoel ek wat Paulus beskryf as ‘n openbaring en verligting: “Dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte” (Efésiërs 1:17-19, AFR53).

Paulus het in wese vir die Efésiërs gesê, “Ek bid dat God vir julle ‘n nuwe openbaring sal gee, dat Hy julle oë sal oopmaak vir die roeping wat Hy vir julle gegee het. Ek vra Hom om vir julle ‘n nuwe begrip te gee van julle erfdeel, die rykdom in Christus wat aan julle behoort.”

Volgens Paulus, is “[God se krag van sy sterkte] wat Hy gewerk in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemel,” dieselfde “uitnemende grootheid van sy krag...vir ons wat glo” (1:20,19). Om hierdie rede vermaan Paulus, “Ondersoek julself of julle in die geloof is” (2 Korinthiërs 13:5).

Hoe ondersoek ons onsself? Ons doen dit deur onsself aan die wonderlike beloftes van God te meet. Ons moet onsself afvra, “Gebruik ek Christus se krag om sonde te oorwin? Leef ek heeltyd in die blydskap, vrede en rus wat Jesus aan elke gelowige belowe het sonder uitsondering?”

Jou persoonlike “groot ontwaking” kom op die dag wanneer jy na jou lewe kyk en uitroep: “Daar moet meer aan die lewe in Christus wees as wat ek nou het. Al my planne het misluk, al my drome is verpletter. Ek leef soos ‘n slaaf van my vrese en vleeslike begeertes. Maar ek weet dat die Here my geroep het vir meer as hierdie verslane lewe. O, God, is daar werklik ‘n plek waar U my krag sal gee om oorwinnend te lewe?

“Is dit werklik vir my moontlik om voortdurend intimiteit met U te hê? Is dit waar dat ek nie meer in apatie hoef te verval of om te sukkel om U te behaag nie? Help my om die rusplek in U te vind waar ek nooit weer herlewing nodig sal hê nie, omdat my geloof standvastig bly!”