WIL JY VAN RIGTING VERANDER?

David Wilkerson (1931-2011)

Wat het geword van bekering? Deesdae hoor jy skaars die woord in meeste van die kerke. Herders roep selde hulle gemeentelede om berou te hê omdat hulle Christus verwond het deur hulle goddeloosheid. In plaas daarvan, is die boodskap wat ons van baie kansels af hoor vandag, “Glo net. Aanvaar Christus en jy sal gered word.” Die teksvers wat gebruik word om hierdie boodskap te regverdig is Handelinge 16:30-31: “Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

Die eerste boodskap wat Jesus gebring het nadat Hy van die versoeking uit die woestyn gekom het, was die boodskap van bekering: “Van toe af het Jesus begin preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matthéüs 4:17).

Jesus het van sy sending gesê, “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Matthéüs 9:13). En Hy het vir die Galileërs gesê, “Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (Lukas 13:3). Jesus se evangelie het oor bekering gegaan!

Johannes se boodskap aan die Jode was eenvoudig en reguit: “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matthéüs 3:1-2).

Mense het van oral gekom om Johannes te hoor preek en hy het sonder om doekies om te draai vir hulle gesê: “Die Messias gaan binnekort in ons midde verskyn, so, julle beter gereed maak om Hom te ontmoet! Julle mag dalk opgewonde voel omdat Hy kom. Maar ek sê vir julle, julle harte is nie gereed nie, omdat julle steeds aan julle sonde vashou!”

Johannes het die mense gewaarsku dat hulle met hul sondes moes afreken voor hulle die Saligmaker kon volg. Die volle, letterlike betekenis van die woord “bekeer” in die Nuwe Testament, is “om berou te hê en selfverwyt te voel oor jou sonde teen God; om verslae te wees; om van rigting te wil verander.”

“Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Korinthiërs 7:10). Ware droefheid lei tot bekering – en dit sal veroorsaak dat jy wil verander!