‘n Afgebreekte Stad Sonder Muur

Dit is vir elke Christen moontlik om beheer van sy of haar gees te verloor. Wanneer dit gebeur is die gevolg verwarring, twis en konflik: “’n Afgebreekte stad sonder muur, so is ‘n man wat sy gees nie kan inhou nie” (Spreuke 25:28). Die beeld hier is van ‘n totale verloor van beheer.

Hierdie vers dra ‘n kragtige waarskuwing aan elke man en vrou van God. Wanneer ons beskermende muur afgebreek word, word ons kwesbaar vir aanvalle van demoniese magte. Gou word alles wat geseën is in ons lewens – ons huwelik, familie, werk en verhoudings – vol probleme. Ons almal ly die gewone beproewings wat elke Christen beleef. Maar ten spyte van ons beproewings, stel God ons in staat om sy vrede te geniet deur die jare. ‘n Man se huwelik mag solied wees, sy huis vol liefde en sy werk geseën. Dit gebeur omdat hy sy menslike gees onderwerp aan die Gees van Christus en dit hou God se beskermende muur rondom hom sterk en heel.

Dieselfde goddelike man kan begin om beheer te verloor oor ‘n aspek van sy lewe. Gou is sy gees nie meer aan hom onderworpe nie. Sy geduld word minder, sy humeur bars uit en hy argumenteer heeltyd met sy familie. Sy gevoelens word maklik seergemaak, hy kry jaloerse woedebuie en gebruik kwetsende, snedige woorde.

Hierdie Christen se huis is nou in groot moeilikheid. Hy en sy vrou het misverstande met elke woord tussen hulle en hulle praat hard met mekaar. Hulle kinders word slagoffers van hulle bitter rusies.  Hulle sien heeltyd hulle ma en pa mekaar verbaal aanval en hulle argumente neem toe. Sonder stabiliteit in die huis, kan hierdie jongmense maklik hulle wend na die wêreld waar hulle vertroosting, of een of ander gevoel van beheer soek.

Daardie Christen man se lewe is nou ‘n gekwelde stad. Die muur is nou afgebreek met geen beskerming teen ‘n inval van demoniese magte nie. Dit is jammer dat dit in menigtes van huishoudings gebeur. Iets het veroorsaak dat Christene beheer van hulle gees verloor en die vyand wen vrye toegang tot hulle harte en huise.

Op die oomblik is daar ‘n verskriklike praktyk wat wyd en syd in evangeliese kerke versprei. Bedienaars doen groot moeite om God se waarskuwings ten opsigte van oodeel te toets. Hulle vra, “Is die waarskuwing in hierdie gedeelte versoenbaar met God se liefde?” As die waarskuwing nie lyk of dit sag, vriendelik of liefdevol is nie, word dit afgeskryf en geïgnoreer.

Hierdie bedienaars het ‘n vals Christus geskep. Hulle verkondig ‘n Jesus wat net handel oor liefde en nie oor heiligheid en geregtigheid nie. Hulle maak of Hy ‘n toegeeflike Verlosser is, wat ‘n enigeen se boesemsonde ignoreer vir ten minste 490 keer. Hierdie herders neem nie Jesus se regverdige oordeel of haat vir sonde in ag nie. Hulle lei mense daarin om hulle sonde te verskoon met die aanspraak, “Dit maak nie saak of jy God faal nie. God het jou lief.”

Die egskeidingsyfer in die kerk van Jesus Christus is nou dieselfde as in die sekulêre wêreld.

Egskeiding teister die kerk wêreldwyd. Selfs die koers onder bedienaars en kerkleiers is pandemies. Oral verkrummel beskermende mure rondom Christen huise en families breek op.

Waarom gebeur dit? Die vyand kan niemand se lewe of huis aanraak as die mure daarvan staande bly nie. Dit is eenvoudig onmoontlik. Satan kan ons teister, maar hy kan nie beheer van ons gedagtes, ons huwelik of ons familie oorneem nie. Die antwoord is eenvoudig: Geesgedoopte manne en vroue verloor beheer van hulle gees. Hulle het gekwelde stede geword. En hulle het geen krag of gesag om hulle huwelike of huise veilig te hou en te beskerm nie.

