Gevoelens is die Boodskappers van Satan

Ek is so bly dat my gevoelens niks beteken nie en so dankbaar dat hulle geen invloed het op my redding of my verhouding met die Here nie. Ek sou lankal oorgegee het, as ek my gevoelens gehoorsaam het. My gevoelens het my dikwels moedeloos gemaak; hulle het probeer om my te mislei; hulle wou my beroof van my vrede en blydskap in Christus; en hulle het my beskuldig van elke moontlike slegte ding. Ek het geleer om my verwarde gevoelens as bookskappers van Satan te herken, wat vrees en wanhoop oor my wou bring.

Ek kan rustig in die Gees wandel, my Bybel lees, bid en die Here bemin met my hele hart. Skielik, onverwags word ek oorweldig deur gevoelens van kommer wat my gedagtes en my gees oorstroom. Ek het niks gedoen om hierdie bose boodskappers van Satan toegang te verleen nie. Dit lyk asof die bose geeste van die hel daarop uit is om my te teister met negatiewe gevoelens wanneer ek dit die minste verwag. Dikwels gebeur dit kort nadat ek ‘n groot geestelike oorwinning of openbaring ontvang het.

As die vyand my oorweldig, en soos met ‘n vloedgolf probeer verdrink in neerdrukkende gevoelens en negatiewe gedagtes, is ek geneig om myself te blameer. Dan sê ek vir my hart: “Hoekom is ek terneergedruk, my siel? Waarom is ek meteens so onrustig in my gees? So rusteloos en prikkelbaar – as ek nie so wil wees nie? Watter bose ding het ek gedoen dat ek hierdie negatiewe, depressiewe gevoelens wakker gemaak het?”

Liewe leser, het jy nog nooit soiets ervaar nie, wanneer vrede en blydskap skielik verdwyn en jy in die put van wanhoop beland? Het jy nog nooit gebid – “O God, waarom voel ek so? Waarom het ek so ‘n swaar hartseer, angstige wolk oor my? Wat is verkeerd – het ek dit oor myself gebring deur iets wat ek gedoen het?”

Dit maak nie saak hoe heilig jy lewe of hoeveel geloof jy het of hoeveel openbaringe van die waarheid jy ontvang het nie – daar kom oor al God se kinders hierdie vernederende ervaring dat jy in ‘n put van neerslagtigheid en verwarring beland. As dit jou tref, lyk alles verdraai, vir ‘n tyd lank. ‘n Onverklaarbare prikkelbaarheid is die eerste teken van hierdie sataniese aanval. Hoe jy dit ookal haat – jy vind jouself kort van draad, jy stoot jou geliefdes, en die saam met wie jy werk, weg – en jy mag selfs jou stem verhef teen man, vrou of kind. Dan voel jy skuldig, selfs sondig en onvolwasse. Jy sal waarskynlik doen wat ek doen en by jouself dink – “Hoe kan ek so swak, so onvolwasse, so dwaas, voel – hoe het ek nou so vinnig van warm na koud, verander? Wat pla my? Wat laat my so onchristelik optree?”

As jy jou gevoelens met jou laat weghardloop, dan het hulle ‘n manier om jou sekerheid in die Heer, en in jouself te ondermyn. Jou gevoelens as jy dit ongetem laat, kan jou aftrek in wanhoop en angs. Dit kan ‘n marteling word. As jou gevoelens jou beheer kan dit jou bedrieg soos die duiwel self. Jou gevoelens kan jou folter met ‘n vrees vir kanker, vrees om te sterf, vrees om ‘n geliefde te verloor – en ‘n magdom ander vrese. Dit is soos donker, versplinterde brille wat alles verdraai en verwring waarna ‘n mens kyk.

