Preekbestande Christene

David Wilkerson

Om preekbestand te wees, is om God se Woord te hoor, te verklaar dat jy dit liefhet, voor te gee om dit te gehoorsaam, maar dit nie doen nie! Dit is om só verhard te word, dat die hart nie meer aangeraak word nie en heeltemal ongeaffekteer is deur wat gepreek word. Sommige noem dit “evangelie-verhard.” Dink aan die ou Bybelstories en Bybelkarakters. Wie dink jy was die meeste preekbestand? Wie het onder die duidelikste, sterkste Woord gesit en was steeds onaangeraak daardeur?

Wat dit Saul? Hy het ‘n duidelike, sterk woord gehoor: “Gaan nou en verslaan Ámalek, en julle moet met die vanvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel” (1 Samuel 15:3). Saul was ongehoorsaam aan hierdie boodskap. In plaas daarvan, het “Saul en die manskappe...Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was...” (1 Samuel 15:9). Toe het Samuel opgedaag en Saul het ‘n leuenaar geword! Toe “sê Saul vir hom...ek het die woord van die HERE uitgevoer” (1 Samuel 15:13). Samuel was met afgryse vervul omdat hy die skape wat gespaar was kon hoor blêr. “Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie...en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE?” (1 Samuel 15:19). Was Saul verhard? Was hy preekbestand? Waarom anders sou hy sulke oopgesig leuens vertel vir ‘n profeet van God wat geweet het wat hy gedoen het? Luister na hom weer lieg met die bewyse wat oral rondom hom lê: “Ek het na die stem van die HERE geluister en gegaan op die pad wat die HERE my opgestuur het” (1 Samuel 15:20). Op heterdaad betrap, blameer hy ander en het ongelooflike verskonings vir sy sondes uitgedink: “Maar die manskappe het van die buit en kleinvee geneem, die beste van die bangoed, om aan die HERE u God in Gilgal te offer” (1 Samuel 15:21).

Samuel het die by die hart van die probleem uitgekom. Hy het geweet dat Saul preekbestand was, omdat sy hart reeds oorgegee was aan waarsêery. “Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp” (1 Samuel 15:23). Preekbestande Saul het op die ou end raad gekry by ‘n heks en ‘n vroeë, wrede dood gesterf, deur God verlaat. Maar was Saul die mees preekbestande van almal?

Wie was meer preekbestand as Juda en Israel? God het vir hulle gesê, “En Ek het na julle gestuur al my knegte, die profete, vroeg en laat, om te sê:  moet tog nie hierdie gruwelike saak wat Ek haat, doen nie. Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee om hulle van hul boosheid te bekeer nie... Daarom is my grimmigheid en my toorn uitgestort” (Jeremia 44:4-6). Hulle het een geïllustreerde preek na ‘n ander gehad deur Jeremia. Sy preke was so kragtig, so hard en vol waarskuwing dat die volk van God moeg was om dit te hoor en het sy boodskap begin bespot. Esegiël het van hulle gesê: “Die kinders van jou volk wat oor jou gesels...en sê: Kom tog en hoor wat die woord is wat van die HERE uitgaan. En hulle kom na jou toe soos ‘n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan [hulle eie planne en begeertes]” (Esegiël 33:30-31).

Hulle was lief daarvoor om te hoor hoe hierdie man van God die waarheid verkondig. Hulle het geweet dit het van die Here gekom. Kyk na hulle waar hulle sit en sê, “Amen,” hulle drink dit alles in, met liefdevolle lofsange wat uit hulle monde stroom. Maar, “En kyk, jy is vir hulle soos ‘n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie” (Esegiël 33:32). Hulle het preekbestand geword, lief daarvoor om te hoor (dit was vir hulle ‘n vertoning) – maar dit het hulle onveranderd gelaat. Was hulle die mees preekbestand van almal?