Ek glo dit begin dikwels wanneer Christene almal behalwe hulself vir hul sonde blameer. Mans en vroue blameer mekaar vir hulle eie siedende humeure. Sommige blameer die duiwel vir hulle probleme en sê, “My huwelik loop deur onder ‘n demoniese aanval.” My vraag is, “Wie het die duiwel ingelaat? Wie is verantwoordelik vir die afgebreekte muur wat hom toelaat om hoogty te vier?”

In die meeste gevalle is ‘n Christen se probleemsituasie glad nie die skuld van die duiwel nie. Dit is waarom die Psalmis vir God vra, “Waarom het U sy mure stukkend gebreek, sodat almal wat met die pad verbygaan, hom kaalpluk? Die wildevark uit die bos eet hom op, en wat roer op die veld, wei hom af” (Psalm 80:13-14). Die Psalmis vra, “Here, wat het veroorsaak dat die heining afgebreek is?”

Jesaja sê vir ons sonder twyfel wie hierdie heining afgebreek het. “My beminde het ‘n wingerd op ‘n vrugbare heuwel. En Hy het die omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke” (Jesaja 5:1-2). Die landbouer van hierdie wingerd is God. In die volgende twee verse het Hy gesê, “Nou dan, bewoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring?” (Jesaja 5:3-4). God verklaar dat Hy alles moontlik gedoen het om sy wingerd veilig en vrugbaar te maak. Maar dit het slegte vrug voortgebring.

Die Here het toe verklaar, “Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit ‘n wildernis maak...Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op sy geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!” (Jesaja 5:5-7). Wie het die beskermende muur rondom hierdie wingerd verwyder? Dit was die Here self. Wat was sy rede waarom Hy dit gedoen het? Die vrug van die mense se lewens was verrot.

Paulus het geweet die stabiliteit van ons mure het alles te doen met hoe ernstig ons God se Woord opneem.

Paulus het nie sy teregwysing teruggehou nie. Hy het gesê as ons die gebooie wat ons vir ander verkondig verbreek, sal ons lasteraars word. Verder sal God ons oordeel vir sonde waaraan ons in die geheim toegee. “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Korinthiërs 9:27).

Paulus se gebruik van verwerplik hier behoort ‘n heilige vrees by ons in te boesem. Sommige teoloë probeer om met hierdie woord se betekenis te peuter en probeer dit weg te verduidelik. Maar in Grieks beteken dit verwerp, afgekeur. Eenvoudig gestel, wanneer ons ‘n leuen leef, word ons mure afgebreek – en word ons kwesbaar vir elke aanval van Satan.

Die Here is egter nie ‘n harde leermeester nie. Hy is geduldig, vriendelik en lankmoedig teenoor ons. Hy sal nie die mure afbreek van hulle wat teen versoeking stry en af en toe in ‘n sonde verval waarteen hulle preek nie. Ek dink aan die goddelike man wat moontlik vir ‘n oomblik glip op pornografie of TV of die internet. Maar eerder as om deur gewoonte hieraan toe te gee, word hy diep van sonde oortuig en bekeer hom en versaak sy wellus.

Maar die man wat verslaaf is aan sy boesemsonde verloor die beheer van sy gees. Hierdie man gee dikwels oor aan sy wellus. Met verloop van tyd, terwyl hy pornografie kyk, word sy gedagtes gevul met onreinheid. Hierdie man dink daar is niks daarmee verkeerd om te getuig en te preek, terwyl hy met sy sonde voortgaan nie. Hy het homself heeltemal oorgegee aan sensualiteit.

So ‘n man mag wonder waarom sy huwelik besig is om uitmekaar te val. Hy verbind egter nooit sy probleme met sy voortgesette oorgawe aan sonde nie. God mag met hierdie man gedeel het oor sy gewoonte vir weke, maande en jare. Die Here het ‘n profetiese waarskuwing na waarskuwing gestuur en hom keer op keer van sonde oortuig. Hierdie man het egter geen begeerte om verlos te word nie. Hy het ‘n gemaklike nessie vir sy wellus gebou en hy hardloop daarheen met elke geleentheid.

