Die Nuwe Verbond en die Verborgenheid van die Here

“Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak” (Psalm 25:14).

Ek glo God het die woord “verborgenheid” baie noukeurig uitgekies om in hierdie gedeelte te gebruik. Die Hebreeuse stamwoord daarvoor beteken “om waaksaam te wees, op die uitkyk te wees, wag te staan, om ‘n vertroueling te wees.” Die konsep wat hier uitgedruk word is kragtig: God het ‘n verborgenheid of geheimenis wat Hy slegs met gelowiges sal deel wat gewillig is om dit met ‘n passie na te jaag. Hierdie geselskap van soekers sal sy vertrouelinge word slegs deur ‘n diepe honger te hê om Sy hart te ken.

Die Here deel in wese nie sy geheim met enigeen, selfs binne-in die liggaam van Christus nie. Ligsinnige Christene sal dit nie verstaan nie en gewone gelowiges sal nooit deel uitmaak daarvan nie. Dit is waarom die Bybel dit ‘n verborgenheid noem: Dit is slegs vir Sy vertrouelinge.

Ek glo die geheim van die Nuwe Verbond is ‘n lewenslyn wat God uitgooi vir elke Christen wat in ‘n modder van sonde wegsink. Daardeur roep Hy uit na elke kind wat gebind is deur ‘n begeerte, gewoonte of bose vesting en sê, “Neem besit van My verbond. Dit sal vir jou ‘n lewenslyn wees en ‘n ontsnapping van sonde bied voor jy weggevoer word.”

Ek sê dit egter so sagkens as moontlik – slegs ‘n handjievol Christene sal hierdie lewenslyn begryp. ‘n Gelowige kan al die heerlike beloftes van die Nuwe Verbond memoriseer, die ingewikkelde teologiese beskrywings bemeester en die al die Bybelse verbonde naspeur van Adam tot die Nuwe. Maar slegs enkeles sal hulle gees daarop instel om die Here ywerig te soek vir ‘n begrip van sy lewegewende Nuwe Verbond.

Hier is net ‘n paar van die beloftes en voorsiening wat God vir ons gee deur die Nuwe Verbond: ‘n nuwe hart, ‘n regverdige vrees van God, heerskappy oor sonde, Heilige Gees afsterwe van alle sonde binne-in ons, ‘n hart om die Here te ken, Sy wette in ons harte geskryf sodat ons nie teen Hom sal sondig nie. God beloof ook dat ons geleer sal wees deur Sy eie Gees en bewaar sal word van struikeling; dat ons in sy weë sal wandel, sy goeie welgevalle sal doen en sal volhard tot die einde toe – alles deur die inwonende krag van die Heilige Gees.

Jy kan moontlik redeneer, “As God die Nuwe Verbond verorden het – as Hy ‘n eed gesweer het om hierdie wonderlike dinge te doen, en Sy Woord is onveranderlik – waarom moet ek dan bid vir wat Hy reeds verorden het? Waarom moet ek Hom vra om my te verlos wanneer Hy reeds belowe het om vir my te doen wat ek nie vir myself kan doen nie? Moet ek nie net in geloof op Hom wag nie? As Sy verbondsbeloftes bindend is, waarom moet ek glo daar is voorwaardes daaraan verbonde soos gebed en ywerige soeke?”

In reaksie hierop, laat my toe om jou te vra: “Waarom sou Jesus, wat die Nuwe Verbond met sy Vader gesluit het, ywerig bid soos Hy so dikwels gedoen het? Waarom sou Hy inderdaad die Vader drie keer vra vir ‘n antwoord op net een saak? En waarom sou Hy ‘n vrou prys in ‘n gelykenis wat aangehou het om ‘n regter lastig te val totdat sy die uitspraak gekry het wat sy wou hê?

Ek hoop om vir jou te bewys dat God die verborgenheid van die Nuwe Verbond laat afhang van die voorwaarde om Hom te soek met ons hele hart. Hierdie voorwaarde en sy meegaande dissiplines – gebed, Bybelstudie, ywerige soeke – kan nie op enige manier die Nuwe Verbondsbeloftes vir ons verdien nie. Maar dit berei wel ons harte voor om dit te ontvang wat God beloof het.

Ons sien ‘n patroon dwarsdeur die Bybel: God sê, “Ek gee vir jou hierdie beloftes – maar Ek wil hê jy moet my aangesig soek totdat jy ten volle daarvan oortuig is.”