Wat van Judas? Sou hy nie beskou word as een van die mees preekbestande van alle tye nie? Hy was ‘n apostel – uitverkore, geroep, en gesalf. Hy het duiwels uitgedryf en die siekes genees. Die belangrikste van alles, hy het vir drie jaar onder die bediening van God se eie Seun gesit. Hy was daar elke keer wat Jesus die twaalf eenkant geneem het om vir hulle duidelik te maak wat Sy boodskap beteken het. Terwyl die ander onder sy woord gegroei het, het Judas net harder geword. Op die ou end het hy homself oopgemaak vir totale demoniese beheer en het ‘n verraaier van Christus geword.

Jy mag dink dat Judas sekerlik die mees preekbestande van almal was. Dit is waar dat al die mense wat ek genoem het, preekbestand was. Hulle het almal gehoor, maar was ongehoorsaam. Hulle almal het voorgegee hulle het God se Woord liefgehad, maar het hulle nie daaraan onderwerp nie. Maar daar is iemand anders wat so geestelik begin het, so naby aan God, so geseënd, so gesalf. Dit blyk ongelooflik om selfs te dink dat hy preekbestand, hard en ongehoorsaam geword het.

Hierdie man is Salomo en sy storie is een van die mees skokkende in die hele Woord van God! Salomo het begin as ‘n geesgeleide, teerhartige, gebroke-in-gees dienaar van God. Maar op die ou en het hy ‘n ou preekbestande afgodsdienaar geword wat gerol het in seksuele begeertes en perversie.

Ek wil jou waarsku. Tot nou toe kon meeste lesers van hierdie boodskap terugsit en sê, “Dank God, ek is nie preekbestand nie! Ek is nie soos Saul nie. Ek is nie soos daardie tweegesig kinders van Israel nie. Ek is nie ‘n Judas nie!” Maar ons gaan sien dat een van die mees ongelooflike voorbeelde van preekbestand wees, nie hawelose mense nie, nie afvalliges nie, glad nie regtig die Saul of Judas tipes is nie. Liewer, hulle is diegene soos Salomo, wat reg begin het, maar wat hard en afgodies geword het, maar dit nie besef het nie. Laat my vir jou wys hoe eens heilige Christene – die mees onderskeidendes, wyses, en geseëndes – preekbestand en baie hard kan word.

Voor ons kyk na die lewe en val van Koning Salomo, laat my vir jou sommige van die gebooie van die Here wys betreffende Israel en haar konings. Daar was drie duidelike, verskillende gebooie bekend aan die hele Israel – so duidelik dat ‘n kind dit kon verstaan. “Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei... nie...Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie” (Deuteronómium 17:16-17). “Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie [geen harem, geen uitlandse vroue nie]...” (Deuteronómium 17:17). “...ook...nie uitermate baie silwer en goud...nie” (Deuteronómium 17:17). Moses het gewaarsku: “Want die HERE...’n jaloerse God is Hy. Sluit tog nie ‘n verbond met die inwoners van die land nie! As hulle agter hulle gode aan hoereer en aan hulle gode offer...en jy sal van sy dogters neem vir jou seuns, en sy dogters sal agter hulle gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer” (Exodus 3:14-16).

Salomo het die Here liefgehad, maar hy het dinge in teenstelling met die Woord van God verrig.

Salomo het terreine van ongehoorsaamheid in sy lewe gehad. “En Salomo het die Here liefgehad deur in die insettinge van sy vader Dawid te wandel; hy het net gedurig op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan” (1 Konings 3:3). Salomo het die Here waarlik liefgehad. Hy het groot eerbied vir God se huis gehad en hy was sedelik rein – maar – met uitsonderings! Ons sal hierdie uitsonderings sien dwarsdeur Salomo se lewe. Dit is moontlik om die Here waarlik lief te hê, ‘n hart vir God te hê, tyd en geld aan Sy werk te spandeer, God eerste te stel, en aan Hom toegewyd te wees – en steeds vas te hou aan gebiede van ongehoorsaamheid aan die duidelike Woord van God.

