Draai Die Pot Af!

Ons almal weet wat potjie of ‘n bredie is. Dit is die vleis-en-groente gereg wat jy in ‘n pot sit, prut en stadig kook en dan eet. Webster's Encyclopedic Dictionary bied egter ‘n ander definisie vir die Engelse woord “stew,” naamlik “a state if being agitated, disturbed” of “om in ‘n versteurde toestand te wees, ontsteld te wees.” Dieselfde definisie sluit ook die frase “stewing in ons’s own juices,” of “in jou eie pot kook”  – wat beteken, “om toe te laat dat moeilikheid en ergernis kook; om voort te gaan in ‘n ontstelde gemoedstoestand, humeure wat opvlam.”

Amerikaners is geneig om hierdie twee betekenisse van die woorde “stew” te laat ooreenstem. Wanneer ons ook al byvoorbeeld ons ontstelde emosies wil beskryf, dan gebruik ons kookterme. Byvoorbeeld:

Van ‘n ontstelde persoon word gesê dat hy “steam.” En ‘n erg woedende persoon word aan gedink as “boiling mad.” As iemand oordadig kwaad is, “his mind is fried.” Menslike emosies word soms beskryf in terme van kraanwater: warm, koud of louwarm.

Sulke uitdrukking kom heelwat in die werkplek voor. Talle mense beskryf hulle kantoor as ‘n “pressure cooker.” Die frase “turning up the heat” beteken om druk uit te oefen. As iemand traag is, sê sy medewerkers, “Iemand moet vuur onder hom maak.” En wanneer iemand nie die druk kan hanteer nie, word hy vertel, “As jy nie die hitte kan verdra nie, kom uit die kombuis uit.” Net so, as iemand voortuitgang maak, “kook hy rêrig.”

‘n Huis wat oorverhit is, word beskryf as so “warm soos ‘n oond.” En ‘n koue huis word gesê dit is “so koud soos ‘n vrieskas.”

In hierdie boodskap, wil ek fokus op die uitdrukking “in jou eie pot kook.” Trouens, Jesus het ewige waarhede onderrig deur alledaagse illustrasies te gebruik – gelykenisse, stories en bekende uitdrukkings van sy tyd. En ek glo, “om in jou eie pot te kook” is ‘n hedendaagse uitdrukking wat soveel aan ons kan openbaar van ons wandel met Christus.

Ek bid dat wat ek met jou wil deel oor hierdie uitdrukking, lewensveranderende waarheid sal bied!

Nie lank gelede nie, het ek ‘n boodskap verkondig oor ons behoefte om goed te doen aan diegene naaste aan ons. In daardie boodskap, het ek gepraat oor die sondigheid daarvan om maklik ergerlik of opgeblase te word.

Ek was so oortuig van sonde deur wat die Here vir my oor hierdie onderwerp gewys het, dat ek besluit het om ‘n doodskoot te gee aan hierdie sonde in my lewe. Na baie gebed en God soek, was ek oortuig dat ek oorwinning behaal het. Ek het gedink, “Deur God se genade, sal ek nooit weer maklik ergerlik word nie. Ek sal altyd stop en bid, tot tien tel en die Heilige Gees vertrou om my gees te kalmeer. Hy sal my help om die ander wang te draai en weg te loop.”

Wel, my “oorwinning” het net vier dae geduur. Dit is toe ek ‘n foonoproep ontvang het van ‘n intieme vriend – ‘n oproep wat my verras het. My vriend het iets gesê wat ek gevoel het diep sny – en ek was diep verontwaardig. Dit het my so erg ontstel, dat ek die gesprek kortgeknip het. Ek het nie die foon in sy oor neergesit nie – maar hy het geweet ek was ergerlik.

Daardie gesprek het ‘n vuur in my vlees aan die brand gesteek. Ek was ontsteld, seergemaak en kwaad. En my vleeslike pot het begin oorkook: woede, verontwaardiging, verdriet. Kortliks, ek het begin kook in my eie sop!

