‘N DUIDELIKE ROEPING

Gary Wilkerson

“Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win” (1 Korinthiërs 9:19). In hierdie vers sien ons dat Paulus begin om sy missie in die lewe te verstaan – om siele te wen vir Jesus Christus! In vers 16 sê hy, “en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!”

Wat ‘n transformasie het hier nie plaasgevind in Paulus se lewe nie! In Handelinge 9 sien ons hom oppad na Damaskus, volstoom op pad om soveel Christene as moontlik te vervolg. Wat ‘n afskuwelike verlede het hy nie gehad nie. Ons weet hy was deel van die marteling van Stèfanus (sien Handelinge 7:55-60) en baie geskiedkundiges glo dat hy betrokke was in die dood van baie ander gelowiges. Maar toe Jesus wonderbaarlik aan hom verskyn het, was hy met vrees vervul en het op die grond neergeval. Dis waar sy strewe na God en diepgaande bediening begin het.

Paulus sê in vers 16 dat sy wee, hierdie roeping om die Woord te verkondig, uit noodsaak op hom gelê was. Dit was noodsaaklik vir Jesus om op presies die wyse in sy lewe te werk waarop Hy gewerk het, om die dinge voort te bring wat Hy in Paulus voortgebring het.

Sonder om te weet, het Paulus God nagestrewe sonder om die Redder te soek. Hy het ‘n roeping op sy lewe gehad maar het nie geweet wat die regte pad was om dit te vervul nie. Jy het ook presies dieselfde roeping. Jesus het na jou toe gekom, jou uitgesoek, jou gevind daar waar jy was en jou gered. Hy kom altyd na diegene wie se hart na Hom soek.

Toe Jesus aan Paulus verskyn het, was Paulus weergebore en ‘n paar dae later was hy gevul met die Heilige Gees. Maar baie meer as dit het gebeur – hy het ‘n duidelike roeping op sy lewe ontvang. Hy het geweet dat hy die Woord moes verkondig en siele wen.

Jesus het gekom om jou te verlos, maar Hy het ook gekom om jou te roep! Jy is ‘n uitverkore instrument om Sy Naam te gaan verkondig aan die ongereddes.