Vrede en die Heilige Gees

David Wilkerson (1931-2011)

Aan wie skenk Jesus sy vrede? Jy dink miskien, “Ek is nie waardig om in Christus se vrede te leef nie. Ek sukkel te veel in my lewe. My geloof is so swak.”

Dit sou goed wees om die manne aan wie Jesus die eerste keer sy vrede gegee het in oënskou te neem. Nie een van hulle was dit waardig nie, en niemand het die reg daarop gehad nie.

Dink aan Petrus. Jesus was op die punt om vrede te skenk aan ‘n bedienaar van die evangelie wat binnekort vloeke sou uiter. Petrus was vurig in sy liefde vir Christus, maar Hy sou Hom ook verloën.

Die ander dissipels was nie méér regverdig as hy nie. Hulle was smoorkwaad vir Jakobus en Johannes omdat hulle probeer het om hulself bo die ander te verhef. Daar was Thomas, ‘n man van God wat in twyfel vasgevang was. Al die dissipels het so min geloof gehad, dat dit Jesus verstom en bekommer het. Trouens, in Christus se mees ontstellende uur sou hulle almal Hom verlaat en vlug. Selfs na die Opstanding, toe die woord uitgegaan het dat “Jesus opgestaan ​​het”, was die dissipels traag om te glo.

Wat ‘n toneel: hierdie mans was vol vrees, ongeloof, verdeeldheid, hartseer, verwarring, mededingendheid, trots. Tog het Jesus aan hierdie bedroefde diensknegte gesê: “Ek sal julle my vrede gee.”

Die dissipels was nie uitverkore omdat hulle goed of regverdig was nie; dit is duidelik. Dit was ook nie omdat hulle talente of vermoëns gehad het nie. Hulle was vissermanne en dagarbeiders, sagmoedig en nederig. Christus het die dissipels geroep en gekies omdat Hy iets in hulle harte raakgesien het. Toe Hy na hulle gekyk het, het Hy geweet dat elkeen van hulle hul aan die Heilige Gees sou onderwerp.

Op hierdie stadium was al wat die dissipels gehad het, 'n belofte van Christus van sy vrede. Die volheid van daardie vrede moes nog op Pinksterdag aan hulle gegee word. Dit is toe dat die Heilige Gees in hulle sou kom woon. Ons ontvang die vrede van Christus deur die Heilige Gees. Hierdie vrede kom na ons toe as die Gees Christus aan ons openbaar. Hoe meer van Jesus jy wil hê, hoe meer van Hom sal die Gees vir jou wys – en hoe meer van Christus se werklike vrede sal jy hê.