Miskien het jy gister nog wonderlike gedagtes oor God se liefde en krag gehad. Jou geloof was vol hoop, jy kon andere bemoedig, jy het geestelik sterk gevoel, openbarings genade het jou siel deurvloei! Maar vandag, ure later, het alles verander. Miskien het jy onder die wolk wakker geword, of het dit later oor jou geskuif. Sonder waarskuwing, sonder ‘n herkenbare rede, voel jy totaal anders. Om eerlik te wees, jy voel bedruk! Jy voel snaaks! Jy voel verward! Jy voel hulpeloos! Jy voel asof jy nog niks geleer het nie, asof jy alles verbrou! Jy voel onwaardig! Jy voel asof jy jou tyd mors! Jy voel asof niemand jou liefhet nie! Jy voel verstote! Jy voel asof niemand jou verstaan nie! Jy voel kwaad omdat jy so mislik voel. Jy voel ontmoedig omdat jy nog steeds so kinderagtig is! Jy het gedink dat jy nou al geleer het om sulke krississe te hanteer, maar nou sien jy dat jy nog baie het om te leer, oor jouself.

Dit is maklik om teologies te praat en vir mense te sê: “Jy moenie so voel nie. Waar is jou geloof? God wil hê jy moet in geloof leef en in volgehoue blydskap! Jy moet nie omvergegooi word deur gevoelens van neerslagtigheid en depressie nie.” My antwoord hierop is – daar is nie ‘n enkele kind van God, op hierdie aarde wat nie van tyt tot tyd, deur sulke tye gaan nie – tye van onverklaarbare gevoelens van leegheid, verwarring, en angs. Hoe langer ‘n mens met God wandel, en hoe nader ons aan Hom kom – hoe meer word ‘n mens deur Satan aangeval met sulke helse wapens. Moenie verontrus raak as jy nou deur so ‘n tyd gaan nie. God is besig om jou ‘n paar belangrike lesse, oor gevoelens en hoe om dit te hanteer, te leer.

“Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timotheus 1:7).

Ek kan elke negatiewe gevoel verwerp, want ek weet dit kom nie van God af nie. Gevoelens wat ‘n mens bang maak, kom nie van die hemel af nie – dit is boodskappers van die hel! Dit moet verwerp word en gebind word deur die krag van gebed en geloof!

Dink daaraan – God sê vir ons – “Ek het julle nie ‘n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Hy roep ons op om hierdie ongewenste gedagtes aan Hom te onderwerp, gevange te neem en aan Hom gehoorsaam te maak.

Ons mag nie toelaat dat ons gevoelens op loop raak nie. Ons mag nie toelaat dat dit wortel skiet en groei tot bitterheid of vertwyfeling nie. Ons moet daarteen staan in die naam van Christus die Here – en dit uitwerp! Ons word beveel om dit te doen!

“Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak” (1 Korintiërs 10:4, 5).

Elke neerslagtige gedagte is die vrug van sataniese wangeloof. Dit is die ou slang wat werk, en probeer om ons so ver te bring om God se getrouheid te bevraagteken. Dit is die Satan wat probeer om in ons gedagtes die saad te saai dat God ons verlaat en in die steek gelaat het. Die duiwel wil hê God se kinders moet hulleself sien as geestelike weeskinders, wat aan hulleself oorgelaat is. Dit is subtiel, verraderlik en baie gevaarlik – want dit is gegrond op ‘n leuen. Die leuen is dit – God is met jou, tot op ‘n sekere punt, daarna is jy alleen. Hy antwoord sommige gebede, maar nie alle gebede nie. Hy red jou van sommige versoekings, maar nie van almal nie. Hy openbaar homself, maar verdwyn dan weer. Leuens – alles leuens, en die grond van al ons negatiewe gevoelens. Geen wonder dat God ons waarsku om daarteen te veg nie.

“Die mens se tevergeefse woede sal U verheerlik. U sal dit as ‘n sieraad gebruik!” (Psalm 76:10).

Negatiewe gevoelens wat omgekeer word in lof, sal ‘n ornament wees vir die Heer, ons Verlosser! Ja! God kan ons al die sondigheid en slegtheid wys, wat nog in ons harte skuil, deur die Satan toe te laat om ons te teister met hierdie boodskappers. Verseker kom negatiewe gedagtes nie van God af nie – maar hulle kan toegelaat word deur God. So ‘n toestemming is gegee in Job se geval.