Trouens, God het meer as genoeg voorsiening gemaak vir ons om verlos te word van alle sonde. Hy het met ‘n verbond gesweer om ons van sonde se mag te verlos. Al wat Hy vra is dat ons sy aangesig soek, Hom vra, ons sonde bely en begeer om vry te wees. Hy belowe sy Heilige Gees sal ons bemagtig om ons sonde dood te maak en oorwinning te kry: “Maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Romeine 8:13).

Oor die jare, het ek die genade, barmhartigheid en liefde van God gepreek.

Ek het geskryf oor die magtige name van God. Ek het geskryf oor die groot barmhartigheid wat in die Nuwe Verbond ingebed is. Ek het sonde-gebonde Christene gewys hoe om God se verbondsvoorsiening vir algehele vryheid van hulle sonde toe te eien. Ten spyte hiervan, is daar egter menigtes wat hierdie boodskappe lees en steeds nie vry is nie.

Ek daag elke so ‘n bedienaar uit: Hoe versoen jy dit wat Jesus aan sy kerk sê in Openbaring? Hy waarsku Éfese, “Bekeer jou en doen weer die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openbaring 2:5). Hy waarsku Pérgamos, “Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my tong” (Openbaring 2:16). Ten slotte sê Christus vir elke gemeente: “Al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens julle werke” (Openbaring 2:23).

God het sy bedienaars lief. Die Bybel noem sy herders sy deel. Hy sal vir hulle veg en geduldig met hulle handel, net soos Hy vir al sy kinders doen. Maar ons heilige God sal nie ‘n leuen borg nie. En Hy sal nie ‘n dubbele lewe beskerm nie. Hy weier te staan en kyk hoe sy mense aanhou om aan sonde toe te gee. Die tyd kom wanneer Hy sal sê, “Jy het vir lank genoeg ‘n leuen gelewe. Jy doen nie wat jy sê nie. Jy hou aan om my eed van my verbond om jou te verlos te weier. Ek gaan nie jou sensuele leefstyl langer bedek nie. Ek sal nie toelaat dat jy my Woord ligtelik opneem en verontagsaam nie. So, wees gereed – jou muur word afgebreek.”

Onthou hierdie waarskuwing in Jesaja 5: “Wat meer kon Ek vir jou gedoen het? Ek het ‘n beskermende heining rondom jou gebou. Ek het vir jou die beste gegee wat die lewe gebied het. Maar toe Ek vir vrugbaarheid in jou lewe gesoek het, het Ek niks anders as wildheid sien opkom nie. Jy het net wilde druiwe vir My gegee. Nou breek Ek jou heining af. Die pragtige wingerd wat Ek vir jou gebou het, sal tot niet gaan. Wilde diere sal die plante verslind. Die grond sal dood en droog word. En die grond sal oortrek word met distels en dorings.”

Dit is waar ons probleme begin. Die Here mag ons tugtig deur die vyand toe te laat om ons lewens en huise aan te val. Maar Hy beoog altyd om ‘n regverdige resultaat te veroorsaak. Hy wil ‘n gehoorsame hart uit ons voortbring, een wat sy Woord ernstig opneem.

Is dit ooit vir ons te laat om weer beheer van ‘n onbeheerbare gees te neem? Sal die Here ons mure weer opbou nadat hulle afgebreek is? Ja, natuurlik. Dit is sy begeerte om ons te herstel. Hy wil hê ons moet ten volle beheer oor ons gees hê. En Hy wil hê alle vlees en die vyand moet onderworpe wees aan Christus in ons.

Herstel begin wanneer jy God se Woord baie ernstig opneem. Jy dink nie meer jy is ‘n spesiale geval nie en uitgesluit van sy oordele nie. In plaas daarvan, is jy oortuig die Here sal ernstig teen jou optree as jy sy gebooie ignoreer. Hy sal nie toelaat dat jy in jou wederstrewigheid voortgaan nie. En jy besef jy kan verwerplik word.

Die oomblik wanneer jou hart na die Here toe terugkeer, begin Hy die opbou proses. Hy plaas jou terug in beheer van jou gees. En jy gehoorsaam gewillig elke Woord van Hom aan jou. Jy is nie meer ‘n gekwelde stad sonder muur nie. In plaas daarvan, is jou lewe die pragtige wingerd wat Hy bedoel het, ‘n geurige tuin, aangenaam vir almal rondom jou. Halleluja!