Vrystelling van die Oorwinnende Krag van die Heilige Gees

Laat my jou vertel van twee mans wat ek geken het. Beide is bekeerde dwelmverslaafdes en alkoholiste en eens op ‘n tyd het hulle verskriklike lewens gelei. Beide is getroud met kinders – en terwyl hulle verslaaf was, het hulle probleme gehad met wellus, pornografie en egbreuk. Hulle was bedrieërs en het probeer om hulle vroue en families in alles te kul en deur manipulasie en bedrog deur die lewe te gaan.

Maar beide mans het na Times Square Kerk gekom en hulle lewens aan Jesus gegee. Hulle het gehuil toe hulle hulle baie sondes bely het en getuig het dat hulle weergebore was. Verder was altwee mans gewillig om alles te laat staan en in te skryf by ons bediening se Christus-gesentreerde dwelmrehabilitasie program vir nege maande lank.

Nie een van die mans het enige vorige kennis van die Here gehad nie. Pas nadat hulle egter met ons program begin het, het een van hulle gelyk asof hy dadelik groot vordering maak. Hy het goed saamgewerk en was inskiklik met al reëls van die program. Hierdie man het heeltyd geglimlag. Tydens kapeldienste, het hy gretig saam aanbid. Terwyl ek na hom gekyk het in hierdie tydperk, kon ek nie help om te dink, “Hierdie een word ‘n ware man van God. Hy gaan die ander ou met rasse skrede verby.” Ek was in werklikheid bekommerd oor die ander man. Hy het altyd neerslagtig en depressief gelyk. En hy het ‘n stryd gehad om die program se reëls na te kom. Hy het heeltyd met sy nuwe geloof gesukkel en nooit by ‘n plek van vrede uitgekom nie. En hy het nooit geglimlag nie en heeltyd gelyk of hy neergetrek word deur swaar veroordeling. Hy het deur al die kapeldienste geween en nooit sy kop opgelig nie.

Die Here het egter iets in hierdie arme, sukkelende verslaafde gesien wat ek nie gesien het nie. Hy het binne-in hom ‘n hart gesien wat vasbeslote was om God te volg. Dit blyk toe op die ou end dat hierdie man so gesukkel het, omdat hy vasbeslote was om sy alles vir die Here te gee, maar hy het egter geweet dat daar steeds baie dinge in sy hart was wat in die pad gestaan het. Die rede waarom hy sy kop onderstebo was tydens aanbidding, was omdat die Heilige Gees sonde in sy lewe geopenbaar het, en hy was diep onder veroordeling. Hy kon nie gelukkig wees nie, omdat dít wat hy in homself gesien het, vir hom ‘n swaar las was.

Na daardie belewenis het ek gebid, “Here, die veranderinge wat U in hierdie sukkelende man bewerkstellig het, is ontsaglik. Hy het soveel krag in sy lewe. Hy het oorwinning oor sy gewoontes gekry – hy het glad nie meer wellus probleme nie en geen begeerte na dwelms nie. U Gees is kragtig in hom vrygestel! Wat het U in hom gesien wat hom gekwalifiseer het vir so ‘n vrystelling van krag om sonde te oorwin?”

Ek het ‘n diep, brandende begeerte gehad om te weet wat dit verg vir die Heilige Gees om sy magtige krag in ons lewens vry te stel. As sy beloofde krag nie in ons vrygestel word nie, wat verhinder dit? Wat wil God in ons sien voor so ‘n vrystelling kan plaasvind?

Ek het tot die besef gekom dat drie toestande noodsaaklik is voor die krag van die Heilige Gees in enige gelowige vrygestel kan word. Ons sal nooit die krag van God se Gees in ons lewens vrygestel sien nie, voor ons nie hierdie drie voorvereistes nakom nie.

Die eerste voorvereiste is ‘n hart volkome gerig op die Here.

In Handelinge 8 lees ons van ‘n man wat aan al drie hierdie voorvereistes voldoen het. Hy was ‘n Ethiopiese staatsman wat teruggekeer het van ‘n godsdienstige byeenkoms in Jerusalem. As ons die eerste keer van hom lees, ry hy in die Gasa woestyn agterop ‘n wa. “...En daar was ’n man van Ethiopië, ‘n hofdienaar, ‘n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid. En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees” (Handelinge 8:27-28).