Met sy hele hart wou Salomo goddelike wysheid en onderskeiding hê om tussen reg en verkeerd te kon onderskei. God het in ‘n droom aan hom verskyn en gesê, “Begeer wat Ek jou moet gee” (1 Konings 3:5). Salomo was “’n opmerksame hart... om tussen goed en kwaad te onderskei...” (1 Konings 3:9). Maar God het hierdie waarskuwing bygevoeg: “En as jy in my weë wandel, deur my insettinge en my gebooie te onderhou, soos jou vader Dawid gewandel het, dan sal Ek jou dae verleng” (1 Koning 3:14). Salomo het ‘n kragtige preek van God self gehoor! Hy het die preke van sy vader Dawid gehad wat in sy ore weerklink het. Hy het die voorbeeld van sy vader se sonde en daaropvolgende oordeel gehad. Hy het die wet en die rigters, insluitend Debora, Samuel en die profeet Natan gehad. Dawid het gewaarsku, “En onderhou die ordening van die HERE jou God, deur sy insettinge, sy gebooie en sy verordeninge en sy getuienisse te onderhou, soos geskrywe in die wet van Moses....” (1 Konings 2:3).

Salomo het die Woord geken. As gevolg van alles wat God aan hom geopenbaar het, het hy 1,005 liedere en 3,000 spreuke geskryf! In sy Spreuke, het hy gewaarsku teen die bose mag van uitlandse vroue: “Maar op die ou end is sy bitter soos wilde-als, soos ‘n swaard aan weerskante skerp. Haar voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe” (Spreuke 5:4-5). O, hoe het hy die Woord geken! Hoe goed was hy om dit vir ander te preek. Wêreldleiers het gekom om raad by hom te kry. Maar so wys, onderskeidend en geseënd deur God as wat hy was, het hy steeds vasgeklou aan gebiede van ongehoorsaamheid in sy lewe.

Laat ons kyk na hierdie gebiede van ongehoorsaamheid aan God se heilige Woord, die gebeide wat hy heeltemal geïgnoreer het rakende die Here se gebooie. Onthou jy die drie spesifieke gebooie vir alle konings van Israel? Salomo het al drie gebreek! Onthou jy Dawid se waarskuwings om na Moses te luister? “Geen perde uit Egipte nie”? Maar, “En die uitvoer van perde vir Salomo was uit Egipte...” (1 Konings 10:28). Salomo het die deur van vrye handel met Egipte oopgemaak, in teenstelling met die Here se eksplisiete gebod. Weer was die gebod: “Hy mag die volk nie na Egipte teruglei... nie...Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie...” Egipte is die wêreld en alles waarvoor dit staan! As God afskeiding van jou hele vroeëre lewe beveel, bedoel Hy dit! Daar is geen uitsonderings nie.

“Moenie goud en silwer bymekaarmaak of opgaar nie”? Maar, “En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Libanon-bos van fyn goud...Want die koning het Tarsis-skepe op die see gehad...gelaai met goud en silwer...” (1 Konings 10:21-22). God het vir hom rykdom gegee om hom te toets: Sou hy dit gebruik om homself in weelde te verdrink, of sou hy dit gebruik tot God se eer en vir die mense? Hier is die leidraad wat Salomo gedoen het en waarheen sy rykdom gegaan het: “Sodat hy SEWE JAAR daaraan [die Here se tempel] gebou het. Maar aan sy huis het Salomo DERTIEN JAAR gebou en die hele huis voltooi...” (1 Konings 6:3-7:1). Hoeveel spandeer ons op onsself, in vergelyking met wat God kry?

“Ook mag hy ook nie baie vroue aanskaf nie...”? “En koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad; en wel behalwe die dogter van Farao...En hy het sewehonderd vroue, vorstinne, gehad, en driehonderd byvroue, sodat sy vroue sy hart verlei het” (1 Konings 11:1-3). Hy het probeer beter doen as al die konings van die aarde om die grootste harem te hê. “Salomo het hulle met liefde aangehang” (1  Konings 11:2). Hy het hulle gekoester met begeerte! Hy het God liefgehad, maar het aan sy harem vasgeklou.

Al Salomo se kompromie kan teruggespeur word na een fatale fout: Hy het geweier om die deur na Egipte toe te maak!

