‘n Welbehaaglike Wandel met Christus

David Wilkerson (1931-2011)

Die apostel Paulus het die Kolossense kerk geleer: “Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kolossense 1:9-10, AFR53).

Wat is nodig vir 'n aangename wandel? Paulus sê vir ons: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:12-13).

Met ander woorde, ons moet onsself afvra: “Word ek meer soos Christus? Word ek geduldiger of humeuriger? Vriendeliker en sagter, of meer gemeen en stryerig? Teerder en meer vergewensgesind, of bitterder en hou wrokke? Is ek geduldig met ander? Verdra ek die swakhede en foute van my naaste, of moet ek altyd reg wees?”

Paulus stel voor dat, in die lig van ‘n naderende oordeelsdag, dit nie saak maak wat jy bereik of watter liefdadigheidswerke jy doen nie. Dit maak nie saak hoe vriendelik jy met vreemdelinge is, dit maak nie saak hoeveel siele jy na Christus lei nie, hierdie vraag bly: word jy steeds meer liefdevol, geduldig, vergewensgesind en verdraagsaam?

Om jou wandel met Christus te ondersoek, beteken dat jy nie soseer kyk na wat jy doen as na wat jy word nie. So ‘n wandel kan nie alleen deur menslike inspanning bereik word nie. Dit sal nie gebeur deur vasbeslotenheid en te sê: “Ek gaan daardie soort gelowige word” nie. In plaas daarvan, gebeur dit deur die werk van die Heilige Gees deur geloof in sy Woord.

Eerstens lees ons hierdie woorde en glo dat dit God se oproep tot ons is. Dan ondersoek ons ​​onsself en vra die Gees om ons te wys wie ons werklik is deur onsself aan sy Woord te meet. Laastens vra ons die Heilige Gees om ons te help om te verander.

Tags