Daar was nog nooit ‘n tyd, van die grondlegging van die wêreld af, waar God se mense nie onder ‘n verbond was nie. Goddelike mans en vroue het egter steeds gevas en gebid dwarsdeur die eeue heen en die Here aan Sy Woord gehou. Die Bybel gee vir ons verskeie voorbeelde hiervan:

1. Jakob was ‘n vaste belofte gegee deur God in die verbond met Abraham. Die Here het beloof om sy skild te wees, sodat niemand hom skade kon aandoen nie. Verder het God hom verseker, “Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen” (Génesis 32:9). Watter kragtige beloftes was dit nie. Wie kon ‘n man teëstaan wie se God met hom was soos Jakob s’n?

Steeds, Jakob was verplig om die verbond te bid. Hy het uitgeroep, “Here, U het beloof om goed aan my te doen as ek teruggaan. Nou hou ek U aan daardie belofte” (Génesis 32:10-11, my parafrase). Die Skrif sê vir ons dat Jakob daarna ‘n hele nag gestoei het met ‘n engel van die Here. Hy het vir die Here gesê, “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën” (Génesis 32:26). Hy het die Here aan Sy verbond gehou.

2. Jesus het nie net die verbondsbeloftes geken omdat Hy ‘n verbond gesluit het met die Vader nie; Hy was die Nuwe Verbond verpersoonlik. Al die verbondsbeloftes het in Hom gewoon. Jesus het egter self gebid en gevas.

Op een stadium, het ‘n groep desperate mense ‘n duiwelbesetene, mal jongman na Jesus gebring. Sy dissipels was nie in staat om die demoniese gees uit te dryf nie. Toe Jesus egter die duiwel bestraf het, het die demoon dadelik die jongman verlaat. Die Bybel sê, “Die seun het gesond geword van daardie uur af” (Matthéüs 17:18).

Jesus se dissipels was verleë. Die Skrif sê vir ons, “Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie? En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! En hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie” (Matthéüs 17:19-21).

Dink aan die implikasies van wat Jesus hier sê. Hy bedoel dat as Sy dissipels tyd deurgebring het in gebed en vas, hulle beide die geloof en die mag sou gehad het vir die seun om verlos te word. Hy het ook geïmpliseer, “Ja, Ek het die mag om hierdie demoon uit te dryf, omdat Ek God in die vlees is. Ek stel egter ook vir julle ‘n voorbeeld deur my eie gebed en vas.”

So, wat is die verborgenheid wat God met Sy kinders wil deel?

Die verborgenheid van die Nuwe Verbond is nie een of ander skielike stortvloed van bonatuurlike krag in ons wat ons in staat stel om ‘n oorweldigende versoeking te weerstaan nie. Dit is liewer God se stil, rustige stem wat Sy liefde aan ons openbaar te midde van ons mislukking en beproewing.

Ek wil hierdie waarheid illustreer deur verskeie briewe wat ons bediening ontvang het. Een suster in Christus het geskryf: “Sedelike swakheid en mislukking – dit is ek. Ek gaan voortdurend terug na my ou sondes. Ek wil nie my Here seermaak nie, en ek bid tot Hom om my te keer om daarin terug te val. Soms voel ek egter Hy is moeg vir my mislukkings in dieselfde gebied die hele tyd. Maar in werklikheid hoor ek nooit van Hom te midde van my versoeking nie. Ek voel vervreemd.”

Kontrasteer nou hierdie brief met ‘n e-pos van ‘n jongman in Christus: “Laasnag was ek in gebed en het groot angs in my siel beleef. Ek het my Here teleurgestel en gesondig. My hart het binne-in my gebreek. Ek het voor hom geween. Maar al waaraan ek kon dink, was dat ek te ver gegaan het. Ek het Hom gevra, “Hoe kan U my steeds liefhê? Het U, Here? Of het ek te ver gegaan?” Ek het uitgeroep vir ‘n enkele woord van Hom om my te laat weet dat Hy my steeds liefhet.

“Toe, in volmaakte tydsberekening, het u boodskap opgedaag, ‘Bewaar Jouself in die Liefde van God.’ Ek was so oorweldig en verstom deur die liefde van die Here terwyl ek dit gelees het. Ek het my dadelik bekeer, en my hart was gevul met God se liefde. Dit het gemaak dat ek Hom soveel liewer het.”

Hierdie jongman staan nou in die verwondering van God se liefde, en sy liefde vir Jesus het dieper geword. Waarom? Toe dit gelyk het of Satan die stryd gewen het, het hy ‘n openbaring van God se vergewende liefde en herstellende genade ontvang.