Ek het begin rondstap in my studeerkamer en het probeer bid – maar ek was so gepla en ontstel, dat ek skaars op Here gefokus kon bly. Ek het gebid, “God, daardie oproep het reguit uit die hel gekom! My intieme vriend het my afgesit en daar was geen rede voor nie. Dit moes die duiwel gewees het wat my probeer uitlok het. Ek hoef nie na daardie soort gemors te luister nie!”

Ek het toegelaat dat hierdie gedagtes vir omtrent ‘n uur lank prut. Toe, uiteindelik, het ek tot kookpunt gekom – en uitgeroep, “Here, ek kook regtig hieroor! Ek is warm onder die kraag – en stoom regtig!”

Dit was toe dat ek God se kalm, rustige stem gehoor het wat sê, “David, draai die pot af – maak die vlam nou dood! Jy kook in jou eie sop van seerkry, woede en haat, omdat jy diep seergemaak is. Maar wat jy besig is om te doen, is gevaarlik – en jy moenie waag om aan te hou kook nie!”

Ek het lank gelede reeds geleer dat waneer die Heilige Gees praat, betaal dit my om te luister. Ek het dadelik berou gehad en sy vergifnis gevra. Toe het ek gaan sit en begin dink: “Wat was dit wat my so ergerlik gemaak het? En waarom het ek dinge laat aanhou kook en prut binne-in my? Ek kan nie kwaad bly vir hierdie vriend nie – ons was reeds vir ‘n lang tyd intieme vriende. En ek weet ek gaan hom vergewe. So, waarom is ek ontsteld?”

Skielik het dit my getref: Die gekook en geprut binne-in my was nie die gevolge van daardie kwetsende gesprek nie. Nee – ek was kwaad omdat ek myself toegelaat het om weer maklik ergerlik te raak! Ek was ontsteld en kwaad vir myself – omdat ek vinnig weer verval het in ‘n ou gewoonte wat ek gedink het ek het oorwin.

Toe ek sien dat ek op die ou end nog nie daardie les geleer het nie – en maklik ergerlik geword het – het ek uitgeroep, “Here, ek sal nooit leer nie! U het vir my hierdie boodskap gegee en ek het dit aan honderde mense verkondig. Maar ek het self nie oorwinning daaroor in my eie lewe nie!”

Ek voel soos ‘n naelloper wat geval het in die resies. En ek het binne-in myself begin huil, “Here, ek wil so graag die prys wen om na u gelykenis te verander te word. Maar nou sien ek ek sal dit nooit maak nie! Na al hierdie jare van my wandel met U waarin ek u openbaring ontvang het en u gemeenskap geniet het, het ek steeds nie naby die eindpunt gekom nie. Ek het steeds woede in my hart – en ek reageer steeds met selfregverdigende trots. O, God, sal ek ooit soos Jesus word?”

Hier is wat die Here vir my gewys het:

Satan is so subtiel en misleidend in sy verleidings, dat hy diegene wat die naaste aan ons is, gebruik om ons ergerlik te maak!

Beskou Job se belewenis. Wie anders as die duiwel kon soveel kwetsende woorde in die mond van hierdie man se vrou geplaas het? Te midde van hulle verskriklike leiding, het sy vir Job gesê, “Vloek God en sterf!” Verbeel jou hoe diep daardie liefdelose woorde hierdie goddelike man moes seergemaak het – veral toe hy so neerslagtig was en ‘n behoefte gehad het aan bemoediging.

Dit was ook die duiwel wat hard met Dawid gepraat het deur sy broers. Toe Dawid se vader hom na die voorste linies gestuur het om kos vir sy broers te neem, het Dawid se ouer broer, Eliab gesê, “Waarom het jy eintlik afgekom, en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn afgegee? Ek ken jou vermetelheid en die boosheid van jou hart, want jy het afgekom om die geveg te sien” (1 Samuel 17:28). Met ander woorde: “Jy is hier omdat jy die skouspel van die oorlog wil sien!”

