‘n Kuur vir Jou Bekommernis

Jim Cymbala

Geestelike kwale kan ‘n negatiewe invloed hê op almal rondom ons en op ons vermoë om vir Christus te getuig. Baie mense strompel deur hulle dae met ‘n suur, geïrriteerde gees wat afbrekend is vir hulleself en vir ander.

“Bekommernis in die hart van ‘n mens druk dit neer” (Spreuke 12:25). Dit is nie algemene sielkunde nie maar die waarheid uit God se Woord. Ons kan nie die wedloop van die lewe hardloop terwyl ons deur ‘n bitter gees neergetrek word nie. Voortdurende bekommernis beroof talle mense van die geestelike hulpbronne wat God met blydskap voorsien. Uiteindelik verpletter kommer ons onder die gewig daarvan.

Die woord vir “bekommernis” word in die King James-weergawe vertaal as “swaarmoedigheid,” wat duidelik die las uitbeeld wat bekommernis op ons plaas. Bekommernis eis sy tol op baie mense in die Liggaam van Christus. In plaas daarvan om met geloof te lewe, is ons geneig om met bekommernis te lewe. Ons gees strompel moeg deur die lewe voort in plaas van sweef soos ‘n arend soos God belowe het. Ons word geestelik op die grond gehou deur bekommernis wat ons situasie net laat versleg.

Daar is ook die “verpletterde gees” van diepe droefheid. Die apostel Paulus het die gelowiges in Korinthe gewaarsku om ‘n broer wat gefouteer het en deur die kerk bestraf was te vertroos. Hierdie broer het sy sonde bely en Paulus was besorg daaroor dat hy “nie miskien deur alte groot droefheid verteer word nie” (2 Korinthiërs 2:7). Op ‘n ander keer, het Paulus sy dankbaarheid uitgedruk dat God ‘n siek medebedienaar van die dood bewaar het en die apostel “droefheid op droefheid” gespaar het (Filippense 2:27). Paulus het die verlammende effek van ‘n hart oorweldig deur droefheid geken.

God bied ‘n kuur vir hierdie kwale en dit is eenvoudig die blydskap van die Here. Ware blydskap is nie blote geluk, ‘n gevoel wat met ons omstandighede fluktueer nie. Liewer, dit is ‘n diep, innerlike blydskap in God wat slegs die Heilige Gees kan bring. Hierdie blydskap is meer as medisyne, dit is ons krag! “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting” (Nehemía 8:10).

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.

Tags