“En Salomo het hom verswaer [verbind] met die Farao, koning van Egipte...” (1 Konings 3:1). God se preek aan Salomo was: “Jy kan alles word wat Ek wil hê hy moet wees en my seëninge geniet en jou roeping in die lewe volbring sonder ‘n enkele kompromie met die wêreld, die vlees, of die duiwel.” God het belowe Hy alleen sou Salomo se koninkryk vestig! En dit het so gebeur! “Maar mag koning Salomo geseënd wees...En die koningskap is bevestig in die hand van Salomo” (1 Konings 2:45-47). Tot op hierdie stadium, het Salomo nie ‘n kompromie gemaak nie. God was in algehele beheer en die koning was geseën en bevestig deur bloot die Here lief te hê en te vertrou. Tot nou toe was daar steeds geen perde uit Egipte nie, geen harem, geen gerol in luuksheid nie! Maar Salomo het nie geweet dat die slang in sy hart geskuil het nie! Met sy mond het hy vir God gesê: “Al wat ek wil hê, is U, Here – ek wil nie rykdom, roem, of aanvaarding hê nie. Heerlikheid en reputasie beteken vir my niks nie. Ek wil net weet wat is reg en verkeerd en hoe om U en diegene om my die beste te dien.”

Maar God het geweet wat in Salomo se hart was – omdat Hy, toe Hy die tweede keer aan hom verskyn het, hierdie plegtige waarskuwing aan hom gegee het: “As julle en julle kinders ooit van My afvallig word en my gebooie, my insettinge wat Ek julle voorgehou het, nie onderhou nie, maar ander gode gaan dien en voor hulle neerbuig, dan sal Ek Israel uit die land uitroei wat Ek hulle gegee het, en die huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp...” (1 Konings 9:6-7). ‘n Ou, wyse prediker het eens geskryf: “Die mens verrot van binne vandag, en die pilare van hulle karakter verkrummel tot verrotting, van die presiese invloede wat Salomo afvallig gemaak het.”

Salomo het een stap van ongehoorsaamheid geneem, wat hom uiteindelik sou verander in ‘n verharde, preekbestande, begeerte-gedrewe man. Hy het dit ‘n klein onbesonnenheid genoem toe hy die dogter van Farao as vrou geneem het. Vir hom was dit net ‘n huwelik van gerief. Hy “het naamlik die dogter van Farao geneem en haar in die stad van Dawid ingebing...” (1 Konings 3:1). Ek is geamuseerd deur die teoloë wat hierdie huwelik probeer regverdig. Een het gesê, “Slegs die Kanaänitiese vroue was verbode.” ‘n Ander het selfs gesê, “Sy verteenwoordig die heidene wat in die verbond ingebring word. Sy is ‘n toonbeeld van God se genade vir die heidene.” Nonsens! Sy was ‘n afgodliefhebbende heiden van Egipte. As Salomo verbied was om ‘n perd uit Egipte te bring, hoe kon hy ‘n heidense vrou bring? Sy was die uitlandse vrou waarteen Salomo gewaarsku het in Spreuke, die vrou wie se poorte na die hel lei! Die dogter van Farao verteenwoordig een band wat ons steeds bind aan iets van hierdie wêreld, een boesemsonde wat nie mee afgereken is nie – daardie een kompromie wat altyd geregverdig voorkom!

Verbeel jou hierdie heidense koningin kom in Sion aan: Dit is Israel se heilige grond – en hier kom haar groot gevolg van heidense haarkappers, diensmeisies, huishoudsters, selfs haar eie priesters! In haar bagasie dra sy haar gode, haar beelde, haar rituele, haar bekorings. Volgens Egiptiese standaarde, was Jerusalem ‘n grensdorpie, en Israel net ‘n ontluikende land. Ek kan haar sien rondkyk en dink, “Dit behoort maklik te wees – ek weet presies waar ek my tempel gebou wil hê!” Was enige van die Here se priesters oortuig van sonde? Het hulle vir mekaar gesê, “Moses het hierdie presiese ding verbied! Ons is beveel om niks uit Egipte aan te raak nie. En nou, bo alles, ‘n huwelik met Farao se dogter! Ons sal vir altyd ‘n bondgenoot wees van Egipte!” Het Salomo ‘n sweempie van veroordeling beleef toe hy hierdie Egiptiese koningin in die Heilige Stad ontvang het? Het hy nie geweet dat dit wat Farao se leër nie kon doen nie, hierdie verleidster kon doen? Moses het beveel dat alle bande met Egipte vir altyd verbreek moet word!