Wie anders as die duiwel kon Eliab se tong oorgeneem het om sulke afbrekende dinge te sê vir ‘n jongman wat die roeping van God besit het? Dank God, Dawid het nie gekook en huistoe gesluip oor hierdie woorde nie. Anders sou God se plan dalk omver gewerp gewees het!

Ek dink ook aan die woedende, beskuldigende woorde wat Josef se broers teen hom gespreek het. Satan het hulle hierdie woorde in die mond gelê – omdat hy wou hê dat Josef aan bitterheid moes vashou en jare deurbring deur te kook in die pot van woede, wraak en haat. Dank God, Josef het dit alles neergelê. Hy het nie toegelaat dat dit prut nie!

Selfs Jesus se broers het kwetsende woorde tot Hom gespreek. Hulle het sy goddelikheid in twyfel getrek en gesê, “As U hierdie dinge doen, vertoon Uself aan die wêreld” (Johannes 7:4). Met ander woorde: “As jy waarlik die Messias is, bewys dit dan! Gaan verrig jou wonderwerke in Jerusalem, sodat die hele wêreld kan sien.”

“Want ook sy broers het in Hom nie geglo nie” (Johannes 7:5). Daar is niks so pynlik as om deur jou familie beskou te word as ‘n bedrieër nie. Slegs die duiwel kon op daardie manier met Christus gepraat het, deur sy eie broers. Hy wou Jesus aanhits om kwaad te word!

Dit is gevaarlik om toe te laat dat jou pot kook – om die vlam brandend te hou en aan te hou kook in jou eie sop!

Braai of kook jy steeds oor een of ander kwetsende ding wat teenoor jou gesê of gedoen is in die verlede? Brand die vlam van woede steeds en bring dit jou tot ‘n stadige kookpunt, maar jy weier om dit af te skakel? As dit so is, dan is jy in gevaar om oor te kook! Jy sal gebrand word deur jou eie sop – lewenslank gebrandmerk! Die hoofopskrifte is vol voorbeelde hiervan:

‘n Man uit die Bronx het ‘n siedende woede teenoor die samelewing gehad en hy het toegelaat dat dit kook vir vyf jaar. Uiteindelik, in ‘n enkele oomblik van woede, het dit alles oorgekook en dit het gelei tot verwoesting. Op die ou end het hy die sewe-jaar-oue dogter van sy inwonende vriendin versmoor. Die meisie se ma het haar dogter se bene vasgehou, terwyl die kêrel haar probeer verdrink het in ‘n bad vol kokende water. Toe dit nie gewerk het nie, het hy bindlint gebruik om haar mond en neus toe te plak en haar te versmoor.
‘n Man is veroordeel tot lewenslange tronkstraf omdat hy die bestuurder van ‘n ander motor geskiet het. Die veroordeelde man was vir jare ‘n woedende bestuurder en het gekook met “padwoede.” Dit het eendag alles oorgekook toe die ander bestuurder verby hom gejaag en voor hom ingery het op die hoofweg. Die woedende man het tot langs hom gery, ‘n geweer uitgehaal en hom doodgeskiet.

Hierdie voorbeelde uit die wêreld is ekstreem. Maar hoeveel Christene is daar egter wat geen lewe het nie, omdat hulle vashou aan ‘n bitterheid wat prut en dan oorkook?

Ek ken ‘n geskeide vrou – ‘n Christen – wat dertig jaar van haar lewe gemors het. Sy kook steeds woedend teenoor haar voormalige man, wat haar verlaat het. Hy is nou al vir amper dertig jaar weer getroud – en sy vloek hom nog steeds. Sy kook in die sop van bitterheid!
‘n Vrou wat vir agt jaar geskei is, het ’n prentjie van haar vorige man op die muur geplak – en sy gooi pyltjies daarteen! Al waaraan sy jarelank gedink het, was die seer wat hy vir haar veroorsaak het. En nou is die enigste lewe wat sy ken om jaar na jaar in siedende woede deur te bring – wat oorkook in woede!
‘n Jong kelnerin wat my en my vrou onlangs bedien het, het duidelik oorgekook van bitterheid. Toe ek vir haar vra wat verkeerd is, het sy vir my ons vertel sy was eens ‘n Christen – maar sy het opgegee op God na ‘n aantal tragedies in haar lewe.

