Nie Meer Vreemdelinge Nie

Gary Wilkerson

God het die mens geskep om gemeenskap met Hom te hê. Sy ewige voorneme was dat die mens deel sou hê aan sy Drie-enige gemeenskap van liefde, aanvaarding, teerheid en ware kennis van mekaar. Sonde het die wêreld binnegekom en hierdie hele verhoudingskonsep vernietig, en saam met sonde, het skande, vervreemding, skeiding en hopeloosheid gekom. Maar toe het Christus op die toneel verskyn!

Onthou “dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het ... so is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (Efésiërs 2:12-14,19).

Paulus het gepraat van die persoonlike verandering wat kom deur die krag van die kruis van Jesus Christus. Maar hy praat ook daarvan om vrede en herstel te bring vir gebroke interpersoonlike verhoudings. Waar jy eens in vyandskap, vrees, skeiding en angs met ander omgegaan het, kan jy nou met versoening, vrede en liefde lewe. Jy word regverdig gemaak in Christus, en daardie muur van woede en veragting is weg. Van nou af sal jy in liefde en vrede en aanvaarding en vryheid en genesing wandel. Woorde wat teenoor jou gesê word, mag dalk steeds seermaak, maar jy sal nie ‘n muur van vyandskap oprig soos jy in die verlede gedoen het nie.

Die Woord van God adresseer dit op hierdie manier: “As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (Romeine 12:18). Met ander woorde, God sal vir jou genade gee om te vergewe en barmhartig te wees teenoor ander, maar dit mag dalk nie goed ontvang word nie. Nietemin, jy kan onthou “dat jy sonder Christus was,” maar dit is in die verlede. Jy is nou ‘n lid van die huishouding van God en jy is vry as gevolg van die offer van Christus. In hierdie wonderlike nuwe posisie, lewe jy nou in sy oorwinning!