Hierdie man was klaarblyklik ‘n toegewyde student van God se woord. Hoewel hy geestelik blind was, het hy diep gesmag na waarheid. En nou, terwyl hy hoofstuk 53 van die boek Jesaja gelees het, was hy desperaat om te weet wat die profeet bedoel het. Ek kan uitdruklik sê, dat hierdie Ethiopiër ‘n hart gehad het wat volkome aan God oorgegee was. Hoe kan ek hiervan seker wees? Ek weet dit, omdat hy God se woord bestudeer het – ondersoekend, naspeurend, soekend na die Lam van die Lewe!

Ek vra jou – waarna soek jy in jou wandel met die Here? Soek jy een of ander belewenis? Soek jy iets wat ‘n mens vir jou kan gee deur hande op jou te lê – alles weens jou verwaarlosing van God se woord in jou lewe? Daar kan geen vrystelling van die Heilige Gees krag in jou wees nie, totdat jy ‘n opregte begeerte vir die melk en vleis van die Bybel ontwikkel. Jy moet so honger wees vir God se woord soos die Ethiopiese staatsman!

Dawid het geskryf, “Laat u woord my op die regte pad hou” (Psalm 119:133 NV). “...my hart vrees vir u woord” (Psalm 119:161). “...Want U het u Naam en u woord bo alles gestel” (Psalm 138:2 NV). Jy kan nie in ontsag van God se woord staan, of op die regte pad bly nie, tensy jy jou Bybel oopmaak! Dit is een rede waarom so baie Christene vandag steeds vasgevang is in sonde en nie in staat is om vryheid te verwerf nie. Hulle het baie min kennis van God se woord.

In talle kerke, verdra mense slegs die verkondiging van die woord. Hulle wil nie sterk lering hoor nie. Hulle verkies wonders, wonderwerke en opwinding, en praat slegs oor die krag van God. Jy hoor hulle dikwels dinge sê soos, “By Dominee of Pastoor So-en-so se byeenkoms, was daar soveel krag. Ons het daardie krag in ons kerk nodig.” Maar hulle weet niks van die ware krag van God nie, omdat hulle nie die Skrifte ken nie! Jesus het vir die Sadduseërs gesê, “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matthéüs 22:29).

Die outeur van Hebreërs beskryf die ware krag van God. Hy sê dit lê alles in God se woord: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as ‘n enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebreërs 4:12). Hier is die ware krag – dat die woord van God in staat is om jou hart te beoordeel!

Die tweede voorvereiste is ‘n begeerte om God te gehoorsaam op elke gebied.

Die Ethiopiese staatsman is ‘n ware voorbeeld hiervan. Hy was steeds blind vir geestelike dinge, omdat hy nog nie ‘n openbaring van Jesus gehad het nie. Maar sy latere aksies bewys sy hart was ingestel op volle gehoorsaamheid aan God.

As God die aarde deursoek het vir ‘n hart wat oop was vir Hom, het sy oë hierdie eensame figuur in die Gasa woestyn raakgesien. En toe Hy sien hoe hierdie man die Skrifte ywerig bestudeer het, daarna gesmag het om God te ken en gereed was om sy woord te gehoorsaam, het die Here vinnig gereageer! Dit word vir ons vertel, ‘n engel het skielik aan Filippus in Jerusalem verskyn en hom beveel om die herlewing in Samaria te verlaat en na die woestyn te gaan. “Gaan daaheen en bly by daardie wa” (Handelinge 8:29).

Daarom het Filip na die Gasa woestyn vertrek. En toe die wa verbygekom het, het die Heilige Gees vir hom gesê, “Klim op die wa, Filippus. Stel jouself bekend!” Toe het Filippus opgeklim – en dadelik het hy vir die Ethiopiër gevra, “Verstaan jy wat jy lees?”

Die staatsman het geantwoord, “Hoe kan ek verstaan, tensy iemand vir my die betekenis wys?” “O, ek kan vir jou wys,” het Filippus geantwoord. Toe het hy Christus onder die dwang van die Heilige Gees verkondig. Hy het vir die staatsman vertel dat Jesus die Lam was – dat Christus gekruisig, begrawe is en opgestaan het – en dat almal wat hulle sondes bely, in Hom glo en gedoop word, verlos sal word van hulle sonde en die ewige lewe gegee sal word.

