God Is Nog Nie Kwaad Vir Sondaars Nie

David Wilkerson

Die dag van die toorn van die Here het nog nie aangebreek nie, maar dit kom vinnig nader. Die verbranding van hierdie aarde en die vergaan van die hemele, wat so duidelik voorspel word in die Bybel, kom voortdurend nader.

God waarsku die mensdom reeds eeue lank dat die hele universele natuur verander gaan word in ‘n hoop ruïnes. ‘n Magtige kosmiese verwoestende brand sal veroorsaak dat die raamwerk van die skepping in stukkies sal ontplof.

Volgens die Bybel, is ‘n ineenstorting onvermydelik; dit is slegs ‘n kwessie van tyd. Dit voorspel spesifiek, “Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (2 Petrus 3:10).

Die mensdom word in duidelike terme gewaarsku om gereed te maak vir die gruwels van ‘n natuur wat vergaan, met oorloë en die angs van wankelende elemente. God voorspel die mensdom sal nie hulle verwarde gejaag om die aarde met kernenergie te vul stopsit nie en Hy verseker ons dit sal in ‘n globale verwoesting eindig. Elke anti-kernkrag stem in hierdie land verkondig onbedoeld dieselfde waarskuwings as die Almagtige God. In Openbaring 18, word dit voorspel dat ‘n “oordeel van verbranding” die aarde in minder as ‘n uur sal oorval. Dit is God alleen wat die destruktiewe magte terughou om tyd te gee vir elke honger hart om te reageer op Sy laaste oproep.

God gee nie op hierdie huidige oomblik uiting aan Sy toorn nie omdat Hy te besig is met ‘n sending van barmhartigheid. Daar is geen woede in God wanneer Hy in die proses is om die mensdom uit te nooi om met Hom versoen te word nie. Op hierdie oomblik, dring God gelowiges om alle mense uit te nooi om Sy gratis offer van saligheid aan te neem. God het ‘n verlangende begeerte om die mensdom te red van die mag en gevolge van sonde. Hy praat nou slegs met die stemtoon van teerheid en simpatie. Sy boodskappers versprei nou hierdie boodskap van vrede met God in elke woonplek van die mens. Daar is ‘n allesverterende wens in die hart van God om die mensdom te red van die toorn wat kom.

God se pleitende oproep is nou een van liefde. Hy het die mensdom so lief, dat Hy nie wil hê dat een siel in sonde verlore moet gaan nie. Om daardie doel te bereik, ontsien God geen moeite nie – Sy overtures kan nou gehoor word dwarsdeur die land, op radio, televisie, vanaf kansels, op straathoeke. Die blye uitnodiging is oral, vier-en-twintig uur per dag sonder ophou. Daar is nie ‘n intelligente persoon in die land wat nie die boodskap gehoor het dat God liefde is nie; dat Hy verlang om die mensdom in ‘n japtrap te red. Ons sal almal voor God vergaan soos ‘n mot in die vlam. Maar God het geen plesier in die dood en verwoesting van die goddelose nie. Hy kry geen genieting daaruit om so ‘n klein vyand te vernietig nie. Hy sou liewer dat alle mense Sy aanbod van vernuwende krag sal aanvaar. ‘n God wat alle mag het om alle mense in die hel te vernietig, vra liefdevol, “Hoekom wil jy sterf?”

Die waardigheid van God sal Hom nie toelaat om Sy majesteit en krag te wys deur swak en nietige vyande te vernietig nie. Jy het ‘n verkeerde indruk van God as jy dink dat Hy daarop uit is om wraak te neem teen jou. Hy het Sy eie Seun gestuur om te sterf aan ‘n kruis en vir die mensdom gewys dat Hy niemand wil veroordeel nie, maar liewer wil red en genees.

God is gewillig om jou te red en te help, maar is jy gewillig om gehelp te word? Van een ding kan jy seker wees: eendag, sal jou lewelose liggaam uitgelê word voor die oë van huilende vriende en familielede. Daardie kis sal nie die einde van die saak wees nie. Soos alle ander op aarde, gaan jy die dood in die oë moet kyk en een laaste kyk na die lewe gee. Verwerp die gedagte met jou verstand, maar dit sal nie die werklikheid verander nie. Die werklikheid bly staan, die dag kom wanneer los grond op jou smal huisie waarin jy neergelê, gegooi sal word en die tuinmaker groen gras bo-op jou leë vorm sal plant. Jy sal gedwing word om plek te maak vir ‘n nuwe geslag. Alle sig, sinne – alle liefde en gelag – alle trane en versoeking sal eindig in jou graf. En wat sou dit alles beteken het in hierdie lewe as Christus se offer van liefde teruggegooi is in Sy gesig? Kan enigiets in hierdie lewe die moeite werd wees om ‘n ewigheid sonder hoop te beleef?

