God se Definisie van Geloof

David Wilkerson (1931-2011)

“Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof” (Lukas 17:5). Die manne wat uit Christus se innige vriendekring bestaan het, het iets belangriks van hulle Meester gevra. Hulle wou ‘n groter begrip van die betekenis en die werkinge van geloof hê en het in wese gesê, “Here, watter soort geloof begeer U van ons? Gee ons ‘n openbaring van die soort geloof wat U behaag sodat ons hierdie geloof in sy volste betekenis kan begryp.”

Op die oog af, was hulle versoek prysenswaardig. Tog glo ek dat die dissipels dit vir Jesus gevra het omdat hulle verward was. In die vorige hoofstuk, het Christus hulle oorbluf gehad toe Hy gesê het, “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou ... As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?” (Lukas 16:10-11).

Jesus het geweet dat sy volgelinge se vlees dit wat hulle as die mindere sake van geloof beskou het, wou vermy en daarom het Hy vir hulle gesê, “As jy getrou is in die klein dingetjies, die fundamentele sake van die geloof, sal jy getrou wees in die groter dinge ook. Bewys jouself dus getrou in die basiese vereistes van die geloof. Andersins, hoe sal jy vertrou kan word met ‘n groter mate?”

As ons eerlik is, sal ons erken dat ons baie soos Jesus se dissipels is. Ons wil ook reguit na die groter sake van geloof gaan om die soort geloof te kry wat berge versit. En, soos die dissipels, oordeel ons dikwels geloof met sigbare resultate – groot geboue, groot skares, indrukwekkend boekverkope. Briljante, slim mense het groot dinge vir God bereik maar hulle verteenwoordig nie noodwendig God se definisie van geloof nie. Trouens, geen werk, maak nie saak hoe groot dit is nie, is van enige waarde vir die Here nie, tensy daar aan die mindere sake van geloof aandag gegee word.

Glo jy die Here het vir jou ‘n droom, wat ‘n wonderwerk benodig, gegee? Is jy uitgedaag om ‘n nuwe rigting in te slaan wat bonatuurlike geloof vereis? Dit is belangrik om te verstaan dat God dikwels jare van voorbereiding doen voor Hy die visie wat Hy in ons geplant het, volbring. God sê dalk, “Skuif jou drome en visies vir ‘n seisoen opsy en leer My intiem ken. Laat staan alle verborge sondes, onderwerp jou aan die Heilige Gees en dan sal jy sien hoe my heilige visie in jou lewe vervul word.”