Elke Stryd het ‘n Oorwinnaar

David Wilkerson (1931-2011)

God het belowe dat jy as ‘n oorwinnaar uit elke geveg sal tree, gekroon met sy krag. “Verhef U, HERE, in u sterkte; ons wil u heldekrag eer met psalmgesang” (Psalm 21:13, AFR53).

So min Christene vier hierdie oorwinning en besit hierdie vreugde. Menigtes ken nooit rus in hulle siel of die vrede van Christus se teenwoordigheid te midde van hul beproewinge nie. Hulle loop rond asof hulle treur en sien hulleself onder God se toorn eerder as onder sy beskermende vleuels. Hulle sien Hom as ‘n harde slawedrywer, altyd gereed om ‘n sweep op hul rug te klap. Hulle leef sonder hoop, meer dood as lewend.

In God se oë, is gelowiges se probleem nie sonde nie, want Jesus het ons sondeprobleem eens en vir altyd op Golgota besleg. Hy herinner ons nie heeltyd: “Hierdie keer het jy te ver gegaan” nie. Nee! Sy houding teenoor ons is net die teenoorgestelde. Sy Gees wag voortdurend op ons en herinner ons aan die Vader se goedhartigheid, selfs te midde van ons mislukkings.

As ons op ons sonde gefokus raak, verloor ons alles wat God die graagste wil hê. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Hierdie vers sê alles. Gelowiges se grootste probleem is vertroue.

Ons God is 'n beloner en Hy is so gretig om sy liefderyke goedhartigheid oor ons uit te stort dat Hy ons lank voor skedule seën. Dit is die konsep wat ons hemelse Vader graag wil hê dat ons van Hom moet hê. Hy weet wanneer ons onsself sal bekeer van ons mislukkings en sondes. Hy weet wanneer ons verslaenheid gaan kom. Hy verlang daarna dat ons op sy heilige natuur en die reinigende krag van sy Seun se bloed moet vertrou.

Die Heilige Gees dryf alle vrees uit ons uit – vrees om te val, om van God afgesny te word, om die teenwoordigheid van die Gees te verloor – deur sy vreugde in ons in te plant. Ons moet juig soos Dawid met blydskap, want God het ons verseker dat ons sal seëvier deur die oorwinning wat Hy reeds in Christus vir ons behaal het.