Beskou die mens wat in sy sonde sterf. Die verwoeste siel word opgewek om Christus, die Regter in die oë te kyk. Sal die dood outomaties daardie siel reinig? Sal die wurm die verdorwenheid van sonde wegvreet? Sal hy skielik verskyn, in ‘n veranderde, ewige liggaam, vry van al die ou boeie? Sal hy op een of ander manier opstaan, heilig en rein, en sy verlede in die stof los? Nooit! Daar is geen toweragtige verandering in die dood vir ‘n sondaar nie. Hy sal opstaan op dieselfde manier wat hy gesterf het – ‘n slaaf. Die sondaar sterf en hou al sy sonde vir homself. Die geheime wat hy na sy graf neem, is die geheime wat geopenbaar sal word by die Oordeel. Die siel sterf nooit nie – en sonde ook nie. Sonde sterf net by Gólgota.

Waarom kyk sondaars na die dood met soveel selfvoldaanheid, asof hulle vars en nuut in die ewigheid sal opstaan?

Die Bybel sê – dit is bestem dat die mens sterf en daarna, die Oordeel. Wat as dit nie ‘n leuen is nie, maar werklik waar is? Hoe kyk jy in die dood ‘n Redder in die oë, wat jy so hardkoppig verwerp het in die lewe?

In Sy Woord, het God duidelik beskryf wat wag vir diegene wat Sy oproep tot bekering ontken en verwerp. Hy beskryf die dag van afrekening in verskriklike terme, en smeek dan die mensdom liefdevol om te vlug van sy toorn. Die scenario is eenvoudig, maar skrikwekkend. Die Seun van God sal in die hemel verskyn, omring met ‘n magtige leër engele. Hy sal al Sy kinders bymekaarmaak rondom Hom en hulle na ‘n ewigheid van vervulling en vreugde dra. Die sondaars wat eerste uit die grafte kom, daarna diegene wat leef by Sy koms, sal na die Groot Wit Oordeelstroon van Christus geneem word. Die boeke sal oopgemaak word en die plegtige veroordeling sal voortgaan teen diegene wat met hulle ongeregtighede gepronk het, eerder as om Sy offer van saligheid te aanvaar.

So, wat as jy nie langer die Bybel as waarheid aanvaar nie? Hoe kan jy ‘n boek ontken wat kategories geglo word deur sommige van die mees intelligente mense op aarde? Dit word geglo deur talle wetenskaplikes, wêreldleiers, filosowe – sowel as miljoene van hierdie wêreld se inwoners. Wat as? Wat as hierdie woorde van die Bybel in werklikheid die waarheid is?

“En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openbaring 20:11,12,15).

Jy kan nie toorn van die naderende storms ontsnap nie. God het ‘n metode voorsien waardeur die kinders van die toorn, kinders van vrede kan word. God sou baie liewer verheerlik word deur die redding van gelowiges as deur die verwoesting van sondaars. Hy wil al Sy vyande in vriende verander. Dit is waarom die Hemelse Vader homoseksuele, verslaafdes, alkoholiste, dobbelaars, prostitute, agnostici en elke denkbare soort sondaar liefhet. Hy het hulle almal so lief, dat Hy probeer om almal van hulle aan te neem. Hy probeer tot die uiterste om hulle vry te spreek, hulle skuld weg te neem, hulle duisternis te verdryf en al hulle boeie te af te haal.

Maar God se maniere raak op om hierdie geslag te bereik. Die mens hou hardkoppig aan om mure van ongeloof op te rig. In plaas van reageer op God se tekens van liefde, raak sondaars rebels en amper verontwaardig oor Sy pogings om hulle te red. God weet dat verskrikking en vrees nie ‘n sondaar sal oorwin nie, en dit is waarom Hy niemand dreig om gehoorsaam te wees nie. Jy moet op Sy liefde, met Liefde reageer. Maar God het alreeds probeer om sondaars te bereik, met beide toorn en liefde en niks lyk of dit werk nie.

Jesus het gesê, “Waarmee sal Ek dan die mense van hierdie geslag vergelyk, en waaraan is hulle gelyk? Hulle is net soos kinders wat op die mark sit en na mekaar roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle ’n klaaglied gesing, en julle het nie gehuil nie” (Lukas 7:31,32).

