Neem Besit van die Nuwe Testament

“Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie” (Psalm 89:35). Die term “verbond” speel ‘n intergrale rol in die Christen geloof. Tog, in al my jare het ek nog nooit gehoor dat ‘n prediker of leeraar die belangrikheid van die “verbond” in ‘n Christen se lewe voldoende beskryf nie. Die Bybel self is verdeel in twee Verbonde (of Testamente), Ou en Nuwe. Reg deur die Ou Testament, maak God een verbond na die ander met die mensdom. Waaroor gaan hierdie verbonde nou eintlik? Belangriker, wat het dit met ons te doen vandag?

‘n Verbond is ‘n ooreenkoms of eed tussen twee of meer partye, soos ‘n kontrak. Dit bevat die voorwaardes en verpligtinge wat elke party moet uitvoer om die ooreenkoms te vervul. Sulke verbonde is wetlik bindend, en wanneer hulle eers geteken is, kan elke party gestraf word wanneer die onderskeidelike voorwaardes nie nagekom word nie.

Toe die Nuwe Testament geskep is, het God sy wonderlike liefde vir die mensdom tentoongestel. Tog was die kerk vir dekades lank blind vir hierdie ongelooflike leer. As ‘n jong Christen was ek geleer dat “verbondsteologie,” wat op die Nuwe Testament fokus, ‘n losbandige leer was. Die heersende gedagte was dat die Nuwe Testament so wonderlik bevrydend is dat mense dit mag misbruik en in permissiewe lewenstyl kan verval.

Tog, hoe meer ek die Nuwe Verbond verstaan, hoe meer word ek oortuig dat ons die Nuwe Verbond se versekering nodig het in hierdie laaste dae. Die eed van die Nuwe Verbond het die mag om in God se kerk al die oorwinnende krag vry te stel sodat ons meer as oorwinnaars in elke situasie kan wees.

Wie is die partye in die Nuwe Verbond?

Die Nuwe Verbond is ‘n formele kontrak tussen Vader en Seun. En vandag word ons as die geestelike saad van Israel in die verbond ingebring deur geloof. “Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is” (Hebreërs 8:6).

God het “’n beter verbond” met sy Seun gesluit en het voor die grondlegging van die aarde op die voorwaardes ooreengekom: “In die hoop van die ewige lewe, wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het” (Titus 1:2).

Die hemelse Vader was nie gewillig om sy geliefde skepsels aan die magte van die hel te verloor nie. Dus het Hy ‘n reddingsplan vir ons gevorm: “Toe het U in ‘n gesig gespreek met u gunsgenoot en gesê: Ek het hulp verleen aan ‘n held, ‘n uitverkorene uit die volk, verhef” (Psalm 89:19). Die Vader het vir die Seun gesê, “Die mensdom gaan swak en hartseer word as gevolg van hulle sonde en gaan hulpeloos wees om hulle weg terug na My toe terug te vind. Ek stel jou aan as my Heilige om te help om hulle terug in my guns te bring.”

Volgende hoor ons die Seun se eie verbondswoorde: “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande” (Psalm 40:9). Alles wat Jesus op aarde gedoen het, was om die verbond te volbring: “Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ‘n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek” (Johannes 12:49).

Die Bybel verklaar hierdie vereistes baie duidelik. Jesus moes Homself van alle hemelse heerlikheid ontneem en ‘n menslike liggaam aanneem: “Maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword” (Filippense 2:7). Hy moes verwyte en lyding verduur, “’n man van smarte” bekend met droefheid. Hy moes opgroei om deur die wêreld gehaat te word: “Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie (Jesaja 53:2). Na alles, Hy moes Homself onderwerp aan die hande van bose manne en in groot pyn sy lewe aflê as ‘n offer vir die sonde van die mensdom. Deur versoening te maak, moes Hy God se wraak vir ‘n seisoen verduur.

God het die tipe bediening wat sy Seun sou onderneem om die mensdom te verlos, uitgelê. Hy het aan Jesus gesê, “Jou bediening gaan dié van ‘n priester wees. Ek ken al my kinders van die grondlegging van die aarde af en nou gee Ek hulle as ‘n kudde aan jou oor om hulle Herder te wees.” Jesus het op die aarde getuig, “Al wat die Vader my gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Johannes 6:3).

Laastens het die Vader die Seun opdrag gegee, “As jy kies om te gaan, sal hierdie werke van jou vereis word: Jy moet die goeie tyding aan die nederiges verkondig, die gebrokenes genees, vryheid aan die gevangenes verkondig, tronkdeure vir hulle van gebonde is, oopmaak, die swakhede van die swakkes dra, die onkundiges verdra, hulle swakhede met jou krag versterk, die trop voed, hulle jou op jou hart dra, die jonges versigtig lei, jou krag aan die swakkes leen, hulle lei met jou hele raad, hulle belowe om die Heilige Gees te stuur om die werk van hulle vryheid uit te dra, en hulle saam met jou na heerlikheid te bring.”

