Bly by die Heilige Gees

David Wilkerson (1931-2011)

“God is vir ons 'n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Die stroompies van ‘n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste. God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek. Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe. Die Here van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons... wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand” (Psalm 46:2-8,10).

Wat ‘n wonderlike boodskap. Ek het hierdie gedeelte al tientalle kere oor en oor gelees, en ek word nog steeds daardeur oorweldig. God se Woord aan ons hier is so kragtig, so onwrikbaar, Hy sê vir ons, “Jy hoef nooit weer te vrees nie. Dit maak nie saak of die hele wêreld in rep en roer is nie. Die aarde kan bewe, die oseane kan bruis, die berge kan in die see verkrummel. Dinge kan in ‘n algehele chaos verkeer, ‘n volslae opskudding rondom jou. 

Op die oomblik beleef die hele wêreld ‘n vreeslike tyd. Nasies vrees oor terrorisme, omdat hulle weet dat geen streek immuun is teen die bedreigings nie. Persoonlike probleme en lyding neem toe. Tog, te midde van dit alles, weerklink Psalm 46 vir God se kinders oral in die wêreld: “Ek is in julle midde. Ek is deur alles by julle. My volk sal nie vernietig word of wankel nie. Ek sal my kerk altyd help.” 

God weet dat ons almal ernstige behoeftes het; ons almal beleef onrus, versoekings, tye van verwarring wat ons siele laat sidder. Sy boodskap aan ons in Psalm 46 is vir presies sulke tye bedoel. Hy sê dat as ons toegee aan vrees, neerslagtig en vol wanhoop word, leef ons absoluut in stryd is met sy werklikheid in ons lewens. 

Dit is noodsaaklik dat jy verstaan wat die Here in hierdie Psalm vir ons sê. Ons God is op enige tyd, dag of nag tot ons beskikking. Hy is voortdurend aan ons regterhand, bereid om met ons te praat en ons te lei. En Hy het dit moontlik gemaak deur aan ons sy Heilige Gees te gee om in ons te woon. Die Bybel sê vir ons dat Christus self in ons is, en dat ons in Hom is.