RUS IN DIE LIEFDE VAN GOD

David Wilkerson (1931-2011)

Glo jy dat jou geloof swak is? Het jy pligsgetrou gebid oor ‘n behoefte en God geglo met jou hele hart dat Hy sou voorsien, en jy het nie gesien dat dit verhoor word nie? Jy lees die heerlike beloftes oor alle dinge wat moontlik is vir diegene wat glo; “En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo” (Matthéüs 21:22). “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry” (Markus 11:24). En jy het hierdie beloftes opgeëis! Maar so hard as wat jy probeer – regtig, werklik glo – word jy dikwels verward gelaat, omdat die antwoord óf uitgestel óf nie in sig is nie.

Sommige glo daar is slegs twee redes waarom jy nie kry waarvoor jy gevra het nie: óf daar is fout met jou geloof, óf daar is sonde in jou lewe. Jy word gedwing om te glo dat God die antwoord moet weerhou totdat jou geloof genoeg verbeter het om Hom tevrede te stel. Of die kwaliteit van jou geloof het nie by God se kriteria van verhoorde gebed uitgekom nie of miskien het jy die verkeerde woorde gesê of ‘n “negatiewe belydenis” gemaak.

My vriend, daardie soort teologie is dwaas en dit is ‘n klap in die gesig van ons liefdevolle hemelse Vader. God doen wonderwerke in antwoord op die gebed van geloof en elke belofte in God se Woord is waar. Maar daar is iets wonderliks oor die manier waarop God werk. Hy word nie gemotiveer om vir ons op te tree as gevolg van ons geloof alleen nie. God is liefde, en dit is wat Hom motiveer om op te tree.

“As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie” (2 Timótheüs 2:13). My geloof, jou geloof, alle geloof moet rus op die goedertierenheid en sorgsaamheid van ons hemelse Vader.

“Maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae, spreek die HERE” (Jeremia 9:24). Laat ons juig in die standvastige liefde en goedertierenheid van ons Vader vandag.