Ek is seker Salomo kon baie verskonings gegee het waarom hy voortgegaan het met hierdie afgodiese huwelik. Dit sou as volg klink: “Ja, ek weet wat God se Woord sê. Ja, ek het al Moses se preke gehoor oor meng met die wêreld. Maar op geen manier sal dit my liefde vir God beïnvloed nie. Ek sal haar wen vir my God. Daar is sekere dinge wat met my werk saamgaan. Dit sal my werk en toewyding aan die huis van God geensins verhinder nie. Ek is waaksaam – ek is in beheer! Dit is streng besigheid!” Dit is dieselfde ou verskonings wat vandag gebruik word vir elke kompromie en vir elke band met hierdie wêreld. Dit word gebruik deur diegene wat God liefhet en flankeer met die wêreld. Hulle sê, “Ja, ek weet wat die Bybel sê oor afsondering en nie die onrein dinge aanraak nie. Ja, ek het al jou preke oor afsondering van TV en teater, gehoor. Maar – dit gaan saam met my werk! Ek sien dit nie soos jy nie. God het dit nie vir my gewys nie! Ek sien geen konflik nie: Ek het die Here lief – ek is deur God geroep – buitendien, ek het alles onder beheer. Die Here weet ek bedoel goed, dat ek Hom werklik liefhet!” Hulle hoor, maar hulle wil nie gehoorsaam nie. Wanneer die Woord teen hulle beleid, hulle manier van dink kom – is hulle ongehoorsaam en gaan voort asof God dit alles oorsien!

Salomo se eerste en laaste kompromie het die deur oopgemaak vir ‘n stroom kompromieë: perde uit Egipte, ‘n harem, goud en weelde! ‘n Man van God het geskryf: “Dit is ‘n noodlottige misleiding dat daar ‘n geheimsinnige gawe van God is wat genade genoem word, wat die mens toelaat om op die skoot van een of ander Delila te slaap, sonder om van sy krag beroof te word – ‘n towerkrag wat ‘n man reg hou selfs teen sy eie doelbewuste keuse.”

Salomo het ‘n “half en half” gelowige geword!

Salomo het sy lewe in kompartemente opgedeel: die helfte vir God – helte vir sy plesiere. Die Woord van God het hom half veroordeel. Hy het halfpad berou gehad – met halfpad veranderinge! Ek weet nie wat gebeur het nie, maar Salomo het halfpad veroordeel gevoel oor hierdie heidense vrou wat in die heilige plek naby die ark gebly het. Daarom het hy besluit om haar weg te skuif – halfpad uit die stad! “En Salomo het die dogter van Farao uit die stad van Dawid gebring na die huis wat hy vir haar gebou het; want hy het gesê: Geen vrou van my mag woon in die huis van Dawid, die koning van Israel nie; want dit is heilig, omdat die ark van die HERE daarin gekom het” (2 Kronieke 8:11). ‘n Ware bekering sou te veel gekos het! Die regverdiging vir dade in teenstelling met God se gebooie, is altyd: “Ek kan nie dit doen nie! Ek het my woord gegee. Ek kan nie ‘n totale breuk maak nie. Dit sal te vernederend wees – ek is te ver betrokke.”

