Die Here van die Oes

David Wilkerson (1931-2011)

Toe Jesus na die einde van die tyd gekyk het, het Hy ‘n verskriklike probleem uitgewys. “Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min” (Matthéüs 9:37, AFR53). 

As ek hierdie woorde lees, wonder ek, “Wat is die oplossing? Hoe kan meer arbeiders opgewek word om na die nasies te gaan?” Jesus gee die antwoord in net die volgende vers: “Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Matthéüs 9:38). Jy dink dalk: “Orals in die wêreld gaan deure toe.” Dit mag waar wees, maar dit maak nie saak hoe geslote sekere nasies van ons oogpunt af mag lyk nie. As God die Ystergordyn in Europa en die Bamboesgordyn in Asië kan afbreek, sal niks Hom keer om te werk waar Hy ook al wil nie.

Die apostel Paulus was uitgestuur as ‘n sendeling deur die krag van gebed. Dit het in Antiochië gebeur toe leiers van die kerk vir die oes gebid het (sien Handelinge 13:1-5). Paulus se eerste sendingreis het uit ‘n gebedsbyeenkoms voortgespruit. Dit was die direkte gevolg van godvresende manne, wat Jesus se woorde om tot God te bid om arbeiders in die oes te stuur, gehoorsaam het.

In die 1980’s, toe ons bediening se hoofkwartier in Texas was, het ek ‘n jaar gebid dat God iemand na New York Stad sou stuur om ‘n kerk in Times Square te stig. Ek het belowe dat ek wie ook al God sou kies, sou help om fondse in te samel, om byeenkomste te hou en om ondersteuning op te bou. Terwyl ek gebid het dat God ‘n arbeider in hierdie spesifieke oes sou instuur, het die Here die las op my geplaas en Times Square Kerk was die gevolg.

Dieselfde is waar vandag. Dit is ons werk om te bid vir die oes. Terwyl ons bid, deursoek die Heilige Gees die aarde en plaas ‘n dringendheid in die harte van diegene wat deur die Here gebruik wil word. Hy raak mense oral aan en sonder hulle af vir sy diens.

Terwyl ons God vra om arbeiders uit te stuur, wek die Heilige Gees iemand êrens op en dit maak nie saak waar dit plaasvind nie. Die kragtige werklikheid is dat ons gebede gebruik word om arbeiders in die oes te stuur.