‘n Paar jaar gelede het haar broer op sy fiets gery toe ‘n motor teen hom gebots het en hy gesterf het. Kort daarna, het haar ma kanker gekry en gesterf. Binne ‘n paar maande daarna, het die jong vrou uitgevind dat sy suiker diabetes het.

Nou het sy gekook van woede teenoor God. Sy het gesê, “As daar ‘n God is, waarom het Hy soveel smart op my gelaai? Hy was nie daar vir my toe ek Hom nodig gehad het nie. Hy het nooit een van my gebede beantwoord nie. Daarom is ek nie meer ‘n Christen nie!”

Daardie jong vrou sterf ‘n stadige dood – en sy kook in haar eie sop! Sy het teenoor ons erken, “Ek voel afgestomp – ek voel niks meer nie. Ek leef nie, ek loop net hier rond.”

Miskien kan jy met haar identifiseer. Miskien kook jy van binne en is jy op die punt om oor te kook. Jy wil God nie vloek nie – maar jy voel Hy is nie daar vir jou nie. Daarom roep jy uit in frustrasie, “Here, ek voel niks van U af nie!”

Beskou dieselfde woorde wat gespreek is deur ‘n angstige man van God: “...ek wil spreek in die benoudheid van my gees, ek wil klae in die bitterheid van my siel... want my dae is nietigheid [nutteloos]” (Job 7:11-16). Job het oorgekook van frustrasie – kokend, omdat hy nie tragedie op tragedie wat oor hom gekom het, verstaan het nie.

Job het egter nie toegelaat dat die vure van bitterheid binne-in hom bly brand het nie. Hy het getrou die vlam afgedraai, totdat hy kon sê, “Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom...” (Job 13:15).

Die Skrif waarsku ons: “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wil julle verseël is tot die dag van verlossing” (Efésiërs 4:30). “En pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Hebreërs 12:15).

God sê, “Wees versigtig! Moenie dat selfs ‘n klein bietjie bitterheid wortel skiet nie. Dit maak nie saak wat aan jou gedoen is nie – maak nie saak hoe jy voel nie, of hoe onregverdig jy behandel is nie – jy mag nie ‘n wortel van bitterheid saam met jou dra nie. Dit sal jou doodmaak!”

Geliefde, as jy weier om jou bitterheid neer te lê – as jy aanhou prut, kook en stoom – kan jy oordeel bring op jou huis, jou gade, jou kinders en almal rondom jou. En dit kan jou letterlik doodmaak!

Slegs die Heilige Gees kan ons bemagtig om om die vlamme van onsteltenis dood te maak!

‘n Bitter persoon sal nie enigeen se raad luister nie. En ‘n bitter Christen sal nie eers na God se woord luister nie. Waarom nie? Ontsteltenis, bitterheid en haat sluit die oë en ore – en verhard die hart!

Soms sal ‘n persoon wat vir ‘n lang tyd gekook het, een of ander teken van bekering wys. Hy sal sê, “Ja, ek probeer ontslae raak van my woede – maar dit is moeilik.” Hy hou egter ‘n klein vlammetjie brandend – en met verloop van tyd, word sy bitter sop weer teruggebring tot by kookpunt.

Die profeet Hoséa vergelyk die menslike hart met ‘n oond. Hy sê hierdie oond kan verhit word deur die vure van wellus, woede, onsteltenis, bitterheid en afgodery:

“Hulle is almal owerspelers; hulle is soos ‘n oond wat bly brand, ook al het die bakker opgehou met stook, vandat die deeg geknee word totdat dit deursuur is...Ja, hulle het hul hart gemaak soos ‘n oond in hul arglistigheid; die ganse nag deur slaap hulle bakker, in die môre vroeg brand dit soos ‘n vuurvlam. Hulle almal gloei soos ‘n oond...” (Hoséa 7:4-7).