Dit het onlangs met my gebeur. Dit was die tweede aand van my uitreiking in ‘n stad in die suide. Die groot auditorium was driekwart leeg. Die byeenkoms het nie nuwe besoekers getrek nie. Teen 7.30 het ek deur ‘n skrefie in die gordyn na daardie leë sitplekke gekyk, na soveel maande van oorvol auditoriums. Tot op daardie stadium was my gees vurig. Die boodskap vir daardie aand het in my hart gebrand. Ek het getrou gebid vir die byeenkoms. Skielik, het my moed gesak, en ‘n vloedgolf negatiewe gedagtes het my oorstroom. Ek was kwaad, teleurgesteld, verwerp, verward – ek het my uitreikingspan van swak beplanning verdink. Ek het aan die TV evangelis gedink wat massas mense, in dieselfde auditorium, ‘n maand gelede, getrek het.

Ek het na my bus gegaan en op my knieë geval, wenend en verslae. Ek het nie geweet dat daar nog soveel geestelike gemors oor was, in my nie. Ek het gedink dat ek die oorwinning gehad het oor getalle, skares en ambisie. Maar, o! – watter vreeslike gevoelens het ek so pas ervaar. Ek het selfs daaraan gedink om die uitreiking te kanselleer.

Ek het tot God geroep, “Ek kan nie teruggaan na daardie auditorium nie, ek kan nie preek nie, totdat U met my gedeel het! Reinig my! Ek kan sien waarom U dit toegelaat het – U het geweet dat dit nog alles in my was! U het dit aan die lig gebring – en my dit laat sien!”

God het my verlos. Elke negatiewe gedagte was gebind, deur die outoriteit van Christus se naam, en ek kon op die verhoog klim, met vrede en oorwinning. God het my verneder deur die boodskappers van Satan toe te laat om daardie hoogmoedige gedagtes in my na vore te bring, sodat hulle aan die lig kon kom en uitgewerp kon word. Die ding waarmee Satan my wou breek, het ‘n seën geword. Satan se woede het omgekeer in lof aan God. Ek kon wegstap van daardie oorwinning in nederigheid en blydskap. Loof sy Heilige Naam!

As jy agterkom dat die vyand van jou siel besig is om negatiewe gevoelens in jou gedagte te plaas, laat dit hulle werk doen voordat jy hulle verwerp. Laat daardie gevoelens vir jou openbaar hoe swak jy is – hoe afhanklik van genade, liefde en barmhartigheid van die Heer, jy is. Laat daardie droewe gedagtes, en verwarde gevoelens vir jou wys hoe sleg jou hart is, en hoe jy elke dag, elke uur sy krag nodig het. Laat dit aan jou openbaar elke stukkie hoogmoed, self-ego, ambisie, verborge sonde, wellus wat nog oorgebly het. Laat dit jou so laag neergooi dat jy nooit weer sal spog oor hoe geestelik volwasse jy is nie. Een bedremmelde dag van neerslagtige gevoelens, kan uit elke Christen, elke valse gesindheid van selfregverdiging, verdryf. God gebruik elke skande om ‘n pad te maak vir sy genade.

Bely jou afvalligheid en dan verwerp jy al hierdie gevoelens wat die swakheid openbaar het, en vertrou al jou gedagtes aan Hom toe.

As jou gevoelens jou verdriet besorg, kan jy seker wees die Heer is besig om jou gehoorsaamheid te leer en volkome vertroue op Hom. Ek weet, want ek het geleer om slegs op Hom te vertrou as ek oorspoel word met negatiewe gevoelens.

“Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het…” (Hebreërs 5:8).

“Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:15, 16).

Ek is gerus in die wete dat my Verlosser my gevoelens verstaan. Hy weet wat ek ervaar. Elke gevoel verstaan Hy waarlik. En Hy veroordeel my nie as ek sulke aanvalle van die vyand ondergaan nie. Hy sê vir my om vas te staan en nie bang te wees nie. Hy laat my verstaan dat Hy ook hierdie stryd ken. Dan beloof Hy my genade en barmhartigheid in my uur van nood. Of my negatiewe gevoelens ‘n resultaat is van fisiese of geestelike stryd, die Here bied vertroosting en rus aan, wanneer ons dit die meeste nodig het.

