Kry Jou Veggees Terug

Gebruik die Krag wat God se Gees vir Jou Gegee het

Die apostel Paulus spoor ons aan, “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Timótheüs 6:12). Paulus het die soort stryd wat hy beskryf, geleef. Naby die einde van sy bediening, kon Paulus roem, “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voleindig, ek het die geloof behou” (2 Timótheüs 4:7).

Paulus was vol veggees tot sy sterwensdag. Net so, het ons geestelike voorvaders deur die eeue heen met hulle veggees intakt gesterf. Die skrywer van Hebreërs het van hulle gesê, “wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het” (Hebreërs 11:33-34).

Watter soort strydende geloof het jy? Het jy moed verloor? Is jy so oorweldig dat jy moedeloos, gewond, verleë en ‘n passiewe soldaat van die kruis geword het? As dit so is, is dit tyd om weer op te staan en die goeie stryd te stry.

Jakob is ‘n goeie voorbeeld van hoe om ons veggees terug te kry. Toe die profeet Hoséa Israel aangevat het oor hulle lafhartige geestelike toestand, het hy hulle aan Jakob herinner. “In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel. Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek” (Hoséa 12:4-5).

In hierdie kort gedeelte, som Hoséa die geheim op van hoe om ons veggees terug te kry en die oorhand by God te kry sodat ons elke stryd in die lewe kan oorwin.

Jakob se geboorte het geopenbaar dat hy ‘n vegter was en dat hy gretig was om God se seën te verkry.

Jakob se tweeling broer Esau het eerste uit sy moeder se baarmoeder gekom. Toe hy uitkom, het ‘n klein handjie egter Esau se hakskeen gegryp. Dit was die hand van sy tweeling broer, Jakob. ‘n Goddelike instink was in die kind, asof hy gesê het, “Broer, kom uit my pad uit! As jy nie die geboortereg van hierdie familie en die volheid van God se seën wil hê nie, ek wil.”

Die familie se geboortereg wat Jakob wou hê, verteenwoordig al die seën wat ons in Christus Jesus het. Ek glo Jakob was nie net agter die dubbele deel van sy vader se rykdom aan nie. Hy het iets meer begeer. Hy wou die seën van God hê sodat hy in die stamboom van die Messias kon wees en die priesterlike seën kon besit om ander te mee te kon seën.

Hierdie tipe goddelike begeerte word vereis van gelowiges in hierdie laaste dae. God wil ‘n volk oprig wat nie net daaroor begaan is om vir hulleself ‘n lewe te maak, ‘n mooi huis te besit of ‘n spoggerige kar te ry nie. Hy soek diegene wat smag na God se seën sodat hulle op hulle beurt die wêreld kan seën.

Jakob se broer, Esau, was die teenoorgestelde hiervan. Sy lewe het alles verteenwoordig wat God haat. Esau het slegs vir sy eie begeertes, plesiere en selfbevrediging geleef. Hy het nooit aan God se ewige planne gedink nie. “Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die HERE. Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte ‘n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee” (Maleági 1:2-3).

In teenstelling daarmee, het Jakob vir God se planne geleef en sy hand op sy vleeslike broer se hakskeen het ‘n kragtige stelling gemaak. Hy het in wese gesê, “Ek sal alles wat my van God af weghou gryp en dit weerstaan, daarteen stry en oorwin. Ek was gebore om ‘n kanaal van God se seën te wees.”

Jakob het jare deurgebring om te stry om die seëninge van God te kry en te behou. Dieselfde begeerte behoort ‘n veggees in al God se kinders op te wek. As jy nie na Jesus smag nie – as jy net in die hemel wil kom en nie graag wil help om die behoeftes van ander aan te spreek nie – dan het jy niks om voor te stry nie. Jy het jouself ‘n maklike teiken gemaak vir die duiwel, wat weet dat jy nie sy aanslae sal weerstaan nie.

Daar word vir ons gesê dat ten spyte van sy eie sondige vlees, het hy “in sy manlike krag ... met God geworstel” (Hoséa 12:4).

Jakob het sy vader, Isak, mislei om die familie se geboortereg aan hom in plaas van Esau te gee. Jare later, het hy gedink dat hy sou betaal vir sy bedrieglike daad toe hy agterkom dat sy vervreemde broer na hom aangejaag gekom het met 400 wilde ruiters, wat skynbaar reg was vir wraak. “Toe het Jakob baie bevrees en benoud geword” (Génesis 32:7). In daardie eensame uur, moes Jakob uitgeroep het, “O, Here, ek gaan alles verloor. My hele lewe is op die spel!”

Net toe Jakob ‘n gerusstellende woord van God wou hê, het die Here gekom om met hom te baklei asof hy ‘n vyand was. “Maar Jakob het alleen agtergebly, en ‘n Man het met hom geworstel tot dagbreek” (32:24). Die “Man” wat in hierdie vers genoem word, word deur teoloë beskou as die Here self wat met Jakob gestoei het.

