Goeie Nuus en Slegte Nuus

Tim Dilena

Het iemand al ooit vir jou gesê: “Ek het goeie nuus en slegte nuus ... Watter een wil jy eerste hoor?”

Ek sê altyd ek wil eers die slegte nuus hoor omdat ek op ‘n goeie noot wil eindig. Die slegte nuus is dat ons nie weet hoe om te bid nie. Selfs die “beste” gebedskrygers is nie goed genoeg nie. Wat die res van ons betref, kan ons dink: “Ek het nie ‘n goeie genesingsgebed nie. Ek weet nie hoe om vir die Moslem-nasies te bid nie.” As jy dit gedink het, is jy beslis nie alleen nie. Ek het al in gebedsbyeenkomste gesit en gebid dat hulle my nie sal vra om te bid nie! Selfs die apostel Paulus het dit gesê: “Want ons weet nie reg wat ons moet bid nie ...” (Romeine 8:26, AFR53).

Die goeie nuus is dat die Heilige Gees, God in ons, ons help om te bid. Jy kan 10 minute lank bekeerd wees en reeds kragtig in gebed wees, want dit hang nie van jou af nie.

“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen” (Efésiërs 3:20).

Paulus sê: “Dit hang nie van jou af nie. Jy hoef nie welsprekend te wees of in Old King James te praat nie. Jy kan bid – iets sê, enigiets sê – en God sal dit vir jou regmaak.”

Ons dink: “As ek nie die regte ding bid of iets verkeerd doen, gaan daar niks gebeur nie.” Niks kan verder van die waarheid wees nie. God gaan verder as ons eenvoudige woorde. God gaan verder as wat jy vra. Hy gaan verder as die woorde wat ons nie eers weet hoe om te sê nie. Selfs as ons gebede nie die paal haal nie, neem God hulle ver bo alles wat ons sou dink om te vra. God neem wat ons sê, maak dit reg en plaas dan krag daaragter, wat soveel druk van ons af wegneem.

Ons bid: “Help,” en God dink: “Ek weet hoe om dit vir hulle te interpreteer.”

Nadat hy ‘n middestad gemeente in Detroit vir dertig jaar lank bedien het, het Pastoor Tim vir vyf jaar by Brooklyn Tabernacle in New York Stad en vir vyf jaar in Lafayette, Louisiana bedien. Hy het Senior Pastoor van Times Square Kerk geword in Mei 2020.

Tags