JESUS BID VIR JOU

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het voortdurend gebid. Hy het na die berge gegaan om te bid; Hy het eensame plekke uitgesoek om te bid. Hy het in die oggend en in die aand gebid. Trouens, Jesus het gesê Hy het niks gedoen sonder om dit eers by sy Vader te hoor nie – in gebed.

Johannes 17 handel net oor Jesus se gebede vir sy dissipels en sy mense – vir diegene wat Hom gevolg en geglo het. Jesus het egter nie nét vir Sy volgelinge gebid nie, maar “...vir die wat deur hulle [die dissipels se] woord in My sal glo” (Johannes 17:20). Wat ‘n kragtige waarheid! Jesus se frase, “die wat...in My sal glo,” sluit jou en my in!

Geliefde, Jesus het vir ons gebid toe Hy in die vlees op hierdie aarde gewandel het, maar hierdie gebed het nie in die lug verdwyn nie. Dit het nog die hele tyd gebrand op God se altaar en God het sy Seun se gebed vir elkeen van ons aanvaar! Eeue gelede was ons in sy gedagtes; Hy het selfs sy gebed in sy Woord opgeteken met die wete dat ons dit sou lees.

Op hierdie oomblik, bid Jesus vir oortreders wat hulle nog nie tot Hom bekeer het nie. Die Skrif sê Hy kan volkome red – “tot aan die einde van tyd” – almal wat ooit tot Hom sou kom.

Deur al my jare van bediening het ek talle verslaafdes wonderbaarlik sien verlos word en elke keer sou ek dink, “Hierdie een moes ‘n biddende moeder of ‘n ouma gehad het wat vir hom voorbidding gedoen het en God verhoor die gebede van daardie heilige krygers.” Maar nou verstaan ek iets baie beter as dit. Jesus het nog die heeltyd vir hulle gebid! “Ek bid...vir die wat deur hulle woord in My sal glo” (Johannes 17:9,20).

Al sou jy van die Here af wegvlug, sal jy nooit wegkom van Sy gebede af nie. Die Vader verhoor sy Seun en almal wat Hom weerstaan en voortgaan met hulle sondige weë, verhard hulle harte teenoor die gebede van Christus – wie vir hulle gebid het op die aarde en steeds vir hulle bid.