Die brood wat in hierdie oond gemaak word, verteenwoordig die vrug van ons lewens. Dink daaraan: Soos ‘n bakker, neem ons die deeg van ons lewe en knie die suurdeeg in: wellus, bitterheid en woede. Ons mag dalk die deeg op die blad naby die oond los sonder om dit te bak. En die vuur in die oond mag selfs begin om dood te gaan. Maar, die suurdeeg is in werklikheid steeds aan die werk – dit werk sy pad deur die deeg en versprei sy afbrekende eienskappe.

Geliefde, die suurdeeg in jou hart is tans hard aan die werk. Jy mag dalk nie die vuur in die oond stook nie. Maar uiteindelik sal die suurdeeg veroorsaak dat dit rys. En in daardie enkele oomblik van woede, sal dit die brood van ongeregtigheid voortbring!

Dit beskryf die lewens van talle Christene vandag. Hulle het ‘n bietjie suurdeeg in hulle harte – een of ander klein woedetjie of hartseer waarmee hulle nog nooit afgereken het nie – en hulle wil nie daarmee deel en hulle bekeer nie. In plaas daarvan, maak hulle asof dit nie bestaan nie. Hulle mag glo dat hulle harte rein en onskuldig is. Hulle mag selfs getuig, “Ek het niks teen daardie persoon nie. Daar is niks waaroor ek kook nie.”

Maar die suurdeeg van bitterheid is steeds binne-in hulle aan die werk – en dit bereik elke area van hulle lewe. En die tyd sal kom dat dit weer sal uitkom en oprys soos die gesuurde brooddeeg – omdat hulle nie daarmee afgereken het nie!

“’n Opvlieënde man verwek twis, en ‘n driftige man is ryk aan oortreding” (Spreuke 29:22). Enigeen wat ‘n verborge woede het, sal dit uiteindelik na vore laat kom – en hy sal op die ou end oorvloedig sondig!

Daar is ‘n soort gekook wat jy moontlik doen – en Satan sal alles in sy vermoë doen om jou daarvan te weerhou om dit af te skakel!

Laat my terugkeer na my beginstorie – oor die foonoproep wat ek van my vriend ontvang het. Die manier waarop ek gekook het na daardie gesprek, is die soort wat Satan wil hê jy moet doen: Dit is ‘n gekook oor jou mislukkings in jou pogings om verander te word om soos Christus te word!

Die apostel Petrus sê iets baie belangriks oor hierdie onderwerp: “Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly...Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:19-23).

Petrus het net beskryf hoe Jesus elke situasie in die lewe hanteer het. As mense Hom seergemaak het, het Hy nie teruggeveg nie. Toe hulle hom uitgeskel het, het Hy hulle nie gedreig nie. As hulle met Hom wou argumenteer, het Hy nie betrokke geraak nie. In plaas daarvan, het Hy net eenvoudig weggeloop. Selfs toe Hy die dood getrotseer het, het Hy nie een woord van protes aangeteken nie.

“Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21). Petrus het dit duidelik gemaak: Jesus moet ons voorbeeld wees vir ons gedrag.

Die apostel Paulus het bygevoeg, “As jy nie liefde het nie – dit is, die liefde van Christus – is jy niks nie!” Wat beteken dit egter om liefde te hê? Eenvoudig gestel, liefde beteken om baie dinge, wat ons pla, te verdra!

Volgens 1 Korinthiërs 13, beteken liefde om goedheid aan almal te bewys, met geen uitsonderings nie...met geen jaloesie hoegenaamds nie...nie te roem of jouself te bevorder nie...ander se belange bo jou eie te soek...nie maklik ergerlik te word nie...nie sleg te dink van enigeen nie...jouself nie te verbly wanneer iemand misluk nie, selfs nie ‘n vyand nie.

Beide Petrus en Paulus stel dit baie duidelik in hierdie gedeeltes: “Hier is ons bevel aan julle: Daar sal geen terugbaklei, geen wraak en geen dreigemente onder julle wees nie. In plaas daarvan, gee al julle ontsteltenisse, vrese en bitterheid aan Christus oor. Volg sy voorbeeld na!”