Christus openbaar hier die twee metodes wat God gebruik het om die mensdom te bereik. Die roubeklaers en die dansers. Johannes die Doper was die roubeklaer. Hy het die toorn van God teen sondaars wat hy slange genoem het, uitgebulder. Hy het egbrekers en skynheiliges bestraf en genadeloos gevra vir ‘n verandering in leefstyle.

Jesus het op die toneel gekom met ‘n ander boodskap. Sy boodskap was ‘n boodskap van liefde. Hy het sondaars vriende genoem. Hy was sag, liefdevol en simpatiek en Hy het geassosieer met hartseer mense. Geen wettiesheid, geen hardheid – dit was alles liefde en blydskap.

Maar die massas wou nie reageer op rouklaag of dans nie. Jesus sê in wese, “Julle sê julle was weggestoot deur harde, verdoemende prediking. Julle wou liefde en simpatie hoor eerder as oordeel en veroordeling. Maar, Ek het gekom om julle te ontmoet op hierdie liefdevolle, sagte terme – en julle wil steeds nie reageer nie. Wat bly oor? Wat meer kan God doen?”

Die gemiddelde sondaar in hierdie land het genoeg Evangelie gehoor om die hele China te red! Mag God die sondaar van Amerika help wat na die Oordeelsdag gaan! Liewer om in die Evangelie-gebrekkige Afrika of Rusland te bly, as om in ‘n samelewing versadig met die Evanglie te leef en  te sterf as ‘n verwerper.

Sal God binnekort besluit om “die stof van hierdie ongelowige geslag van Sy voete af te stof”? Dit is wat Hy vir Sy dissipels gesê het toe hulle stede en mense die boodskap van Christus se liefde verwerp het. Mag God elke eiesinnige ongelowige help die oomblik wanneer Sy liefde oorgaan in Sy toorn. Die verskrikking ken geen beskrywing nie.

Hoe kan enige intelligente mens wat die offer van liefde en redding van die Skepper verwerp, nie ‘n dag van rekenskap verwag nie? Is die intellek so verwronge dat dit kan verwag om die boete te betaal vir die breek van die wet van mense en nie die boete betaal vir die breek van God se wet van liefde nie?

God se laaste wapen

God het een laaste metode om die sondaar te bereik dit is ‘n bonatuurlike uitstorting van die Heilige Gees. Hy het beloof om in hierdie laaste dae die Heilige Gees op alles vlees uit te stort. Nie net as ‘n godsdienstige oefening nie. Ook nie altyd geestelik nie. Die Heilige Gees kom oor die hele mensdom en openbaar die leegheid, eensaamheid en nietigheid van die lewe sonder Christus.

Wat is agter die algehele wanhopigheid van hierdie aardbol? Wat of wie veroorsaak hierdie golf van leegheid en gevoelens van hopeloosheid? Dit is die Heilige Gees – wat desperaat probeer om elke sondaar te wys hoe nutteloos en waardeloos die lewe sonder ‘n Redder is. Hy openbaar aan mense hoe laag en kragteloos hulle is! Hoe nutteloos die wysheid van die mens. Hoe futiel alle menslike moeite is!

“En as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Johannes 16:8).

Dit is by die punt van die mens se ergste ellende, wanneer hy die waarheid van sy hopelose toestand in die oë moet kyk, dat die Heilige Gees die eise van Christus voorstel. Aan elke hart oortuig deur die Heilige Gees, sal daar ‘n boodskap van hoop en waarheid oor Christus volg.

God deursoek die aarde en soek na diegene wat Hom die geloof sal gee wat Hy wil hê. Dit is geloof so onbekend, so min begryp, so min gebruik. Dit is nie ‘n geloof om die beter dinge van die lewe te bekom nie, omdat ‘n mens se lewe nie gaan oor die dinge wat hy besit nie.

Dit is ‘n geloof in Christus se totale genoegsaamheid! ‘n Geloof in Sy vermoë om alles in alles te word. ‘n Geloof in Sy begeerte en gewilligheid om beheer te neem van ‘n lewe wat ten volle aan Hom oorgegee is en dit ‘n oorvloedige en vol lewe te laat ken.

‘n Geloof dat Christus die leegheid sal vul – dat Hy ‘n baie persoonlike belangstelling sal toon in alles wat in my lewe aangaan. Nie net die heelal en natuur op koers hou nie, maar volkome betrokke in my lewe se besonderhede, probleme, behoeftes en begeertes.

Ook dat Christus my plesiere kan laat ken wat eg en blywend is – sonder babalaas, verwyte of skande.