Die waarheid was dat Salomo haar nie wou prysgee nie! Hy het in sy hart geweet dit was verkeerd. Dit het aan sy binnekant geknaag. Ek kan hom hoor sê, “Ja, ek moet iets hieromtrent doen. Ek gaan die Here wys ek wil die regte ding doen.” Stuur hy haar terug na Egipte? Roep hy uit na God, “Ek het gesondig en verskonings gemaak. Ek hoor U Woord en ek sal gehoorsaam! U Woord is duidelik, maak nie saak wat dit kos nie, maak nie saak die vernedering nie, maak nie saak die gevolge nie – ek sal gehoorsaam. Laat die hele wêreld my ‘n dwaas noem, ek sal God gehoorsaam?” Nee! Hy het haar huis op die muur gebou, maar steeds binne die Heilige Stad. Salomo het na God se huis gegaan om offers te bring, dan die stad deurkruis om by die Koningin van Egipte te wees! Twee netjiese kompartement: ‘n heilige een en ‘n goddelose een. Hy het sonder twyfel gedink dit was afsondering.

Ons kerke is vandag vol met half en half Christene – halfpad veroordeel deur die Woord – halfpad bekeerd – en hulle maak halfpad verandering in hulle lewens. Daar is so min “bewe vir die Woord.” Ek hoor so baie wat steeds in blatante sonde leef, steeds dieselfde dinge doen. Hulle sê: “God weet ek bedoel goed. Hy sien my hart. Ek het die Here waarlik lief. Ek het ‘n paar veranderinge gemaak en ek doen beter.” Dit is nie genoeg om goed te bedoel nie. Ons moet dit doen! So min mens wil die verlede afsny, om alle bande met die wêreld te verbreek. Hulle wil stadig onttrek en so halfmaatreëls tref. Jesus het gesê as jou oog jou laat sondig, ruk dit uit! Jy sit nie ‘n pleister daarop nie. My voormalige besigheidsbestuurder was drie-en-dertig jaar oud toe hy kanker in die oog gekry het. Hy het laserbehandeling ondergaan en was vertel dit was alles weg. Maar die hele oog moes eintlik verwyder gewees het. Die kanker het versprei en hy het drie maande later gesterf. Die dokter was geskok en het gesê, “Ek het gedink ek het alles uitgekry!”

Salomo het die tempel gebou en het al sy bouprojekte klaargemaak. Maar hy het steeds in ongehoorsaamheid in hierdie gebiede gelewe, en geen gevaar daarin gesien skuil nie. God is egter so barmhartig dat Hy voortgegaan het om sy gebede te verhoor. Salomo het steeds drie keer ‘n jaar opgegaan om offers te bring en was vol vreugde en blydskap in die teenwoordigheid van die Here. Ek glo dit is die gevaarlikste posisie vir ‘n Christen om in te wees: ‘n Vreemde liefde het sy hart beet, maar tog het hy die Here lief. Sy gebede word verhoor en daar is vreugde en blydskap. Daar bly egter gebiede van ongehoorsaamheid waar die Woord nie die algehele gesag is nie – terwyl die gelowige blind is vir die agteruitgang wat plaasvind. Onder al die seëninge, is ‘n wurm van begeerte aan die werk, wat die karakter en wil verswak.

God verskyn weer aan Salomo met ‘n sterk preek, ‘n kragtige Woord: “Wandel in integriteit. Gehoorsaam My Woord. Indien nie, sal Ek jou verwerp.” Die hele tyd het Salomo van God af weggedwaal en hard en onsensitief vir die Woord geword, verblind deur die seëninge en barmhartighede van God. Hoeveel Christene was geseën, het God se Gees gevoel, bly in Hom gewees en gesê, “Alles is reg, want God seën my”?

Ongehoorsaamheid aan God se wil lei uiteindelik tot ‘n algehele verbreking van sedes en Christelike karakter.

Begin met een daad van blatante ongehoorsaamheid aan ‘n duidelike woord van God – sit daarby halfhartige oortuiging van sonde, ‘n halfhartige bekering – en jy sal op die ou end soos Salomo word: volslae ontaard! “En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die HERE sy God was...nie. En Salomo het agter Astárte...en agter Milkom, die verfoeisel van die Ammoniete, aan geloop. So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE...Daarom was die HERE toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE, die God van Israel” (1 Konings 11:4-9). Hierdie woorde stuur rillings teen my ruggraat af!