Wat bedoel die Here hiermee? Hy bemoedig sy geliefde kinders om hulle nie te verknies as hulle onder die aanvalle van negatiewe gevoelens kom nie. Moet nie jouself beskuldig van swakheid en boosheid nie. Sonde kan die gevolg wees van vrees en moedeloosheid – maar nie altyd nie. Moet dus nie gaan lê en oorgee nie! Moenie gaan slaap voordat jy nie jouself opgesluit het in Jesus nie, kom voor sy troon met vrymoedigheid en eis sy beloftes. Eis genade, vergifnis, en barmhartigheid om alle negatiewe gevoelens te verdryf. Dit is Christus se raad, nie myne nie.

As jy op oorwinning aanspraak gemaak het, in die outoriteit van sy Naam … as jy in die geloof sy vergifnis en beloftes aangegryp het, wees dan rustig in die stryd. Laat God die negatiewe gevoelens, op sy tyd, verdryf.

“… en so het hy die belofte verkry nadat hy geduldig gewag het…” (Hebreërs 6:15).

“… saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig…” (Psalm 30:6).

Jy mag gaan slaap met hierdie gebed op jou lippe: “O Heer – ek verwerp hierdie negatiewe gedagtes. Ek verloën hulle. Ek weet nie vanwaar en hoe dit kom nie – maar ek gee dit vir U. Gee my opnuut sekerheid, neem alle vrees weg. Amen!”

“Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy die help wat versoek word…” (Hebreërs 2:18).

  1. As dit voorkom asof wet en orde ondergaan – hoef Christene nie weg te kruip en te vlug nie – want ons God kontroleer elke beweging.

    Bewys: “By die Here skuil ek. Hoe kan julle dan vir my sê: Vlug na julle berg soos ‘n voël! Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart. As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? Die Here is in sy heilige paleis; die troon van die Here is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders. Die Here toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ‘n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees. Want die Here is regverdig; Hy het geregtigheid lief; die opregtes sal sy aangesig sien” (Psalm 11: 1-7).

  2. Dit maak nie saak hoe geweld en misdaad aan elke kant uitbreek nie – God het beloof om sy geliefdes buite bereik van die kwaaddoeners te hou.

    Bewys: “U, o Here, sal hulle bewaar; U sal ons bewaar van hierdie geslag vir ewig. Die goddelose draf rond as laagheid die oorhand kry by die mensekinders” (Psalm 12:7-8).

  3. Selfs al stort die hele wêreld ineen rondom ons – elke volk of mens wat op God vertrou, sal bly staan. Ons hoef selfs aardbewings, nie te vrees nie.

    Bewys: “Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar ons sal roem op die Naam van die Here onse God. Hulle het inmekaargesak en geval, maar ons het opgestaan en ons weer opgerig” (Psalm 20:7-8).

  4. Die komende resesie hoef die gelowige nie te verontrus nie, want God het beloof om vir hom te sorg.

    Bewys: “Want hy sal nooit wankel nie; die regverdige sal in ewige gedagtenis wees. Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die Here. Vas is sy hart, hy vrees nie, totdat hy op sy teëstanders neersien. Hy strooi uit, hy gee aan die behoeftiges; sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid; sy horing word verhoog in eer. Die goddelose sien dit en is vererg; hy kners met sy tande en smelt weg; die begeerte van die goddelose mense vergaan” (Psalm 112:6-10).

  5. Die gelowige sal nie alle swaarkry vryspring nie – maar God het beloof om uiteindelik te verlos.

    Bewys: “Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit die almal red die Here hom” (Psalm 34:20).

    “Wie sal standhou voor sy grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom. Die Here is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil. Maar met ‘n oorstromende vloed maak Hy ‘n einde aan die plek van die stad, en sy vyande vervolg Hy die duisternis in” (Nahum 1:6-8).

    “As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die Here ondersteun sy hand” (Psalm 37:24).

  6. God het duidelik belowe dat Hy elkeen wat op Hom vertrou en Hom aanroep, sal red.

    Bewys: “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet – net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!” (Psalm 127:2).

    “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:25).

    “Vrees die Here, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie. Die jong leeus ly armoede en het honger; maar die wat die Here soek, het geen gebrek aan enigiets nie” (Psalm 34:10-11).

    “Die Here ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly. Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van Hongersnood sal hulle versadig word” (Psalm 37:18-19).

    “Daarom, so sê die Here Here: Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan. Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar julle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees” (Jesaja 65:13-14).