Die staatsman het geantwoord, “Sê jy vir my Jesus was die Lam? En as ek in Hom glo, Hom gehoorsaam is en ek gedoop word, sal ek gered word? Dan moet ek gedoop word, Filippus. Kyk – daar is ‘n poel. Wat verhinder my om sy woord nou dadelik te gehoorsaam?”

Die Ethiopiër het in wese bedoel, “Broer Filippus, wys vir my enigiets wat my keer om God te gehoorsaam. Openbaar enigiets en alles. Ek wil vryheid van my sonde en van alle slawerny hê. Ek wil alles hê wat die Here vir my het. Ek wil hê niks moet my terughou daarvan om te doen wat Hy beveel nie!”

Geliefde, dit is presies die voorvereiste waarna God soek! Dit is wat ons  kwalifiseer vir die vrystelling van Heilige Gees krag: ‘n bereidheid om die Here nou, op hierdie oomblik, te gehoorsaam! Daar is geen uitstel van gehoorsaamheid nie, geen gewag vir ‘n beter tyd nie, geen halfhartige ondernemings nie. Hierdie soort gesindheid word opgesom in die woorde van die Ethiopiër: “Here, ek wil U nóú gehoorsaam! Ek wil vryheid nóú hê om oorwinning nóú te geniet. Ek wil nie nóg ‘n dag deurgaan in slawerny aan sonde nie. Verwyder al die hindernisse, Here. Ek wil in u opstandingskrag wandel!”

Die derde voorvereiste is om in geloof uit te stap.

“En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop” (Handelinge 8:37-38). Filippus het met blydskap gehoor gegee aan die Ethiopiër se versoek om hom te doop. Skaars het hulle egter uit die water uitgeklim, of Filippus het skielik verdwyn. “En toe...het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis” (Handelinge 8:39).

Terwyl jy dit lees, mag jy wonder, “Wag ‘n bietjie! Hulle is in die woestyn. Daar is niemand in sig behalwe hierdie twee mans nie. Maar toe hulle uit die poel geklim het, het een skielik verdwyn. En al wat die Skrif egter hieroor sê is, ‘Die Ethiopiër het verder gereis’?”

Twee punte word in hierdie gedeelte gemaak. Eerstens, God wil hê ons moet ons oë hou op die hooffiguur – die Ethiopiër. Hierdie storie handel immers oor die werk van die Heilige Gees in daardie honger, soekende man. En, tweedens, God wil vir ons wys hoe wonderbaarlik sy Gees se krag vrygestel word wanneer Hy die soort hart kry wat Hy hier gevind het.

Die Heilige Gees ken jou hart. Hy weet jy wil verlos wees en Hom gehoorsaam wees in alles. As jy Hom bloot sal glo vir leiding en getrou op sy instruksies sal handel, een dag op ‘n slag, sal Hy voortgaan om jou te lei.

Ek kan jou verseker op die gesag van die Skrifte: As jy jou hart daarop instel om God se woord te ondersoek en te bestudeer, en as jy gereed is om al sy bevele te gehoorsaam die oomblik wat dit kom, sal Sy Gees vir jou duidelike leiding gee vir jou lewe. Dan, wanneer die vyand se leër teen jou kom soos ‘n stroom – wanneer dit lyk of jy weggevoer gaan word deur demoniese magte – kan jy God vertrou om vir jou presies te sê wat om te doen. Hy ken al jou treë voor jou. En Hy sal jou nie teleurstel nie!

Die Heilige Gees is gereed om met jou te praat met sy rustige, sagte stem. Jy hoef nie meer in depressie te lewe nie. Jy hoef nie van herlewing na herlewing te jaag om te soek na verlossing en dieselfde trane te stort jaar na jaar nie. Die Heilige Gees het vir jou ‘n woord. En jy het nie ‘n pastoor, berader, leraar of sielkundige nodig om dit vir jou te bring nie. Jy het slegs die Heilige Gees nodig!

Hy gee nie instruksies vir môre nie, maar slegs vir vandag. En as jy sy woord vandag gehoorsaaam, sal Hy weer môre met jou praat. “En jou ore sal ‘n woord agter jou oor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21). Maak gereed om die stem van God se Gees te hoor – wat jou woord van redding spreek!