Salomo was nou evangelie-verhard – preekbestand! Die Woord van God het geensins enige impak op hom gehad nie. Hy was so pateties! Kyk na hom: Waar hy eens ‘n huis vir een uitlandse vrou gebou het, het daar nou ‘n groot harem gestaan. Die dogter van Farao het maar een van 1,000 minnaresse geword! Salomo is nou oud en vervalle, terwyl God stil en kwaad is vir hom. Hy bid nie meer tot God nie en het geen blydskap oor nie. Sy hart is siek terwyl hy jammerlik sanik oor die ydelheid en tevergeefsheid van die lewe. Jerusalem het besoedel geword met heidense tempels, gebou met belastings. Die koning drink swaar, want hy is verveeld met al sy pragtige huise en tuine. Hy is nou bitter met sy hart vol afgodery. Die dae van God aanraak is maar dowwe herinneringe. Al wat hy nou kan sê, is: “Alles is tevergeefs – alles beteken niks!”

Dit is dieselfde man wat eens so welsprekend gebid het by die tempelinwyding: “Enige gebed, enige smeking wat enigeen van u hele volk Israel sal doen, as elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei – wil U dan hoor in die hemel...en vergewe en handel en aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken...sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het” (1 Konings 8:38-40).

So, gaan voort – klou vas aan jou afgode! Regverdig jou gebiede van ongehoorsaamheid en verskoon jou sondes! Eendag sal dit uitbreek in ‘n siedende, onbeheerbare vuur van sedeloosheid en afvalligheid. Dit was onlangs onder my aandag gebring, dat ‘n ou pastoor kennis (wat een van die grootste Pinksterkerke in Amerika gelei het) – nou ‘n ou, afgetrede man – gevang is waar hy obsene foonoproepe maak! Hy het afvallig geword tot ‘n verdorwe, hartseer, vulgêre ou man!

In teenstelling daarmee, het Moses Egipte werklik verlaat.

Daar is egter ‘n ander kant aan dit alles. Daar was ‘n ander man wat alles prysgegee het om sy Here te volg. Waar Salomo Farao se dogter getrou het, het Moses van haar af weggevlug! “Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao te dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egypte...Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien” (Hebreërs 11:2-27).

Moses kon al die goud en silwer, die perde, die harem, al die luukshede en plesiere van materialistiese Egipte gehad het! Hy was ‘n prins in Egipte, van die koninklike hof van Farao. Maar hy het “geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word,” En daardie besluit het hom alles gekos. Maar hy het nie uit vrees gevlug nie, “sonder om die toorn van die koning te vrees.” Hy het die smaad van Christus groter rykdom geag as al die skatte van Egipte en het gekies om eerder te ly saam met God se volk. Moses het sy oë op Jesus sy Here gehad en nie op die dinge van hierdie wêreld nie.

Is dit die moeite werd om gehoorsaam te wees? Is dit die moeite werd om na God se boodskap te luister? Vergelyk hierdie twee manne van die Bybel: Salomo, wat na sy lewe terugkyk en sê, “En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie...Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het...en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie” (Prediker 2:10-11). Hy gaan verder en sê: “Daarom het ek my lewe gehaat...my hart het nie in die nag gerus nie...Ek het die dooies gelukkig geprys...meer as die lewendes...rykdom tot sy eie ongeluk...grawe ‘n kuil en val daarin...baie wysheid is baie verdriet...my aptyt is nie versadig nie...En ek het iets uitgevind bitterder as die dood: die vrou wat strikke is, haar hart nette, haar hande boeie; hy wat goed is voor die aangesig van God, sal van haar vryraak, maar die sondaar word deur haar gevang...” (sien Prediker 2-7).

Maar kyk na Moses: Op 120 jarige ouderdom, was sy oë helder – alle fisieke kragte was op volle sterkte toe God hom huistoe geroep het. God het persoonlik die liggaam van Moses kom haal.

Hier is God se getuienis vir die mensdom aangaande Moses: “En soos Moses, vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het, het daar geen profeet meer in Israel opgestaan nie – wat betref al die tekens en die wonders wat die HERE hom opgedra het om in Egipteland aan Farao...te doen” (Deuteronómium 34:10-11).

Dit is die moeite werd om gehoorsaam te wees!