SOETE GEMEENSKAP MET JESUS

David Wilkerson (1931-2011)

Die dissipels het vir Jesus gesê: “Here, leer ons bid” (Lukas 11:1). Hulle sou nie gevra het nie, tensy hulle wou leer. En ek glo die meeste Christene wil graag getrou wees in gebed – maar hulle verstaan nie hoe om te bid nie. Daar is geen gebrek aan instruksies deur goedbedoelende leraars wat formules en strategieë leer vir effektiewe gebed nie, en terwyl ek niks hiervan veroordeel nie, glo ek die soort gebed wat God die meeste behaag, is baie eenvoudig.

Baie Christene bid slegs uit ‘n gevoel van verpligting; ander bid slegs wanneer tragedie toeslaan of ‘n krisis hulle tref. Maar ons moet die fundamentele waarheid verstaan dat gebed nie net vir ons eie welsyn of verligting is nie, maar vir die vreugde van die Here.

Twee basiese elemente moet saamgaan: ons voordeel en God se plesier. Ons moenie net voorbidding doen vir dinge wat ons nodig het nie, maar ons moet vra vir die dinge wat Hy begeer. Natuurlik moet ons die laste van ons hart aflaai en ‘n toevoer van sy krag soek, maar Christene kan baie selfgesentreerd wees wanneer dit by gebed kom. Hy het gesê dat ons al ons bekommernisse op Hom moet werp, maar ons gebed is nie klaar as ons nie ook God se behoeftes verstaan nie – sy begeerte vir geselskap met ons – intimiteit en gemeenskap.

“Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?” (Matthéüs 6:25). En in 6:8, sê Jesus, “Want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.”

God sê in wese vir ons, “Wanneer jy in My teenwoordigheid kom, fokus jou aandag daarop om gemeenskap met My te hê, om My te leer ken. Ek weet reeds wat jy nodig het; jy hoef My nie oor en oor te vra nie. Ek sal vir alles sorg! Soek My net en laat ons soete gemeenskap geniet!”