Ons harte mag antwoord, “Here, dit is wat ek wil hê!” En ons sal waarskynlik ons bes doen om dit te gehoorsaam. Aan die begin, sal ons moontlik ‘n paar oorwinnings kry en dan begin om selfvoldaan te voel oor wat God besig is om in ons te doen. Ons sê vir ons vriende, “God werk regtig in my – en ek verander!”

Maar skielik, van nêrens af, word daar ‘n pyl in ons hart ingeskiet. Iemand sê of doen iets wat in ‘n lelike, onverwagte gifpyl in ons indruk – en ons kry skielik ‘n vlaag woedende gedagtes. Dan, voor ons ons kan kry, skiet ons gifpyle terug na die een wat ons teëgegaan het!

Nie lank hierna nie, besef ons, ons het misluk. Ons het hard probeer – gebid, God gesoek, aan die waarheid vasgehou en baie suksesse geniet. Maar skielik het die vyand ingekom soos ‘n stroom – en ons het heeltemal misluk in ons poging om soos Jesus te wees!

As ons misluk en op ‘n liefdelose manier optree, vind daar ‘n ander soort gekook plaas – ‘n gebroei wat veroordeel!

Skielik word ons gekasty deur ‘n gevoel van onwaardigheid. Ons keer na binne en dink, “Ek het dit weer gedoen! Ek het glad nie verander nie. Ek sal nooit soos Christus wees nie. Here, ek wandel nou al jarelank met U – tog reageer ek soos ‘n baba, nie ‘n volwasse Christen nie. Waarom het ek nie verander nie?”

Geliefde, dit is presies waar die duiwel jou wil hê! Hy wil hê jy moet aanhou kook oor jou tekortkominge, jou bekommer oor ‘n gebrek aan groei en dink die resies is onmoontlik – sodat jy moedeloos sal word en uitval!

Die outeur van Hebreërs skryf, “...laat ons...met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Hebreërs 12:1). Jy moet eenvoudig geduld hê met jouself en met jou groei. Trouens, die resies sal voortgaan totdat Jesus weer kom. Ja, jy sal struikel, val en ontsteld word. Maar as jy misluk, moet jy opstaan en voortgaan!

God se woord praat van oorwin: “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld...” (1 Johannes 5:4). “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees en hy sal vir My ‘n seun wees” (Openbaring 21:7).

Om te oorwin is om “iets baas te raak en alle versoekings en struikelblokke te oorkom.” Wat is ons struikelblokke? Dit is elke nuwe reaksie in die vlees, elke mislukking om soos Christus te wees, elke opvlam van die humeur, bitterheid of ontsteltenis. Dit is struikelblokke om te oorwin en te bowe te kom!

Ek glo menigtes van mense wat eens die Here gedien het, leef nou in sonde en ongeloof, omdat Satan hulle oortuig het dat hulle nooit soos Christus sou word nie. Hulle het aangehou om foute te maak – en hulle het daarop gereageer deur hulself te kasty, terwyl hulle soos kompromitteerders gevoel het en gekook het oor hulle mislukkings. Uiteindelik het hulle net opgegee.

Ek vra vir jou – wat as Dawid gebroei en gekook het in sy mislukkings? Hierdie mans was voor die hele wêreld ontbloot as ‘n man wat owerspel en moord gepleeg het. Hy het geskryf, “...my sonde is altyddeur voor my” (Psalm 51:5). “Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos ‘n swaar pak het hulle vir my te swaar geword...Ek is krom, heeltemal geboë die hele dag staan ek in die rou” (Psalm 38:5-7).

Dawid het egter nie gekook in sy mislukkings nie. Hy het hom heelhartig bekeer – en hy kon sê, “U het my weeklag vir my verander in ‘n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord” (Psalm 30:11).

Die vinnigste manier om die “pot af te draai” is om op Christus se vergifnis te vertrou. En Christus is gereed om te vergewe te alle tye: “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep” (Psalm 86:3). “Wat al jou ongeregtigheid vergewe...” (Psalm 103:3). Amen!