Deur Jesus Afgesonder

David Wilkerson (1931-2011)

Die apostel Paulus leer ons: “Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik” (1 Korinthiërs 12:27). Dan sê hy meer spesifiek: “Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie” (12:14). 

Paulus sê vir ons: “Kyk na jou eie liggaam. Jy het hande, voete, oë en ore. Jy is nie net ‘n geïsoleerde brein wat nie verbind is aan die ander lede nie. Wel, dit is dieselfde met Christus. Hy is nie net die kop nie. Hy het ‘n liggaam, en ons bestaan uit die lede daarvan.”

Paulus slaan die spyker op die kop as hy sê: “Die beker van danksegging wat ons met dankseggeng seën, is dit nie die gemeenskap van die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap van die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan een brood” (1 Korinthiërs 10:16-17). Eenvoudig gestel, ons word almal gevoed deur dieselfde kos: Christus, die manna uit die hemel. “Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld lewe gee” (Johannes 6:33). 

Jesus het dikwels in gelykenisse met sy dissipels gepraat en elke gelykenis bevat ‘n verborge waarheid van God. Hierdie verborgenhede is al voor die skepping deur Vader, Seun en Heilige Gees gedeel: “Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matthéüs 13:35). Jesus getuig dat hierdie verborge waarhede slegs geopenbaar word aan diegene wat tyd maak om dit na te speur. 

Jesus het gesê: “Ek is die brood van die lewe ... Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het ... so sal hy wat My eet, ook deur My lewe” (Johannes 6:35,51,57). Die toon beeld van brood hier is belangrik. Ons Here sê vir ons: “As jy na My toe kom, sal jy gevoed word. Jy sal aan My verbind wees, as ‘n lid van my liggaam. Daarom sal jy krag ontvang uit die stroom van lewe wat in My is.” Trouens, elke lid van sy liggaam put krag uit een enkele bron: Christus, die hoof. Alles wat ons nodig het om ‘n oorwinnende lewe te lei, vloei van Hom af na ons toe. 

Hierdie brood is wat ons onderskei as lede van sy liggaam. Ons is afgesonder van die res van die mensdom omdat ons uit een brood eet: Jesus Christus. “Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood” (1 Korinthiërs 10:17).