Op Sy beurt, het die Vader aan sy Seun ewige beloftes gegee. Hy sou Hom die Heilige Gees sonder perk gee: “Die Gees van die Here HERE is op My” (Jesaja 61:1). Hy sal altyd met Hom wees, oor Hom waak om Hom te bewaar: “Ek, die Here, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies” (Jesaja 42:6). Daarmee saam, sou die Vader elke moedeloosheid van die vyand teenwerk: “Hy sal nie dof brand of geknak word nie, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op sy leer” (Jesaja 42:4). En Hy sou sy heerlikheid in sy Seun vertoon: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie” (Filippense 2:9-10). Wanneer Jesus se werk klaar was, sou die Vader Hom terug na heerlikheid bring: “Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?” (Lukas 24:26).

Dit is al die voorwaardes van die verbond wat op swart en wit uitgelê is vir die wêreld om te weet. Dit is nie vir ons verborge nie, maar oop en bloot, omdat ons daardeur bemoedig moet word!

Jesus het aan elke vereiste van die ooreekoms voldoen.

As ons nou die evangelies lees, sien ons dat alles wat Jesus op aarde gedoen het, was om te voldoen aan al die vereistes van die ooreekoms wat Hy met sy Vader gemaak het. Hy het agter die verlore skape aangegaan, oë van blindes oopgemaak, die dooies opgewek, die tronkdeure van die dood oopgemaak, woorde van ewige lewe gespreek, wonderwerke gedoen, duiwels uitgedryf en allerhande siektes genees. In elke vers van die evangelies, het Jesus die dinge van die Vader volbring waarvoor Hy Hom gestuur het.

Deur dit alles heen, het Jesus sy Vader se verbondsbeloftes aan Hom bewillig: “My God is my sterkte” (Jesaja 49:5). “Ek sal my vertroue op Hom stel” (Hebreërs 2:13). Die Vader se getroue woord het Jesus deur die folterende dood gedra: “Ek was nie wederstrewig nie; Ek het nie agteruitgewyk nie. Ek het my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare uitpluk; my aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie” (Jesaja 50:5-6).

Toe Jesus sy laaste gebed geuiter het, sien ons weereens die oop verbond hantering tussen Vader en Seun: “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was” (Johannes 17:5). En voor Hy teruggegaan het na heerlikheid, het Jesus die Vader aan Sy deel van die verbond herinner: “Vader, die uur het gekom; verheerlik U Seun, sodat U Seun U ook kan verheerlik... Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring” (Johannes 17:1,4).

Wat het dit alles met jou en my te doen? Dit is ‘n beeld van God se liefde vir sy geliefde skepping! Hy het hierdie verbond gevorm omdat Hy onwillig was om een enkele kind aan vernietiging te verloor. Jesus sê hier, “Vader, Ek het my deel van die verbond vervul. Ek het die verlossing van die mensdom bewerkstellig en Ek het U liggaam een gemaak. Laat ons nou praat oor wat met my saad, dit is almal wat in My glo, gaan gebeur.”

Kortliks, God gee sy Seun, die Seun gee sy lewe, en ons kry al die voordele. “En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel... Ek sal My verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie” (Psalm 89:30,35). Op hierdie punt het Jesus aan die Vader gesê, “Ons het ooreengekom dat Ek almal wat op my vertrou in die verbond kan inbring. Ek vra U om hierdie geliefdes onder dieselfde verbondsbeloftes in te bring wat U aan My gemaak het.” “En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons” (Johannes 17:11).

Was die Vader getrou aan die vereistes van die verbond? Het Hy Jesus gelei soos Hy belowe het? Het Hy Hom deur al sy beproewings gedra en Hom na heerlike oorwinning huistoe gelei? Ja, verseker! En die Vader het ‘n plegtige eed afgelê om dieselfde vir ons te doen.

Jesus het gesê, Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar” (Johannes 17:15). “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). In der waarheid het Christus gesê, “Vader, heilig hulle deur U waarheid. Maak hulle heilig en rein en bewaar hulle van die bose. Wees met hulle deur al hulle versoekings. Laat die beloftes wat U aan my gegee het, ook hulle s’n wees.”

Deur die woord van sy verbond in liefde te hou, het die Vader sy heerlikheid aan die wêreld vertoon: “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het” (Johannes 17:22-23).

Die volgende keer wat jy met ‘n boesemsonde sukkel, mag jy ‘n stem hoor wat jou aankla: “Jy het te ver gegaan en te veel kere gesondig. God het jou aan ‘n slegte gesindheid oorgegee. Jy is onrein, sleg, ‘n skande vir die evangelie. Jy het die Heilige Gees heeltemal van jou lewe af verdryf.” Wanneer dit gebeur, herinner God, die duiwel en jouself: “Ek is een in verbond met die Vader en Seun. Jesus het die verbond mede-onderteken met Sy eie bloed, en die Vader het belowe om my deur al my beproewinge te bewaar. Hy sal my hand vashou, maak nie saak wat kom nie en Hy sal nooit sy liefde van my af wegneem nie. Hy sal my na oorwinning lei!”

Deur Sy verbond aan ons te openbaar, wil God enige twyfel wat ons oor sy vermoë het om ons te bewaar, wegneem. Dit is asof Hy sê, “Ek gaan jou behandel asof jy geensins enige geloof het nie. Ek gaan so ‘n vaste verbond onder eed met jou sluit dat jy geen ander keuse gaan hê as om in My te glo nie.” Ons moet in Christus bly — op Hom vertrou, op Hom staatmaak. As ons dit doen, sal ons verseker Sy heerlikheid sien!