Die Nuwe Verbond belowe dat God barmhartigheid sal bewys aan al ons ongeregtighede en sondes. Dit is egter nie ‘n nuwe dinge nie; die Here was nog altyd barmhartig in al die Bybelse verbonde. Wat anders is aan die Nuwe Verbond, is hoe God Sy barmhartigheid bewys: Hy stuur Sy Gees om ons te bemagtig met ‘n openbaring van die almagtige genade en goedertierenhede van Jesus Christus, op die heel laagste punt van ons Christelike wandel – selfs wanneer ons wegsink in skuld en mislukking.

Ek is oortuig die liggaam van Christus moet nog verstaan net hoe wonderlik God se genade vir ons is.

Beskou ‘n Christen wat die Here jarelank liefhet. Hy is ‘n biddende, getroue gelowige met ‘n sagte gees en die heerlike teenwoordigheid van Jesus wat om hom is. Maar skielik word hierdie heilige oorweldig deur ‘n kragtige versoeking. Hy gee daaraan toe, en skielik word hy teruggetrek in ‘n ou, boesemsonde. Miskien is hierdie gebondenheid ‘n uitbarsting van humeur, of swerms van bose gedagtes, of louwarmheid, of groot sonde soos dronkenskap, hoerery of owerspel.

Die duiwel val dan skielik hierdie Christen aan en gebruik die enigste ware krag wat hy teen hom het: leuens. Hy probeer die gelowige oortuig van die volgende:

1. Hy het teen die lig gesondig.

2. Hy te veel kere gesondig nadat hy oortuig was vir so lank.

3. Hy het een keer te veel gesondig.

4. Hy het ‘n grens oorgesteek en is nou buite bereik van God se barmhartigheid.

Hier, by hierdie beslissende punt, is waar die verborgenheid van die Nuwe Verbond geopenbaar word. In plaas van om daardie Christen te veroordeel, bearbei die Heilige Gees hom en sê, “Keer gou terug na die besprinkeling van Jesus se bloed. Bekeer jou en aanvaar vergifnis. Bly in die liefde van God. Jou vergifnis is onvoorwaardelik. Keer nou terug na jou wandel met My.”

Wat gebeur op hierdie oomblik? Die Heilige Gees is aan die werk – en openbaar die liefde van God aan daardie mens, en veroorsaak dat hy hom verwonder oor die Here se barmhartigheid en genade. En deur dit te doen, trek hy hom in ‘n groter liefde vir Jesus in.

Dit is die bewarende krag van die Heilige Gees. Wanneer jy neerslagtig en hartseer is – wanneer jy dink jy het ‘n grens oorgesteek, en dit is alles verby vir jou – kom die Gees onmiddellik om jou op te lig en terug te bring in God se genade in. Vir elke stukkie van jou sonde is betaal, maak nie saak hoe verskriklik dit mag wees nie. Hoe? Jesus het die prys ten volle betaal. God het deur sy verbond gesê, “Ek gaan barmhartig teenoor jou sonde wees – en Ek het My Seun vir jou gestuur as die seël van My verbond. Jou vrees sê vir jou Ek het die volste reg om jou te verdoem. Maar my verbond sê My Seun het alles wat jou ooit kon veroordeel op Homself geneem. Jy is nou vry.”

Hier is waaroor die verbond handel. Dit is God se liefdesboodskap aan sy kinders wat sê, “Ek het jou so lief, Ek sal nooit toelaat dat die duiwel jou kry nie. Ek sal nie toelaat dat hy jou lewe oorneem nie, selfs af stel jy My teleur. Dit is onmoontlik vir jou om ooit té ver weg te dwaal van My liefde. Daar is geen plek in die hemel of aarde waar jy dit kan ontsnap nie.”

Die verborgenheid van die Here is ‘n lewensbevrydende openbaring van sy goedertierenheid teenoor ons op die laagtepunt van ons mislukkings. Dit is die Heilige Gees wat ons toerus met ‘n kragtige openbaring dat niks ons kan skei van die verbondsliefde van God nie. Hy is nie kwaad vir jou nie – so haal jou oë van jou sonde af, en ontvang met blydskap die vrye toegang wat jy steeds na die Vader, deur die kruis van Christus het.

Hierdie verborgenheid sê dat jou Verlosser wil hê jy moet juig en bly wees – omdat jou vorige, huidige en toekomstige sondes verwyder is. Halleluja!