Hierdie gedeelte bevat een van die grootste lesse wat ‘n Christen ooit sal leer. Ons stryd is nooit met mense nie – nie met ons medewerkers, nie ons bure, nie ons ongeredde geliefdes nie – maar met God self. Jy sien, as ons dinge met die Here uitmaak en ons lewens met Hom regmaak, sal alle ander dinge in plek val. Dit sal nie saak maak watter ander gevegte jy in die lewe het nie. Al die demone in die hel kan nie ‘n duik maak in dit wat God wil bereik met die veggees wat Hy in jou opwek nie.

Jakob se grootste stryd was nie met Esau nie. Dit was met die Here, en God het iets spesifieks in gedagte gehad om te bereik met hierdie stoeigeveg. Jy sien, Jakob was nooit in gevaar van Esau nie – ons ontdek dit later in die storie – maar in plaas daarvan, was hy in gevaar gestel deur sy eie swakhede. God het geweet dat Jakob se karakter nie sterk genoeg was om die dinge wat later in sy lewe sou gebeur te hanteer nie. Dit is een rede waarom God gekom het om met hom te stoei. Die Here het opgetree as Jakob se afrigter, ‘n oefenmaat om hom in ‘n sterk krygsman te verander wat die oorhand oor enige vyand kon kry.

Hoeveel Christene was nog nooit deur beproewings gebrei nie? Ons hoor so baie van gebedskrygers, maar dit is jammer dat baie van hulle nog nooit in ‘n ware stryd was nie. Trouens, wanneer moeilike tye kom, gee baie Christene die stryd gewonne. Ernstig beproefde heiliges, is egter leiers in God se laaste-dae leër. Hy laat hulle kragtig met Hom stoei, en deur die werk van sy Gees kom hulle daar uit as beproefde en gelouterde krygers. Hoe meer intens die beproewing, hoe groter die werk wat Hy vir hulle beplan het om te doen.

Gebruik die Krag wat God se Gees vir Jou Gegee het

Jakob het sy hele liggaam in die stryd teen die engel gegooi en al sy menslike kragte gebruik. ‘n Veggees het in hom opgestaan en “in sy manlike krag het hy met God geworstel” (Hoséa 12:4). Hierdie vers het ‘n belangrike betekenis vir almal wat in gebed die oorhand wil kry. Jakob het geheers “in sy manlike krag” en net so moet jy en ek. Daardie krag kom van die Heilige Gees af. “En met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap” (Kolossense 1:11). “Dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens” (Efésiërs 3:16).

Die vraag wat Hoséa aan God se volk gevra het, was, “Gebruik jy die krag wat aan jou gegee is?”

Hoséa het gesê, “Die HERE het ook ’n twis met Juda, en Hy sal oor Jakob besoeking doen volgens sy weë, hom vergelde na sy dade” (Hoséa 12:2). Wat was die twis wat God met sy volk gehad het? Dieselfde twis wat Hy met sy kinders in hierdie geslag het. Kortliks, dit is geestelike luiheid. Ons wil wonderwerke, seëninge en verlossings hê, maar teen geen koste nie, met geen moeite nie.

Wie onder God se kinders stry met Hom om sy koninkryk te sien kom op aarde? Wie bid die hele nag lank en stry teen hulle eie selfsugtige siel, terwyl hulle ween en uitroep tot die Here? Wie dissiplineer hulle vlees om Hom te soek terwyl hulle hul liggame onderwerp deur ure te vas? Wie is so verteer daarmee om God te behaag dat hulle desperaat is om verlos te word van alle gewoontes en begeertes, en stoei totdat Hy alle boeie breek?

Bet-el, waar Jakob met die Here gestoei het, is ‘n simbool van ons gebedslewe, die plek waarheen ons gaan om God te ontmoet. By Bet-el, het Jakob gesê, “Waarlik die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie” (Génesis 28:16). Bet-el beteken, “huis van God,” en dit dui op ‘n plek om God te ontmoet. “By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek” (Hoséa 12:4).

Wat het God vir ons by Bet-el gesê? Sy woorde aan Jakob daar is van toepassing op elke geslag: “En kyk, ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan” (Génesis 28:15). Met ander woorde, “Ek is met jou van hierdie dag af waar jy ook al gaan.” As daardie soort belofte nie vir ‘n dienaar van God ‘n veggees gee nie, wat sal?

Bet-el is ons geheime binnekamer van gebed, die plek waarheen ons gaan in ons ellende. Die Here sê vir ons vandag, “Elke keer wat jy bekommerd of ontsteld is, gaan gou na die altaar toe. Roep My aan, en Ek sal jou daar ontmoet.” Wanneer jy met Hom afgesonder is en alle ander stemme en geraas uitsny, sal jy sy stem hoor. Dit gebeur wanneer jy op jou aangesig voor Hom is, stoei en uitroep, “Here, ek sal nie laat los nie totdat ek u stem hoor sê dat U met my is.”

Wonder jy waarom God jou aanspoor, “Kom nou, baklei?” Dit is bloot omdat Hy jou liefhet. Hy wil hê dat jy al sy seëninge moet opeis en ontvang. Staan daarom met geloof op en neem sy belofte in besit. Aan jou is sy krag gegee. Gebruik dit nou. Jy sal sy koninkryk op aarde sien kom. Amen.